Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 64

Pitkos Praat en lees hardop

Оглавление

In enige mondelinge situasie is dit belangrik om op te let wat die persoon (spreker) sê. Dit is die inhoud van wat gesê word. Let ook op hoe die persoon iets sê. Onthou die volgende:

 ’n Spesifieke stemtoon openbaar baie van ’n spreker. As iemand bang of senuweeagtig is, is sy stemtoon hoër. As die persoon rustig en bedaard is, is sy stemtoon laer.

 Die uitspraak van woorde hou dikwels verband met ’n persoon se agtergrond, portuurgroep, status, ensovoorts.

 Praattempo moet ook in gedagte gehou word. In die meeste gevalle praat ’n persoon wat rustig is stadig, terwyl iemand wat haastig is, weer vinnig sal praat.

 Die konteks waarin iets gesê word, sal ook die praatstyl beïnvloed. Indien dit ’n formele geleentheid is, sal die persoon duidelik en stadig praat. In ’n ontspanne, informele situasie sal die praatstyl gemaklik en informeel wees.

 Beklemtoning van woorde (stem- en sinsintonasie) kan ook betekenis oordra.

 Stiltes is veelseggend! ’n Stilte is effektief om tyd te laat vir die gehoor om na te dink oor wat gesê is of ter wille van beklemtoning. ’n Sug en stilte daarna, kan byvoorbeeld ’n aanduiding van moedeloosheid wees.

Let veral op die volgende in jou voorbereiding vir hardoplees of ’n mondelinge aanbieding:

 Gehoorkontak: Maak kontak met jou gehoor. Gehoorkontak by lees beteken dat jy vooruit moet kan lees, dat jy kan opkyk, ’n paar woorde vir die gehoor kan sê en hulle reaksie waarneem voordat jy weer na die teks kyk. Bewerkstellig ook gehoorkontak deur hoe jy jou stem gebruik.

 Leesvermoë: Lees vloeiend, korrek, entoesiasties en vooruit.

 Lyftaal: Ontspan jou liggaam. Jy moet ’n natuurlike, ontspanne atmosfeer kan oordra. Skouers en gebare kan byvoorbeeld gebruik word om inlewing met dit wat jy lees, te toon.

 Begrip en interpretasie: Lees is die oordra van idees eerder as die blote oordrag van woorde. Het die leser die gedeelte begryp? Het hy/sy insig in die aard en stemming van die teks? Interpreteer die leser die gedeelte korrek vir die gehoor? Dra hy/sy die boodskap deeglik aan die gehoor oor?

 Vertelling en dialoog: Dra die verhalende dele vlot oor en gebruik emosie toepaslik by dialooggedeeltes.

 Stemgebruik: Lees hoorbaar en verstaanbaar. Jou aanslag moet natuurlik oorkom. Wissel jou leestempo (leesspoed) om jou gehoor se aandag te behou. Konsentreer op frasering om die korrekte insig en begrip van die teks oor te dra.

Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Подняться наверх