Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 15

10

Оглавление

Het regent harder dan ik hebben kan …

Bløf, uit “Harder dan ik hebben kan” (Boven, 1999)

Dokter Schoeman gee ons die hand, beduie dat ons moet gaan sit en gaan self agter haar lessenaar sit.

Sy begin deur ’n lêer blaai. Dit is ’n outydse bruin hanglêer. Ek loer daarna, onderstebo, en sien dit is die lêer wat die verpleegster eergister by haar gehad het. Daar is twee X-straalplate daarin (van Carmen, neem ek aan) en ek sien ’n lang, handgeskrewe stuk (deur dokter Walters?) en ’n tekening van ’n vrouebors, met ’n pyltjie en ’n onleesbare byskrif daarby. Schoeman lees die dossier asof ons nie daar is nie. Dit is verskriklik stil in haar kantoor.

 Dokter Schoeman is nie die soort van wie jy dink ag, wat ’n grap nie. Grys hare, baie penne in haar bosak en ’n tipiese nerd-gesig. Ek en dokter Schoeman gaan nie kliek nie. Dit het ek al gesien aan die uitdrukking waarmee sy my kalfiekakbruin seventies-leerbaadjie betrag het toe ek haar kantoor binneloop.

Ek hou Carmen se hand vas. Sy knipoog vir my en maak ’n Mr. Bean-agtige kopbeweging toe Schoeman ná ’n halfminuut steeds sonder om iets te sê in die lêer bly lees, daarin blaai, terugblaai en dan weer vorentoe. Ek kyk vinnig weg van Carmen om te keer dat ek begin lag, want dit sal nou nie juis die band tussen my en die dokter versterk nie. Ek kyk maar eerder ’n bietjie rond. Agter haar lessenaar hang ’n geraamde afdruk van ’n Impressionistiese skildery (moet my nie vra deur wie nie – ek kom van Breda-Noord en dis al ’n prestasie dat ek weet dit is ’n Impressionistiese skildery), en teen die muur by die deur is ’n rakkie gemonteer waarin ek benewens die vir my onbekende titels soos Goeie voeding en kanker, Kanker en seksualiteit en Pynbestryding en kanker ook die bekende blou biljet Borskanker sien.

Dokter Schoeman kyk van die dossier af op. “Hoe het dit die afgelope paar dae gegaan?” begin sy.

“Ek sou nou nie sê ‘skitterend’ nie,” sê Carmen met haar aanleg vir onderbeklemtoning.

“Nee, dit kan ek my voorstel,” sê die dokter. “Dit is sleg dat dit destyds so ongelukkig verloop het. Dit was tog wel, ’m … buitengewoon nalatig.”

“Ja, want nou is dit te laat, of hoe?” mompel Carmen.

“Moet nog nie só daaroor dink nie, hoor,” reageer Schoeman. “Ons het nog ’n paar behandelings wat ons kan gebruik. Om terug te kyk het geen sin nie, ons moet ons nou toespits op wat wel gedoen kan word.”

Stomverbaas oor die ongeërgde gedane-sake-houding jeens die fokkop van haar kollega kyk ek Carmen aan. Maar dit lyk of sy dit aanvaar, en ek hou my ook maar in.

“Wat ek het, word inflammatory breast cancer genoem, nie waar nie?” vra Carmen.

“Die amptelike naam is mastitis karsinomatose, maar ‘inflammatory’ is inderdaad die Engelse naam … ’m, waar het u dit gehoor?”

“Ek het dit gister op die internet opgesoek.”

“Wel, daarvoor moet u versigtig wees,” sê Schoeman vieserig.

Ja, dank jou die duiwel, dink ek, want dan word dit vir jou ’n probleem. Ek grinnik, en in teenstelling met gister toe ek vir Carmen de moer in was omdat sy die bobbejaan agter die bult gaan haal het nadat sy afgekom het op die een webwerf na die ander oor alle denkbare vorme van borskanker, is ek nou trots op haar dat sy al meer weet as wat die dokter wil hê sy moet weet.

“En is dit so dat maar veertig persent van die vroue by wie dit gediagnoseer is die eerste vyf jaar oorleef?” gaan Carmen verder.

“Ek’s bevrees nog minder,” sê Schoeman yskoud, ’n ooglopende poging om die lees van dié soort webwerwe eens en vir altyd te ontmoedig, “want u is nog jonk en dan verdeel die selle vinniger as by ouer mense. Die tumor in u linkermamma is nou dertien by vier sentimeter, en dit het waarskynlik in enkele maande so groot geword.”

Dertien by vier? ’n Jong murgpampoentjie is dertien by vier! En dít in ’n paar maande? Ja, dit moet wees – iets wat selfs dokter Walters destyds nie sou miskyk nie.

“Kan dit nie verwyder word nie?” vra Carmen. “En as dit moet, kan my bors maar waai.”

Ek kan nie glo wat ek hoor nie. Sonder ’n oogknip sê sy dat haar trots, haar handelsmerk, maar geamp–

Schoeman skud haar kop.

“Om te opereer sal in hierdie stadium gevaarlik wees,” sê sy. “Die tumor is te groot. Ons kan nie presies sien waar die selle versprei het nie. As ons gaan sny, loop ons die gevaar dat die tumor in die littekenweefsel van die afgesette bors kom en dan is ons nog verder van waar ons wil wees. Net as ons weet dat die tumor in u bors kleiner geword het, is ’n operasie miskien ’n moontlikheid.”

Sy sê dit asof ons daaroor bly moet wees.

“ ’n Ander middel wat ons wel soms gebruik om ’n tumor te behandel, is ’n hormoonterapie …” – ja, ’n hormoonterapie! Ek herinner my dat ek iets daaroor gelees het – “… maar ook dít is nie moontlik nie. Dit sal nie met u akkordeer nie. U bloedtoets wys dat u estrogeenreseptore negatief is. U tumorselle sal nie op hormone reageer nie. Maar die slegste is dat dit uit die biopsie blyk …” – nou maar toe, laat dit maar kom – “… dat die tumor diffuus is en dat dit dus sekerlik al in die bloedvate is, en nou ja, dan weet u …”

Nee, ek weet nie, want ek het kunsvakke op skool gehad, en hoe vreemd dit ook al is, het daar tot onlangs volle dae verbygegaan dat ek nie aan kanker gedink het nie. Omdat ook Carmen ’n uitdrukking het wat wys dat sy dit nie geweet het nie, gaan Schoeman voort, net soos ’n nuusleseres van Jeugjoernaal wat verduidelik waarom grootmense oorlog maak.

“Kyk, dit werk so. Bloedliggaampies gaan deur die hele liggaam. En u kankerselle dus ook. Die tumormerkers in u bloed dui nou nog nie op gevaar nie, maar dit is tog waarskynlik dat daar al selle deur u liggaam versprei het.”

Ek en Carmen kyk mekaar lank swygend aan. Ek vryf met my duim oor haar hand. Ook Schoeman swyg. ’n Ruk.

“As ons nou niks doen nie, is ek bang dat daar nog maar enkele maande oor is. Hoogstens ’n jaar.”

Die opmerking is niks meer nie as ’n logiese gevolg van al die voorafgaande inligting, maar dit voel soos ’n mokerhou. Nou is dit gesê. Dit is nou hoe dit is. ’n Vrou gaan dokter toe en hoor sy het nog maar ’n paar maande oor om te leef. Carmen begin bewe, sit haar hand oor haar mond en begin met rukkende skouers huil. My maag trek saam. Ek sit my arm om haar, my ander hand op hare.

“Dit klink erg, ek weet,” sê Schoeman kortaf. Ons antwoord nie. Sit met ons arms om mekaar. Carmen huilend, ek verdwaas.

“En nou?” vra ek ná ’n ruk.

“Ek stel voor dat so vinnig moontlik met chemoterapie begin word,” hervat Schoeman die gesprek, sigbaar verlig dat sy weer oor tegniese dinge kan praat. “Verkieslik dié week nog.”

Chemoterapie. Die woord kom nou al ’n paar minute lank aan, maar dit val tog nog soos ’n byl. Chemoterapie. Lees: kaalkop. Lees: dodelik siek. Lees: almal-weet-dat-dit-fokkol-help-maar-ons-moet-tog-iets-probeer-doen.

