Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 59
Jare jonger
Оглавление1 So kom Ma toe die middag by die huis aan. Sy sit die pakkies op die kombuistoonbank neer en roep: “Ek is terug, iemand my gemis?”
2 Wat sy eintlik wil sê is kyk vir my.
3 Maar ons – dis nou ek en my broer Henk – tel mos nie hierdie tipe goed op nie. Ons is ouens. As my suster hier was, sou sy ons in die ribbes pomp en sê kyk, kyk!
4 Ek is besig met my wiskunde en Henk speel Xbox.
5 “Manne! Ek praat met julle,” roep Ma weer.
6 “Ja, Ma, ons het Ma baie gemis. Wanneer eet ons?” vra ek, sonder om op te kyk.
7 “Wanneer julle jul ma ’n soen kom gee om te . . .”
8 “. . . om te wys ons is lief vir Ma.” Ek sug. Kyk nog nie op nie. Toe hoor ek Henk se Xbox word stil. Alles word stil totdat . . .
9 “Kyk, kyk . . .” fluister Henk. Ek kan sien hy wil lag.
10 “Wassit?” Toe lig ek my kop op van die boeke af. Ek sien my ma se nuwe haarstyl. “O, vreksel.”
11 Dit sê ek gelukkig sag genoeg dat my woorde wegraak in Ma se “Ta-daa-aa!” Haar hoë stem sing dit uit toe sy haar arms oopgooi asof sy die een of ander filmster op die rooi tapyt by ’n Hollywood-premiere is.
12 “Hou julle daarvan?”
13 Ek byt my lip vas en maak die een of ander geluid.
14 “Hmmm, Ma het inkopies gedoen, sien ek,” sê Henk met ’n frons. “Was dit nou voor of na Ma gaan hare sny het?”
15 “Na ek hare gesny het, Henk.” Ma klink nog heel vrolik.
16 “So, Ma bedoel Ma het met daardie kop die hele winkel vol geloop? Ek skaam my dooier as dood.”
17 Ek trek my asem in, want ek kan nie glo Henk het dit gesê nie. Al was hy nog altyd die reguit een.
18 “Moes Ma vir daardie boskasie betaal? Of het hulle net op Ma geoefen?”
19 “Jissou, Henk!” spoeg ek. Ek draf na Ma toe en sit my hande om haar skouers.
20 “Is dit te jonk?” vra Ma vir my.
21 Ek probeer ’n taktvolle antwoord soek, maar Ma se hare maak sulke weird punte. En die een kant staan hoër as die ander. Dan is daar nog daardie pers streep hier voor by haar kuif.
22 “Dis te alles, Ma,” sê Henk. “Te punterig en te pers en te jonk. Mense gaan eers in die volgende eeu sulke hare dra.”
23 “So, Ma is Ma se tyd vooruit,” voeg ek by. Ek weet nie of sy my glimlag glo nie.
24 Sy vat-vat weer so aan haar hare. Sy lyk onseker, asof sy wil glo dit lyk goed, maar nou is sy nie meer so seker nie. “Die vroue by die salon het gesê dis baie hip.”
25 “Ek kan nie wag om te hoor wat Pa sê nie,” roep Henk oor sy skouer toe hy tuin toe stap om te gaan rugbybal skop.
26 Ma is in die kamer toe Pa die aand by die huis kom. Om die waarheid te sê, ons het Ma nog nie met ’n oog gesien sedert vanmiddag nie.
27 Ek het gaan klop en gevra of sy tee wil hê, maar sy het net ’n geluid gemaak, nes ek vroeër vanmiddag.
28 “Hei, manne, wat het julle vandag aangevang?”
29 Ek en Henk kyk mekaar grootoog aan. Henk wil weer lag.
30 Ek gaan gooi vir Pa ’n koeldrank in.
31 “Julle sal nie glo wat ek vandag gesien het nie,” sê Pa. Hy kan altyd sulke lekker stories vertel. Dit sal ons aandag afvat van Ma wat heelmiddag in die kamer met haar vreemde hare wegkruip, dink ek.
32 “Vertel, Pa!”
33 “Ek was middagete gou winkels toe om iets te kry om te eet. Sien ek daar hierdie vrou met die aardigste boskasie wat jy in jou lewe gesien het. Ek kon nie haar gesig lekker sien nie, want sy was agter ’n rak. Ek sien net hierdie hare. Sulke punterige goed en windskeef soos ’n boom op die weskus. Met pers klosse tussenin. Oe, ek wou my slaplag. Ek wens julle kon dit sien, manne.”
34 “Ek kan my net indink hoe dit moes lyk,” sê Henk met ’n skewe glimlag, want op presies daardie oomblik kom Ma uit die kamer uit. Ek weet nie of sy vir Pa gehoor het nie.
35 Ek dink ook nie verder daaraan nie, want ek sien hoe Pa bleek word en sê: “Sjoe, vrou, is dit nou nie pragtig nie? Laat jou jare jonger lyk . . .”
(Fanie Viljoen, ongepubliseer)
In ’n neutedop bespreek die kenmerke van verhale soos handeling en karakters.