Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 48

Kenmerke van poësie

Оглавление

Rym is kenmerkend van digkuns/poësie. Rym is wanneer sekere klanke herhaal word en sodoende die klank van die gedig as ’t ware versterk. Rym kan natuurlik ook woorde verbind om dit makliker te laat lees. Daar is verskillende soorte eindrym, naamlik paarrym: aabb ccdd; omarmde rym: abba cddc; kruisrym: abab cdcd; gebroke rym: abcd edfa.

Alliterasie en assonansie is ook voorbeelde van rym wat binne ’n gedig kan voorkom. Alliterasie is die herhaling van dieselfde letters of klanke waarmee ’n woord begin. Dit kom voor in alledaagse uitdrukkings soos nóg kind nóg kraai. Digters gebruik dit om ’n patroon van herhaling te skep, byvoorbeeld: kreun en kla; koue kasteel. Hulle gebruik dit ook om woorde in ’n gedig te beklemtoon of om ’n sekere klankpatroon te skep, byvoorbeeld: “Sy veg en sy foeter Vampiro.”

Assonansie is die herhaling van klinkers of vokale in meer as een woord om ’n klankpatroon te vorm wat die leser/hoorder sal tref. Net soos alliterasie gebruik digters assonansie om ’n klankpatroon te skep en as bindmiddel tussen belangrike woorde, byvoorbeeld: “Die halfwakker man kreun en kla in sy bed”.

Atmosfeer/stemming is die ingesteldheid of gemoed wat die digter met die gedig wil bereik, byvoorbeeld: vrolik, sorgeloos, weemoedig, uitbundig, ensovoorts.

Vergelyking is wanneer twee sake van verskillende of uiteenlopende aard op grond van ’n ooreenkoms of ooreenkomste met mekaar vergelyk of selfs gelykgestel word. Die woorde soos, as, nes en net soos is kenmerkend van ’n vergelyking, byvoorbeeld: “Haar nek is so slank soos ’n swaan s’n.”

Spreker in ’n gedig

Die naamlose stem wat in die gedig aan die woord is en nie noodwendig die digter is nie.

Ritme

Net soos musiek, kan ’n gedig ook ritme hê. Eenderse woorde of klanke wat kort afstande van mekaar voorkom kan ritme skep, byvoorbeeld: Die perde klop en galop en skop. Wanneer versreëls ewe veel lettergrepe bevat skep dit ook ritme.

 - Hoor/net/daar/hoe/krap/’n/tak

 - oor/die/grou/ka/steel/se/dak

Personifikasie

Wanneer menslike eienskappe aan ’n voorwerp gegee word of enigiets wat nie menslik is nie as ’n mens voorgestel word.

Luister aandagtig wanneer jou onderwyser die volgende gedig voorlees.

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Подняться наверх