Schoeman vervolg: “Chemoterapie gaan deur u hele liggaam, en ons het dus daarmee die grootste kans om die kanker aan te val.”

“En bestraling?” vra ek. Carmen kyk ook vinnig op. Ja, bestraling, dit doen hulle tog ook dikwels, sien ek haar hoopvol dink. Op die een of ander manier klink bestraling minder erg as chemoterapie.

Schoeman skud haar kop. Dom vraag.

“Bestraling het net ’n lokale uitwerking. Net op die bors dus. En ons moet nou probeer om die kanker uit die liggaam te kry, en daarom is chemoterapie die beste,” sê sy, ooglopend geïrriteer omdat sy dit nou net reeds verduidelik het.

“Kan u ons so ’n bietjie meer van chemoterapie vertel?” hoor ek myself vra, so asof ek navraag doen oor die GPS in die nuwe Audi A4.

Schoeman flikker op. Dit lyk selfs asof sy opgetoë is omdat sy eindelik iets oor haar gunsteling-speelding kan sê. Ons kry ’n spoedkursus in chemoterapie. Die beginsel lyk eenvoudig. Jou liggaam kry ’n moerse skok, sodat die kankerselle nog ’n groter skok kan kry. Die kankerselle gaan dan mal, soos ’n elftal sonder ’n generaal in die middelveld. Dit kan dan selfs deur bene groei, sê Schoeman vol bewondering as sy ’n wyle deur haar entoesiasme meegevoer word. Maar daarom is hulle ook gevoeliger vir ’n aanval as die gesonde selle in die liggaam. Helaas is alle selle wat vinnig verdeel ook maklike teikens. “Byvoorbeeld u hare, mevrou Van Dyk, u sal wel ’n probleem met haarverlies hê.”

Schoeman kom nou lekker op dreef. “Ek dink dat ’n SAF-behandeling die beste vir u is. SAF staan vir siklofosfamied, adriamisien en 5-FU …” – ons knik, asof ons snap waaroor die stomme mens dit het – “… en ’n middel wat die naarheid teenwerk wat deur die chemoterapie veroorsaak word …” – ons knik weer – “… Sommige mense gooi egter steeds ’n paar dae daarna op. Maar om dit te verhoed, kry u medisyne wat u ná elke toediening kan sluk, as dit nodig is …” – ons verval stadigaan in ’n staat van emosionele ontbinding – “… daarom eet die meeste mense minder. Die kombinasie van naarheid en ’n gebrek aan smaak is natuurlik nie bevorderlik vir die eetlus nie … Verder is daar ’n kans op diarree. As dit langer as twee dae aanhou, moet u gou kontak maak …” – asof sy oor ’n lekplek in ’n wasmasjien praat – “… en dan kan u mondslymvlies ook ontsteek en kan u menstruasie onreëlmatig word of verdwyn. Ten slotte moet u baie goed oppas dat u nie koors kry nie. Dan moet u dadelik bel, al is dit in die middel van die nag.”

Ek wil dit nie meer hoor nie, ek wil niks meer hoor nie. Carmen het al by die woord “haarverlies” afgeskakel. Maar Schoeman gaan maar net aan.

“Tja, en dan kan dit wees dat die kankerselle nie op die SAF reageer nie. Maar die kans daarvoor is maar vyf-en-twintig persent.”

“En dan?”

“Dan stel ons ’n ander behandeling op die proef.”

“O.”

“Maar dit is nie ons uitgangspunt nie.”

“Nee.”

“Wat ek nog vir u het, is die volgende,” sê sy en bring ’n geel pamfletjie uit haar lessenaarlaai te voorskyn. “As u wil, kan u gebruik maak van die psigoterapeut hier in die Lucas-hospitaal. Sy spesialiseer in die berading van pasiënte met kanker.”

Carmen kyk vinnig na die pamflet en sê ons sal dit waarskynlik wel doen. Nou ja. As ons nou eenmaal kanker in ons lewe verwelkom, laat ons dit dan maar goed doen, die hele kaboedel.

Ek kyk na ons nota met al die vrae. Schoeman merk dit op en kyk op haar horlosie. Ek sien daar is nog ’n vraag, een wat nou nie juis die atmosfeer sal verbeter nie.

“Is dit nie beter dat my vrou in die Antoni van Leeuwenhoek-hospitaal behandel word nie? Daar spesialiseer hulle tog in die behandeling van kanker?”

Schoeman reageer soos Louis van Gaal[6] op ’n nuuskonferensie.

“Dit het absoluut geen sin nie. Ons pleeg met elke pasiënt oorleg met die Antoni van Leeuwenhoek. Ons praat elke week met mekaar en dan word die lêers bespreek.”

Ek kyk na Carmen. Sy knik vinnig dat dit goed is so. Sy wil nie skoor soek met die dokter wat haar gaan behandel nie. Ek besluit om dit nie op die spits te dryf nie. Ek kyk nog ’n keer na ons notas. Nou gaan dit lekker.

“Laaste vraag. Is hulle in Amerika nie ’n ent voor Europa nie?”

Schoeman kyk my aan asof ek ’n skoolseun is wat dit gewaag het om onder die juffrou se rok in te loer.

“Ek bedoel, ’m … nie dat ek aan u kundigheid twyfel nie,” voeg ek vinnig by, al twyfel ek wel daaraan, maar ek moet tog iets sê om nie uit die klas gejaag te word nie, “maar ons wil nou eenmaal die beste vir my vrou hê, verstaan u?”

Schoeman verstaan my nie, sien ek aan haar blik wat geen twyfel laat nie dat sy tot in haar siel gekrenk voel. Sy sug en begin met ’n ysige stemtoon praat.

“Alle inligting oor kanker wat beskikbaar is, alle mediese navorsing wat gepubliseer word, lees ons ook, meneer Van Dyk. Wat môre in Chicago of Los Angeles ontdek word, kom ons ook dieselfde dag te wete. En sedert die bestaan van die internet is alles heeltemal in die ope. Enigeen kan dit onder oë kry. U vrou het dit al agtergekom …”

O, hoe haat ek daardie spottende toontjie, die arrogansie wat Schoeman ten toon stel, terwyl sy baie goed weet van die “buitengewoon nalatige” fout wat haar kollega in presies hierdie hospitaal gemaak het.

“Nog iets verder?”

Ja, ’n halfkilo maalvleis, doos.

Ek kyk na Carmen; sy skud haar kop. Sy wil hier wegkom. Wat gister nog relevante vrae was, is nou ’n onaangename verlenging van hierdie hospitaalbesoek.

“Nee, dit is al,” sê ek.

Ons staan op en trek ons jasse aan.

“Laat my weet of u met die chemo wil begin. Ek beveel dit tog maar aan,” sê dokter Schoeman terwyl sy Carmen met die hand groet, nou katvriendelik.

“Oukei … goed. Ons sal môre bel.”

“Tot siens aan u ook,” sê sy, weer koel. Ek kry sowaar ook ’n handdruk.

“Dankie vir u tyd. Tot volgende keer dan,” sê ek.

Toe ons met die gang afloop, hou ek Carmen se hand en probeer niemand raaksien nie. Ek voel die blikke van die mense wat in die gang staan en wat in my rug boor. Asof jy met ’n lekker girl met ’n te kort rokkie voor ’n stoepkafee verbyloop – jy weet almal kyk, maar jy maak asof jy min gespin is. Carmen het vandag nie ’n kort rokkie aan nie, maar het rooi oë en ’n sakdoek in haar hand. Ek het my arm om haar, my blik strak op die einde van die gang gerig. Hulle sal aan mekaar stamp, in ons rigting knik, vir mekaar fluister. Ag god, die vroutjie is nog so jonk, en hoe oulik is sy nie; kyk, daar loop sy. Ons het nou net gehoor sy het kanker. En kyk die outjie by haar, ag, hoe hartseer. Ek voel die medelye, die drang na sensasie teen my rug aandruk. Jammer dat Luna nie vandag by is nie. Dit sou die toneeltjie vir die mense nog mooier gemaak het.

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх