Читать книгу 'n Vrou gaan dokter toe - Ray Kluun - Страница 24

19

Оглавление

Seem kinda funny, Sir, to me, that at the end of every hard earned day, people find some reason to believe …

Bruce Springsteen, uit “Reason to Believe” (Nebraska, 1982)

Ek moet tog toegee dat die gesprek met Gerda ons goed gedoen het.

Ek en Carmen het daardeur die briljante ingewing gekry om mekaar ’n ietsie meer op die hoogte van ons gevoelens te hou. So het ek dit gewaag om Carmen te vertel dat ek gatvol is daarvoor dat ons dié somer skaars in Bloemendaal sal kom, dat ek graag sal wil sien dat dokter Walters die vlieënde Arabiese tering aan sy linkerhartklep kry en dat dit vir my heerlik is om elke dag by Merk in Uitvoering ’n kankervrye sone binne te stap. En Carmen vertel eerlik as sy ’n wyle moed verloor, en dat sy dae voor die chemo al opsien teen die naald in haar aar.

Die onderwerpe wat taboe bly, is alles wat ná die chemo’s werklikheid sal kan word – uitsaaiings, borsamputasie en dood, om maar ’n paar te noem. Ek kry hierin steun uit ’n onverwagte oord: Negatiewe denke het ’n ongunstige uitwerking op die ontwikkeling van die siekte, skryf dr. O. Carl Simonton in sy boek. Simon, soos Carmen hom gedoop het, duld geen teëspraak nie; met hoofstuktitels soos “Mental forces can influence cancer”, “Take charge of your health” en “The scientific proof for our approach” is Simonton die Louis van Gaal van die mediese wetenskap.

Maar soms is die lewe eenvoudig: As alle statistieke teen ons is, en alle statistieke en oorlewingspersentasies vir Simonton soos water op sy Amerikaanse eend se rug is, dan is Simonton aan ons kant. Daarom het ons die afgelope week aan enigeen wat wil hoor, vertel dat Simon se metode om kanker met positiewe denke, meditasie-oefeninge en visualiseringstegnieke te bestry wetenskaplik bewese is (al het ek eerlikwaar niemand van Gerda se tekenopdrag vertel nie). En as iemand die vaandeldraer vir positiewe denke is, dan is dit Carmen.

Dit is tog so duidelik soos daglig, sê almal.

As iemand dit kan regkry, is dit Carmen.

Ons sê aan almal die gees kan sterker as die liggaam wees. Wat praat ek – is sterker as die liggaam! Ons gaan voluit! Almal wat ons liefhet, is saam met ons in die stryd teen beterwete en gryp saam met ons na hierdie strooihalms. Halleluja, Simon!

'n Vrou gaan dokter toe

Подняться наверх