Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 13

Twee stories

Оглавление

Die Amerikaanse teoloog Walter Brueggemann help ons baie as hy verduidelik dat daar in die samelewing twee kragte is wat teen mekaar werk.2 ’n Mens sou dit ook twee stories kon noem. Aan die een kant is daar ’n “lekkerluister-storie”. Omdat dit ’n storie is wat so “sag op die oor val”, is dit die storie wat die meeste in ’n samelewing oorvertel word. Herhaal die storie elke dag, dan word dit die bekendste een. Later glo die meeste mense dat dit die enigste moontlike storie kan wees. Hierdie “blitsverkoper” vertel dat ons net die beste verdien, daarom is dit heel in orde as ek dit wat ek laas jaar gekoop het hierdie jaar vervang (want wie wil darem nie “goeie nuus” glo dat hulle net die beste verdien nie?). Die storie vertel vir ons wie ons rolmodelle moet wees; blaai maar na die agterste bladsye van gesinstydskrifte: Daar kry jy hulle wat suksesvol, dinamies, ryk en daarom bekend is. Dit is selfs ’n storie waarin mense vir mekaar vertel aan wie se kant God is (en wie dus God se vyande is, want óns vyande word gewoonlik ook God s’n …). As God aan jou kant is, sal jy (om die grillerige uitdrukking te gebruik) “uit jou sokkies geseën” word. Belowe God dan nie immers, so herinner ons mekaar, om “die grondgebied uit te brei” van “sy volk” nie? Selfverryking het altyd so ’n lekker soet smakie. Solank ons veilig voel – en die leiers van die dag vir ons die “regte” antwoorde gee, sodat ons tog net vannag rustig kan slaap en nie byvoorbeeld oor nasionalisering van goudmyne hoef wakker te lê nie – dan is daar mos g’n rede om ontevrede te wees met hierdie slapbandstorie nie.

Hierdie storie is die storie waarbinne die meeste Westerse, moderne mense leef. Want, ja, die meeste Westerse mense glo steeds in God, so wys die navorsers vir ons. Hoe meer ons gesekulariseerd raak, hoe meer verkies ons net ’n ander “naam”: “Groter Realiteit”; “Krag”; “Energie”. Dit moet ál meer ’n G/god word wat natuurlik by ons gesekulariseerde leefstyl pas. Dit is selfs die storie wat in baie kerke vertel word: God kies kant, óns s’n natuurlik. God wil hê dit moet met ons goed gaan, ons is immers “koningskinders”. “Ons Pa is die Koning”, sing ons lustig saam met die kleuters. Omdat die storie so baie vertel word, begin ons ons lewe volgens die beginsels van dié storie leef.

Maar daar is ’n ander storie ook.

Ons hoor hierdie storie nie so gereeld nie. Dit is nie ’n storie wat so lekker oorvertel word soos die ander meer gewilde een nie. Ook nie ’n storie waarna ’n mens so aandagtig kan luister soos die een wat vertel van sukses en skoonheid en voorspoed en seëninge nie. As jy in ’n mooi huis bly, ’n vol klerekas het, gemaklik jou seevakansie elke jaar hou, dan klink ’n storie wat jou uitnooi om so bietjie aan die “ander kant van die draad” te gaan loer nie na ’n #1 op die trefferlys nie.

Hierdie storie, die meer kritiese storie, herinner jou – sonder ophou – aan die mense wat dit nie so gemaklik as jy het nie, wat nie aan hierdie kant van die snelweg bly nie. Hierdie storie herinner jou gereeld aan hulle wat anders as jy dink en klink. Hulle laat jou ongemaklik voel. Hulle laat jou skuldig voel, vanselfsprekend, want daar aan daardie kant van die hoofpad waar hulle bly, lyk dit allermins mooi en suksesvol. Hierdie minder gewilde storie gaan nie oor beter en meer nie, inteendeel, dit gaan oor broosheid en deernis. Dit gaan nie oor sterker nie, dit gaan oor dieper. Dit gaan nie oor sekuriteit nie, dit gaan oor weerloosheid. Dit gaan nie oor selfverryking nie, dit gaan oor medemenslikheid. Menswees. Hierdie storie se punch line wil min mense regtig glo: Die Outeur van die storie het nie bedoel dat daar twee verskillende wêrelde, die wêreld van die haves en die have nots, moet wees nie. Wat hierdie storie nog slegter maak, is dat as jy eenmaal die storie gehoor het, dan verwag die Outeur van jou om krities te wees teenoor die meer gewilde een. Nou moet jy die draer van ’n ongewilde storie word!

Vir niemand is dit lekker nie! Wie wil nou ongewild wees? Immers weet ’n mens wat met Jesus gebeur het toe Hy ’n nuwe koninkryk as alternatief teen die Romeine s’n kom probeer vestig het …

Dit is wat gebeur as ’n mens in kontak met jou siel kom. Sielsmense sien deur die misleidings van die gewilde stories. Hulle begin ál meer ontdek hoe die meerderheid mense geblinddoek deur die lewe gaan. En dít is sielsmense wat sag begin neurie, selfs hardop sing, the times they are a-changin’.

Woestynwysheid

Подняться наверх