Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 17

12

Оглавление

Dan wil ik dansen, dansen, dansen op de vulkaan …

De Dijk, uit “Dansen op de vulkaan” (Wakker in een vreemde wereld, 1987)

Om kwart oor nege lui die voordeurklokkie en daar staan Frenk. Jy kan my met ’n veertjie omtik, want op sy af dae begin Frenk nooit voor twaalf nie.

 Frenk is lui, egosentries, ’n snob en my beste vriend. Anders as Thomas weet Frenk alles van my. Ons werk heeldag saam. Hy weet hoe ek dink, waarvan ek op my brood hou, hy weet dat ek by BBDvW&R/Bernilvy nie net vir Sharon nie, maar ook vir Lies, Cindy en Dianne gespyker het; dat ek, toe ek en Carmen nog nie so lank bymekaar was nie, dit ook nog gereeld met Maud gedoen het, en – omdat ek en hy deur die jare talle hotelkamers en woonstelle gedeel het – watse geluide ek maak wanneer ek kom.

In vergelyking met my het Frenk ’n muggie van ’n libido. Toe ek hom nog nie so lank geken het nie, het ek gedink hy besoek hoerhuise skelm, maar nou weet ek dat spyker hom doodgewoon nie interesseer nie. Nie dat hy dit nie doen nie. Heel, heel af en toe is daar ’n vrou wat hom aandraai, en dan looi die man dit. Ek weet van drie keer in die vyftien jaar dat ek hom ken. En dink ook ek weet hoe dit gebeur. Frenk het homself in die middelpunt van die heelal geplaas en dit pas hom uitstekend. Dáár is vir niks anders plek nie. G’n vrou, g’n gesin, niks. Die enigste waaraan Frenk iets uitgee, is aan Frenk self. En Frenk gee donners baie geld uit. ’n Kakhuis vol. Wel altyd volgens beginsels. Frenk het styl, dit weet almal. Frenk gaan na die regte toneelopvoerings. Na die restaurants wat saak maak. En hy het die nuutste Pradas nog voordat dit in die P.C. Hooft te kry is (en hy versuim nie om dit so terloops etenstyd by Merk in Uitvoering te vermeld nie). Die meeste geld gaan aan goed vir sy dakwoonstel aan die Bloemgracht. Dis ’n stadsaal van ’n dakwoonstel en alles daarin is duur. Net die kombuis kos al meer as al ons huisgoed in Amstelveense Weg. Nie dat Frenk dikwels in die kombuis kom nie, want hy kan nie kook nie. Hy kan ook nie stryk nie. Nie klere was, inkopies doen of pap bande regmaak nie. Daarby het Frenk nie ’n huishulp nie, nie ’n rybewys nie, en nie ’n idee hoe hy sulke aardse dinge sou bekom nie. Sy pa kom soms van Breda oor om al die handwerk in sy dakwoonstel te doen; sy ma maak skoon en was sy wasgoed; twee keer per week kom hy by my en Carmen eet, en hy beskou dit as vanselfsprekend dat hy altyd kan saamry as ons met die motor êrens heen gaan. Hy kom met alles weg omdat hy een ding in ruil daarvoor bied. Frenk is ’n Vriend.

“Ek kan julle tog nie op Koninginnedag alleen los nie?” Anders as Thomas is Frenk nie skaam om my te omhels en te soen nie. Wanneer ek en Frenk ná ’n vakansie terug op kantoor is, wanneer ons verjaar en wanneer ons nuwe besigheid beklink, omhels ons mekaar. Daarvan hou ek. Dit laat my dink aan die soort vriendskap wat jy andersins net in Bruce Springsteen-songs en Amstel-advertensies teëkom. Die stemming in huis Steyn & Carmen is oombliklik beter. Carmen is bly-verras en Luna kraai van plesier. Sy is gek oor Frenk en Frenk oor haar.

Toe ons aan die kombuistafel sit en Frenk met graagte Carmen se aanbod aanvaar om ’n croissant saam te eet, vra hy hoe dit gaan. Carmen vertel die verhaal; ek vul af en toe aan. Wanneer dit vir haar moeilik is, lê hy sy hand op haar arm. Frenk luister aandagtig na ons verslag van wat ons alles gister gehoor het. Die verduideliking van dokter Schoeman, die chemoterapie, hoe ons gevoel het toe ons in die gang af en by die hospitaal uitgestap het.

By die minuut word ek stiller. ’n Paar minute gelede het ek al opgestaan om toilet toe te gaan terwyl ek eintlik nie hoef nie, en weet nou nie meer watse verskoning ek kan gebruik nie. Gelukkig ruik ek ’n effense poepreuk.

“Ek gaan Luna gou boontoe vat om haar doek om te ruil.”

Ek neem haar op my arm op boontoe. Met betraande oë vee ek Luna se boudjies skoon en sit vir haar ’n skoon doek aan. Luna kyk my verbaas vanaf die laaitafel aan. “Ag, my skapie tog … my liefste klein skatjie …” Ek druk die drukknopies van haar kruipbroekie vas. Ek tel haar op, neem haar stewig in my arms en terwyl die trane oor my wange loop, staar ek by die venster uit. Ek kan dit steeds nie kleinkry nie. Ons is ses-en-dertig, het ’n skat van ’n dogter, elkeen sy eie firma, ons lewe soos God in Amsterdam, het hope vriende, doen net wat by ons opkom, en nou sit ons op Koninginnedag die helfte van die oggend oor niks anders as kanker en praat nie.

Nadat ek Frenk (wat vra of ons regtig nie lus is om vandag saam te gaan nie, maar Carmen skop vas) weggesien het, voel ek nog ellendiger. Carmen het my vanoggend al laat verstaan dat sy nie in die stemming is om vanmiddag êrens in ’n housemusiek-massa te staan nie. Uiteraard begryp ek dit, maar noudat die vooruitsig van nog ’n hele middag tuis sit en treur wel heel konkreet word, word ek byna gek. Om Steyn van ’n paartie weg te hou, is nog erger as om Luna se dummy van haar weg te neem. Des te meer nou. Ek wil hier wegkom, ek wil my aan drank oorgee, ek wil paartie, ek wil allesbehalwe verder oor kanker sit en praat.

Ek sug demonstratief toe ek weer by die kombuistafel kom sit.

“Jy hoef nie so hard te probeer om gatvol te lyk nie,” snou Carmen. “Ek kan nie help ek het kanker nie.”

“Nee, ek ook nie,” sê ek nydig.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх