Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 12

7

Оглавление

I hide my tears behind a painted smile …

Isley Brothers, uit “Behind a Painted Smile” (Soul on the Rocks, 1967)

Om tienuur maak ek die voordeur van ons kantoor oop. Dit is in die Olimpiese Stadion. Sedert die dag dat ons die sleutel gekry het, voel ek hier meer tuis as by my eie huis. ’n Deel van my jeug is in hierdie stadion deurgebring. Vir ’n outjie van Breda was die oproerige Amsterdam van die vroeë tagtigerjare ’n enorme ervaring. So dikwels ek kon, het ek op ’n Sondag die trein Amsterdam toe gevat om dan die Maandag op skool te vertel van die opstootjies by “Ojox!!!” en die vandalisme in die nommer nege na De Meer of die nommer sestien na die Olimpiese Stadion. Self het ek ver weg daarvan gebly, omdat ek toe, net soos die voorafgaande jare op die NAC se B-pawiljoen, byna my broek bevuil het van bangheid. Maar daarvan hoef my skoolpelle nie te geweet het nie.

 Frenk hou van mooi goed en ek van Ajax. Daarom is ons kantoor – skuins onder vlak TT, waar die F-Side altyd gestaan het wanneer Ajax in die Olimpiese Stadion gespeel het – die resultaat van ’n kompromis. Ek het dit beding dat daar oor die volle breedte van die symuur ’n foto van sewe by anderhalf meter hang. Hierop sien jy die spelers op die veld draf voor die laaste Kampioeneliga-wedstryd in die stadion[3], omring deur ’n see van fakkels en rooi rook. Die kantoor van Merk in Uitvoering lyk soos die slaapkamer wat ek gehad het toe ek vyftien was, net tien keer so groot, en ontelbare keer so cool. Dit is die geesteskind van Frenk en die ontwerper, ’n Engelse moffie met ’n te cool bril. Die ontwerper het gedink my sokkerfetisj pas nie lekker by die geheel in nie. Ek het gesê dit is nou maar jammer; hy kan sy kreatiewe gang gaan solank hy sy hande van my foto afhou. As dit om sokker gaan, het ek my beginsels. Hy het brommend ingestem, op voorwaarde dat hy vrypas het vir die res van die kantoor. “Met liefde,” het ek gesê, en hy het ingeklim. Hy wou in die oop ruimte van ons kantoor drie gekleurde Plexiglas-skerms van twee meter breed by anderhalf meter hoog hê – ’n rooie, ’n gele en ’n bloue. Verder het hy besluit om pienk titaanlig van agter die kaste te laat skyn, om ’n vyf meter hoë muur appelgroen te laat verf en ’n ander muur met pers viltkussings te bedek. ’n Bont spul. En begrotingsgewys heeltemal onverskillig. Frenk het gesê ek moet nie daaroor staan en kerm nie; ek het tog met die Ajax-foto my sin gekry.

Agterna beskou was Frenk en die moffie tog nie heeltemal so koekoes nie. In die paar weke dat ons nou hier sit, het Frenk my grinnikend kom vertel van die besoek van Het Parool, drie internasionale tydskrifte, alle bemarkings- en reklamevakjoernale, ’n tydskrif oor monumente, twee groepe argitekte (een daarvan van Denemarke met ’n girl wat so lekker op die oog was dat ek besluit het om nie meer oor die begrotingsoorskryding te bly sanik nie, dis gedane sake) én ’n nuwe kliënt. Dit is tog nie so sleg nie, ’n eie bemarkingsonderneming.

“Heit,” sê ek toe ek binnekom. Almal is al daar. Ek loop dadelik na die koffiemasjien in die kombuisie, waar niemand my kan sien nie. Die res van die kantoor in die stadion is so oopplan dat jy beswaarlik ongemerk in jou neus kan krap. Die koffiemasjien is een van Frenk se aankopies, die koffie is dus ’n deurdagte uitgawe, en ná die druk van ’n knop duur dit skaars ’n halfminuut en jy het jou koffie. Vandag kan dit nie lank genoeg duur nie. Toe my koppie vol is, bly ek nog ’n rukkie staan. Ek skraap al my moed bymekaar en loop by Maud se lessenaar verby. Ek vermy dit om na haar te kyk.

Frenk kyk my ondersoekend aan toe ek gaan sit.

“Nou ja … sy is dus in die hospitaal,” probeer ek so lakoniek moontlik sê. Maud het ook nader gestaan. En ek voel die ander se oë op my rug.

“Jip. Nou ja, ons moet maar sien wat gebeur, nè?” sê ek en skakel my rekenaar aan. Ek kan my trane beswaarlik terughou. Maud sit ’n hand op my skouer. Ek sit my hand op hare en staar deur die venster na buite. Was ek maar ’n kind. Dan kon ek myself wysmaak dat alle ellende verdwyn deur maar net nie daaroor te praat nie.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх