Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 15
Die dans van die Trio
ОглавлениеEk is baie dankbaar vir ’n enkele paragraaf wat ek in ’n boek van die baie gerespekteerde teoloog Dorothee Sölle raakgelees het – The Silent Cry: Mysticism and Resistance. Sy herinner ons daaraan dat alle godsdienste – nie net die Christendom nie, maar enige wêreldgodsdiens – drie elemente met mekaar deel.4 Eerstens is daar die “formele” kant van godsdiens – dit is die tipe “vorm” waarbinne die godsdiensuitlewing gegiet word. In meer formele taal sal ons dit die historiese geïnstitusionaliseerde deel van godsdiens noem. En ons weet, as die vorm eers gegiet is, moet daar mos behoorlik toesig gehou word oor die vorm sodat dit darem min of meer oral dieselfde lyk. Omdat dié vorm vir mense belangrik word, moet die vorm dan ook beskerm word (selfs al word lewens daarvoor opgeoffer …). Maak nie saak waar jy byvoorbeeld in ’n Anglikaanse kerk instap nie, as die vorm betroubaar gevolg word, sal jy dadelik die “stempel” van die Anglikane daar kan raaksien. Stap – wêreldwyd – in ’n Joodse Schull in; of by ’n Moslem-moskee … dan gaan jy waarskynlik dadelik weet waar jy is. Daar is met ander woorde ’n “vorm-eiesoortigheid”. In die Christendom (en veral die Katolieke Kerk sal hierdie opmerking goed verstaan) sou ons dit kon vergelyk met die rol wat Petrus vir die kerk speel.
Tweedens, as deel van alle godsdienste, is daar ’n intellektuele kant. Dit is die gedeelte wat vir ons vertel wat die inhoud is wat ons glo. Ons sou dit “teologie” kon noem. Ons sou dit die Paulus-metafoor kon noem. Dit verteenwoordig die analitiese en intellektuele deel van ons geloof en die manier waarop ons die inhoud kan bestudeer. Selfs ook oor daardie dinge waaroor ons spekuleer en stry. Ons het almal maar ’n groot dosis Paulus in ons godsdiensbeoefening. Daarom moet ’n mens “reg” glo. Daarom kom daar ook skeuringe tussen mense as mense “anders” begin glo. As jy “anders” glo, besluit diegene wat “reg” is, dat die nuwe groepering ’n “sekte” is, totdat die nuwe groepering groot genoeg raak, dan word die bordjies verhang. Onthou net ook, selfs al is jy nie ’n Christen nie, het jý ook ’n Paulus-kant – daardie deel wat analities dink oor hoekom jy nie glo wat ander glo nie, selfs jou motivering waarom jy glo wat jy glo, en waarom jy jouself wil distansieer van hulle wat nog op ’n “ou manier” glo.
Die derde deel het met die mistieke te make. Die Bybelskrywer wat hier as ’n metafoor gebruik word, is Johannes. Dit verteenwoordig die intuïtiewe emosionele deel van ons geloof. Johannes is die liefdesapostel, die een wat op vele maniere praat oor die eenwording van Jesus met God. Lees byvoorbeeld die laaste gebed van Jesus net voor sy inhegtenisname in Johannes 17. Daardie gebed kom nie by die ander Evangelies voor nie. Dit is mistieke taal by uitstek: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees … Ek in hulle en U in my …”
Vir ’n klomp eeue het ons in die Weste oorwegend “ge-Petrus” en “ge-Paulus”. Ons het ál meer ontwikkel tot meesters van die analitiese denke. En tog weet ons: Min mense word getransformeer deur bloot praat. Kennis verander selde mense se gewoontes. Dink maar net aan ons swak eetgewoontes al “weet” ons van beter.
Dit is selde dat ’n preek op ’n Sondag iemand se lewe radikaal verander. In die kerk “be-leer” ons mekaar – veral in die gereformeerde tradisie met ’n geleerde dominee. Die kans is goed dat dit ’n doktor van teologie is – alleenpratend en ’n gemeente luisterend. Ons kennisvlakke word miskien met al die nuwe inligting vermeerder, maar ons lewe lyk nie veel anders ná al die geleerdery nie. Met ons koppe mag ons die “regte” antwoorde kan gee, maar dit verander selde ’n duit aan ons hart.
Ons is ook selfs meesters met die vorms wat ons kies waarbinne ons onsself wil uitdruk. Of dalk – vanuit die tradisie waarbinne ek leef – het ons meesters van die gestroopte vorm geword. Die minimum ritueel. Geen hulpmiddels. Kaal mure. Glasvensters is daar om lig in te laat, nie om ikone in te smee nie. Slegs die analitiese en skerpsnydende woord (van die dominee) en Woord (wat verkondig word). Ons “verstaan” die liefde van God, dink ons, vanuit ons Paulus-manier. Ons as instelling het selfs die liefde in so ’n spesifieke vorm gegiet dat óns besluit het wie mag deel wees van die vorm en wie nie. ’n Lang ruk was dit: swart eenkant, wit anderkant; deesdae is die groot vraag gays aan watter kant? Die straights het nie ’n probleem nie. Die Belharbelydenis maak dit nou weer eens vir ons ongemaklik, want nou konfronteer dit ons al weer met “ons” en “hulle”. Is God nou op ’n “buitengewone” manier aan die kant van die armes? Kan tog nie, want wat van ons wat nie arm is nie? En, ja, die Belharbelydenis is ’n “struggle”-belydenis – maar wie “struggle” nou deesdae? So “Paulus” ons op sinodale vlak, in ons eredienste en in ons gesprekke om die etenstafel.
Maar the times they are a-changin’! Dit is soos ’n onderwater-aardbewing waarvan die trillinge nog nie die land se oppervlak bereik het nie. Maar dit is daar. Dié met fyner ontwikkelde intuïsie is reeds besig om op te let na die onmisbare. Die soeke na méér. Daar is ’n groeiende behoefte aan die mistiese intuïtiewe deel van die geloof.
Ek kan nie anders nie as om te glimlag en tong in die kies te sê: Dit is toe nie die “Age of Aquarius” wat sou aanbreek en waarteen ons Christene al die tyd gewaarsku is nie, dit is die “Age of St. John”. Omdat ons, metafories gesproke, vir Petrus en vir Paulus “voorgetrek” het, het Johannes eenkant gaan staan. Tog het Johannes nie weggegaan nie. Hy het geweet dat hy die een of ander tyd na vore gaan tree, want, net soos in die geval van die onversorgde siel, gaan ook die spirituele behoeftes nie weg nie, dit wag geduldig om gehoor te word.
Ons het iets verloor en dalk is dit die herontdekking van die Johannes-metafoor wat ons kan help om dit weer te vind. Johannes, as die mistiese intuïtiewe deel van geloof, help ons om te begryp dat die “verstaan” van die liefde kan verander in, soos Dorothee Sölle dit passievol beskryf, ’n ervaring van “die passievolle gekheid van die liefde”.
As jy as ’n Christen hier lees, wil ek jou herinner dat ons glo dat Jesus die “absurditeit” van God se liefde verteenwoordig. Dit is totale malligheid dat mense moet glo dat God vir die wêreld kom wys het hoe liefde lyk – en dit in die gestalte van ’n mens. Ons kan dit Paulinies – metafories gesproke – bestudeer. Ons kan dit selfs, soos ’n Petrus, in ’n bepaalde vorm giet en aanbid. Wat maak ons, as Johannesse, daarmee?
In alle mistiese godsdienste (neem kennis, nie net in die mistieke uitlewing van die Christendom nie) is die liefde ván God die beweegrede wat ’n liefde vír God by mense aanwakker. Geen mens kan die opdrag om God lief te hê nakom as die opdrag nie verander in ’n vryheid van keuse nie. Jy kan nie iemand met ’n opdrag dwing om I/iemand lief te hê nie. Maar as dit ’n eie keuse word, dan word die opdrag uitvoerbaar. Dit gebeur wanneer jy so deur die Liefde oorweldig word dat die enigste reaksie daarop jou eie gedrag vol liefde is.
Die mooiste uitdrukking van iemand wat dit intens verstaan het, was ene Rabi’a al-Adawiya, ’n Moslemvrou en self deel van die Soefi-beweging uit die agtste eeu. Luister net na hierdie roerende gebed waar sy iets van hierdie liefde vir haar God uitbid:
Allah, as ek U liefhet uit vrees vir die hel, laat ek dan brand in die hel.
As ek u liefhet uit hoop op die Paradys, weerhou dan die Paradys van my;
maar as ek liefhet ter wille van U Self, weerhou dan tog nie
u ewige skoonheid van my nie.
Dít is iemand wat haar totale verslaafdheid aan God so kon uitleef dat sy op ’n keer kon bid: “Wat U ook al vir my beskore het, gee dit aan u vyande; watter deel van die skepping U ook al aan my wou skenk, gee dit aan u vriende, want U alleen is genoeg vir my.”
Ek glo dat ons behoefte aan hierdie absurditeit, die totale verslaafdheid aan God se liefde, baie mense se smagting is. Dit is wat ons bedoel as ons praat van die dít wat nie reg is nie. Natuurlik is daar baie mense wat kan opstaan en sê ek is gans en al tevrede met my lewe net soos dit is. Natuurlik is daar selfs gelowiges wat wil glo dat ons niks moet verander aan enige styl wat aan ons bekend is nie. Ek het baie respek vir mense wat hulself op ander plekke op die reis bevind. Maar ek wéét, al is dit bloot my eie weet, dat iets in my resoneer terwyl ek, stotterend en met ongeoefende woorde, probeer vertel dat daar “méér” is. Gewis is ek nie alleen nie. ’n Magdom mense probeer dié smagting op ’n verskeidenheid maniere vul, maar tog, wanneer ons – soos Rumi ons herinner – soggens deurmekaar wakker word, besef ons dat ons weer ’n keer op die verkeerde plek aan die slaap geraak het. Ons is nog nie tuis nie …