Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 51

Woordvorming

Оглавление

Basisvorm/stam

’n Woord se kleinste eenheid wat betekenis dra, word ’n basisvorm of stam genoem. Sambreeltjie se klankgrepe en lettergrepe is sam/breel/tjie. Nie een van die drie dele beteken iets op hul eie nie. Sambreel dui op ’n bepaalde vorm of voorwerp terwyl -tjie die verkleining aandui. Sambreel is dus die basisvorm of stam, want sonder die -tjie is dit nog steeds ’n selfstandige woord met betekenis.

Let egter op die volgende woorde: besluit, betaal, ervaar teenoor ontsluit, vertaal en bevaar. By besluit, betaal en ervaar vorm die be- en er- deel van die stam terwyl ont-, ver- en be- by ontsluit, vertaal en bevaar voorvoegsels is.

Samestellings

Woorde word in Afrikaans gevorm deur samestelling wanneer twee of meer woorde (twee of meer basisse) saamgevoeg word, bvoorbeeld: jassak, donderweer, badkamer.

Soms word ’n “ekstra” letter/s bygevoeg sodat die samestelling beter klink, byvoorbeeld: kind + boek = kinderboek. Die -er- is die verbindingsklank tussen kind + boek.

Nog voorbeelde van samestellings met verbindingsklanke is etenstyd, kalwerhok, volkslied. Onthou: Woorde soos meisieskool en seunskool het net EEN s!

Afleidings

Nuwe woorde word dikwels van ’n stam afgelei deur woorddele voor- of agteraan te voeg. Sulke woorde word afleidings genoem.

Agtervoegsels is woorddele agteraan ’n stam en word gewoonlik gebruik om meervoude, verkleinwoorde, trappe van vergelyking en persoonsname te vorm, byvoorbeeld: mens – mense; koek – koekies; voël – voëls.

Woorddele vooraan ’n stam word voorvoegsels genoem, byvoorbeeld: koop – verkoop; sê – gesê.

Ons onderskei tussen drie groepe morfeme:

Premorfeme (voorvoegsels/prefikse) staan voor die basisvorm/stam, byvoorbeeld: verken, bevorder, ontneem.

Postmorfeme (agtervoegsels/suffikse) staan agter die basisvorm/stam, byvoorbeeld: dierlik, dadeltjie; besempie.

Woorde kan ook deur middel van klankwisseling ontstaan, byvoorbeeld skiet – skoot, skut; buig – boog, boeg; drink – drank, dronk.

Die funksie van morfeme:

Meervoude: put – putte (verdubbeling van die konsonant na ’n kort vokaal)

Verkleining: put – putjie

Trappe van vergelyking: mooi – mooier – mooiste

Verlede tyd: loop – geloop, dink – gedink

Byvoeglike naamwoorde – verbuiging: Die pad is grof; dit is ’n growwe pad.

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Подняться наверх