Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 10
… want iets is fout!
ОглавлениеBoek ná boek haal ek uit my boekrak om net dieselfde tema te sien: skrywers wat nadink oor “ons probleem”. Iets is fout. Ons kan met meesterlike vernuf die fynste en ingewikkeldste tegnologiese kunswerke voortbring, maar dit lyk asof min mense dit regkry om die “kuns om te leef” te bemeester. Was dit nie juis die bekende Viëtnamese vlugteling, Tich Nhat Hanh, wat op ’n dag gevra het: “Hoekom sal ons treë op die maan wil gee as ons nie eers hier op aarde met mekaar kan saamstap nie?”
Wat ’n verstommende realiteit: Hoe slimmer ons raak, hoe “vlakker” word ons. Dennis Okholm skryf in sy Monk Habits for Everyday People: “In baie opsigte leef ons oppervlakkige lewens, ons laat ons deur glinstermense vermaak, jaag beuselagtighede na en is bloot verbruikers van produkte. ’n Diepgewortelde geestelike lewe word deur baie begeer, maar die belewenis daarvan ontglip net soveel.”
Iets is beslis fout.
Nog ’n skrywer, Tony Jones, haal in sy boek The Sacred Way ’n vriend se blog-inskrywing aan, wat ek nou sommer vry vertaal: “Ons tegnologies-gedrewe wêreld laat ons die god van besigwees en ‘baie-doen’ verafgod. Ons kla, maar tog kan ons nie daarsonder nie. Ons het, om die waarheid te sê, slawe van onsself geword.”
Ek sien dit in myself en in baie ander se lewe: Ons verwar “besige” lewens met “betekenisvolle” lewens. Ons weet nie hoe om ons sielshongerte te versadig nie, daarom verdoof ons die sug met allerhande kunsmatige afleidings. Wie het gesê dat dit ons nie baat om die stoele op die Titanic se dek rond te skuif as die skip besig is om te sink nie? In plaas daarvan dat ons ons diepste behoeftes vervul, laai ons ons vurk net nog voller. En raak ons nog meer uit balans.
Dan ís iets mos beslis fout.
In die heel laaste boek wat die bekende Thomas Merton voor sy dood geskryf het, The Inner Experience, begin hy sy eerste hoofstuk met ’n donker prentjie van hoe hy die lewe rondom hom waarneem. Terloops, as hy dit in die vroeg 1960’s gesien het, wonder ek wat sou hy 50 jaar later hieroor te skryf gehad het? Oral, so skryf hy, sien hy mense wat net “gelukkig” wil wees. Hulle is bereid om enige raad tot geluk soos soetkoek te verslind. Met so ’n sprinkel van populêre sielkundige selfhelp hier en darem ’n betaamlike hoeveelheid godsdienstigheid daar – in die 1960’s, dit het intussen verander … – probeer mense die leegheid van die lewe van hulle af weghou. In die proses bly mense vreemdelinge vir hulself. Hulle troos hulself met ’n “vals identiteit”. Hulle raak so gewoond aan hierdie valsheid, dat dit later vir mense die enigste bekende identiteit is, skryf Merton.
Dit is tog nie hoe mense bedoel is om te leef nie?