Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 13

8

Оглавление

It ought to be easy ought to be simple enough, man meets a woman and they fall in love, but the house is haunted and the ride gets rough …

Bruce Springsteen, uit “Tunnel of Love” (Tunnel of Love, 1987)

Die middag vyfuur kry ek Carmen op die lyn. Ek het pas in my motor geklim om crèche toe te ry. Ek hoef nie eens te vra hoe dit met haar gaan nie, net aan haar stem hoor ek dit al.

“Die dokter was by my … Dit lyk nie goed nie, Steyn.”

“Ek is op pad. Net Luna oplaai en dan kom ek.”

Ek durf nie nog iets vra nie.


Met ’n kloppende hart en Luna op my arm loop ek in ’n gang van die onkologie-afdeling. Ek loop die kamer binne waar ek Carmen vanoggend alleen agtergelaat het. Sy is weer aangetrek en sit met ’n verfrommelde tissue in haar hand op die bed en staar by die venster uit. Haar oë is rooi en geswel. Langs haar lê nog twee tissues, in dieselfde toestand. Sy sien ons binnekom en slaan haar hand oor haar mond – dit is die gebaar wat sy maak as iets baie ergs gebeur het. Sonder ’n woord loop ek na haar en omhels haar. Sy druk haar kop teen my skouer en begin onbedaarlik huil. Ek durf steeds niks vra nie. Ek kán niks vra nie. Ek kan nie ’n woord uitkry nie. Sedert ons die hospitaal binnegekom het, het Luna nog nie ’n geluid gemaak nie.

Carmen gee Luna ’n soen en kry dit sowaar reg om gedwonge te glimlag.

“Hallo, my liefste lief,” sê sy en streel Luna se kop.

Ek maak keel skoon. “Vertel ’n bietjie,” sê ek. Dit moet tog gedoen word.

“Kanker. ’n Baie gevaarlike soort. Diffuus, noem hulle dit. Nie ’n knoppie nie, maar ’n soort ontsteking, en dit is al in my hele bors.”

Boem.

“Is hulle seker?” Ek kan aan niks méér dink nie.

Sy knik en snuit haar neus waarin daar tog nou g’n vog meer kan wees nie.

“Dit word mastitis karsidinges genoem …” – ek knik asof ek presies weet waarvan sy praat – “… as jy wil, kan jy gou by dokter Walters ’n draai maak, het hy gesê. Sy kantoor is ’n paar deure verder.”

Walters. Net die naam al. Ons het hom die afgelope week doodgeswyg. Die vrae van Thomas en Anne en Carmen se ma is sommer net so weggewuif, so asof daar nie ’n halfjaar gelede ’n moerse fout gemaak is nie. Miskien was dit toe al daar en was dit toe ook al te laat, was ons antwoord. Einde van die gesprek. Net die gedagte dat Carmen weens ’n mediese bokkerop kon doodgaan …

Walters sit agter sy lessenaar. Ek herken hom dadelik van ons ontmoeting ’n halfjaar gelede. Hy herken my nie. Ek klop aan sy oop deur.

“Ja …?” sê hy fronsend.

“Middag,” sê ek kortaf. Sodat hy nie vergeet dat hy die oorsaak van alles is nie. “Ek is Carmen van Dyk se man.”

“O, jammer, middag, meneer Van Dyk,” sê Walters en hy staan vinnig van sy stoel op om my die hand te gee. “Sit gerus.”

“Ek staan sommer. My vrou wag.”

“Natuurlik. U kom vir die uitslag van die biopsie, neem ek aan.”

Nee, vir dié van NAC-Ajax, nie waar nie.

“Ja.”

“Tja. Dit lyk nie so goed nie.”

“Nee. So hoor ek,” sê ek met ’n sinisme wat hy waarskynlik nie eens opmerk nie. “Kan u dalk verduidelik wat presies fout is?”

Walters vertel waarom dit dié keer wél kwaadaardig is. Ek luister met ’n halwe oor na wat hy sê en verstaan nog minder daarvan. Ek vra hom hoe seker hy is.

“Taamlik seker … Ons moet dit nog ondersoek, maar dit lyk asof dit mastitis karsinomatose is. Meer kan ons nie nou doen nie.”

Ek knik. Walters gee my weer ’n handdruk.

“Ek wil maar net sterkte sê, hoor. Dokter Schoeman sal u môre help. Dis die internis wat u sal vertel wat u alles nou te wagte kan wees. Goed?”

Ek knik weer. En ek pluk hom nie oor sy lessenaar nie. Meer nog: Ek sê niks nie. Niks. Ek het toegeslaan. As ’n klient die vinger na een van my strategieë wys, moet jy keer of ek kap daai vinger af, maar nou, voor hierdie poephol wat deur ’n fout ’n halfjaar gelede ons lewe verkanker het, gedra ek my soos ’n speler van ’n Limburgse klub wat die eerste keer in sy lewe ’n wegwedstryd in die ArenA speel.


Toe ek weer haar kamer binnekom, het Carmen vir Luna op haar skoot en kyk uit oor die byna leë parkeerterrein van die hospitaal.

“Mag jy saamkom, of moet jy nog iets hier doen?” vra ek.

“Ek dink ek is klaar,” sê Carmen. Sy kyk in die kamer rond; haar soekende oë val dan op haar swart tas. Ek loop swygend na die tafel waarop haar jas lê en help haar dit aantrek, iets wat ek nooit doen nie. Dit is ’n poging om myself te laat voel dat ek tog nog iets nuttigs kan doen.

“Nie so ver agtertoe nie,” sê Carmen wanneer ek haar jas agter haar oophou. “Met die sny aan my bors kan ek my arms nie so ver terugstrek nie.”

“O. Jammer. Kom, Luna, kom ons gaan,” sê ek en tel haar van die bed af op. Sy is steeds opvallend rustig.

Carmen steek gou eers haar kop by die verpleegsterskamer in en sê: “Oukei, baai.” Die verpleegster, dieselfde een as vanoggend, skuif vinnig haar bord warm kos eenkant, gryp Carmen se hand met albei hare vas en wens ons sterkte toe.

“Is julle darem vanaand saam?”

“Absoluut,” sê ek dapper en gee haar ’n gerusstellende knik.

Ons drie loop na die hysbak. Nie een sê ’n woord nie.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх