Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 20
15
ОглавлениеDon’t speak, don’t tell me cause it hurts …
No Doubt, uit “Don’t Speak” (Tragic Kingdom, 1995)
Toe ek by Merk in Uitvoering instap, vra Maud hoe dit vanoggend gegaan het.
“Nie te sleg nie. Ons het selfs gelag.”
“Great. En hoe voel Carmen nou?”
Maud is my eks. In die seisoen 1988-’89 het ons iets aan gehad. Maud was vroeër ’n model totdat sy – ’n jaar later as haar agent – agtergekom het sy sal nooit regtig sukses daarmee behaal nie. Sy het opgehou met modelwerk en coke-snuif. Weg was haar perdebylyfie, haar bra-grootte het verdubbel en sy het in die onthaalbedryf gaan werk. Toe Merk in Uitvoering ’n sekretaresse soek, het ek Frenk omgepraat om haar ’n kans te gee. Maud is spontaan en nie dom nie, maar dit is haar borsmaat, wat selfs nie by Frenk ongemerk verbygegaan het nie, wat die deurslag gegee het in die beslissingsproses van die direksie van die firma Merk in Uitvoering. Maud is aangestel. In die beginjare van Carmen & Steyn het ek en Maud dit nog skelm gedoen, maar op ’n bepaalde moment wou sy daarmee ophou. Sy het te veel van Carmen gehou. Nou gee ons mekaar for old time’s sake soms nog ’n soen, en ná verlede jaar se Kersparty het dinge weer handuit geruk op die Engelse moffie se designer-kussings in die hoek van ons kantoor se sitkamer, maar dit was die einde van die saak. Die laaste tyd begin sy my selfs teregwys oor my affairs, iets wat sy nie eens gedoen het toe sy met my in ’n verhouding was nie. Sy het byvoorbeeld Sharon se wit rompie met ’n glas rosé opgekikker toe dié my in De Pilsvogel effens te lyflik gegroet het. Op die keper beskou, stem ek saam met Maud se argumente waarom ek nou maar met die affairs moet ophou. Maud dink ek plaas daarmee die beste verhouding van my lewe op die spel. Daarom niks meer volgens die beproefde Steyn-resep nie: Ons maak ’n dop, gaan vir ’n pie en alles bly soos dit was. Ek bly ’n monofoob. Maud was van haar kop af toe sy hoor Carmen het borskanker.
“Dit gaan oukei. Sy het ’n berg pille teen die naarheid gekry.”
“Waar is sy nou?”
“By die huis. Haar ma is daar.”
Intussen het ek my PC aangeskakel. Ek wil nie meer oor kanker praat nie. “Het Holland Casino gebel om te sê of hulle oukei is met die begroting?”
Frenk skud sy kop.
Piekfyn. Dit gee my die geleentheid om iemand goed uit te kak.
“Fokkit, man, bel jý hom dan ’n slag! Ons hoef tog nie vir die fokkers te wag nie? Bel die poephol! Nee, my goeie moer, man, moet ek dan alles doen in hierdie fokken plek?”
Frenk laat die tirade oor hom stroom.
Terselfdertyd klik ek op ’n e-pos van Carmen, een wat sy so tien minute gelede gestuur het, sien ek.
From: | carmenvandyk@xs4all.nl |
To: | Steyn@creativeandstrategicmarketingagencymerkinuitvoering.nl |
Sent: | Tuesday, May 04, 1999 14:29 PM |
Subject: | Liefste maatjie … |
Hallo maatjie | |
Ek is nou wel ’n bietjie naar, maar dit gaan OK. Ek wil net sê ek is so bly dat jy saam met my gaan, dat ek nie soos die ander alleen by die behandelings is nie. | |
Xxx Carmen. | |
ps: Ek is lief vir jou, my liefste maatjie. |
Ek staan vinnig op en loop na die toilet, sonder om na Frenk te kyk. Daar kom die trane wat ek heeldag net-net kon binnehou.
Ná ’n paar minute vee ek my trane af, snuit my neus, spat my gesig ’n paar keer nat, kyk of ek ’n bietjie normaler lyk – nee – trek die toilet asof ek lank gesit en skyt het, sug nog ’n keer en loop dan terug.
Agt kollegas maak asof hulle niks agtergekom het nie.