Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 14
’n Nuwe ontwaking
ОглавлениеGodsdienswetenskaplikes skryf al ’n paar dekades lank dat ons op die punt staan van die geboorte van ’n nuwe era. 3 Daar is ’n golf op die horison, gereed om te breek: Die psige van die mensdom is herkenbaar besig om te verander. En nee, ek praat nie van iets soos ’n wêreld nadat die een of ander Planeet X ons gaan tref nie. Ek praat van ’n verandering in die manier waarop ons oor menswees dink.
Die 21ste eeu is sekerlik een van die opwindendste tye ooit, só vertel die mense wat met hul hand oor hul oë die horison dophou. Ons wat so maklik krities is oor die tyd waarin ons leef, moet dalk heel nuut oor onsself begin dink. Eintlik is dit ’n hoogtepunttyd. Die nuutheid begin in óns leeftyd aanbreek.
Dit is nie die eerste keer dat so iets nuuts gebeur nie, maar dit is ook nie asof dit elke nou en dan gebeur nie. Daar is ’n teorie wat meen dat dit min of meer drie millennia gelede is dat daar vir die eerste keer so iets opwindends veranderend met die mensdom gebeur het: in die jare 800 – 200 v.C. Gedurende daardie tydperk, so verduidelik die godsdienshistorici, was daar vir die eerste keer sprake van georganiseerde godsdienste wat wêreldwyd vorm aangeneem het: die Zoroastrianisme in Persië, Vediese Hindoeïsme, Boeddhisme en die Jaïnisme in Indië. Dit was die tydperk waarin ’n handvol prominente mense met hul absoluut unieke manier van dink die leefstyl van mense heeltemal verander het. Dit sluit onder andere ’n paar Joodse profete in, veral Jesaja, Amos en Jeremia. Dit is ook in daardie tyd dat die grootste Griekse filosowe, met Sokrates, Plato en Aristoteles op die voorgrond, in Europa die wêreld op ’n spesifieke nuwe manier begin bedink het. Aan die ander kant van die bekende wêreld tree ’n ander klomp filosowe uit ander kulture na vore, byvoorbeeld die Chinese filosofiese reuse Lao-Tzu, Confucius en Mencius. Dit is nie noodwendig name wat in die algemeen aan ons bekend is nie. Die punt is dat daar in hierdie periode van die mensdom se bestaan (800 – 200 v.C.) “iets” gebeur het wat mense heeltemal anders oor menswees laat begin dink het. Dit was ’n draaipunt.
Voor daardie periode was die mensdom mitiese, ritualistiese stamme, wat net op ’n (kollektiewe) manier oor menswees kon dink. En toe kom daar die eerste ontwaking: Mense begin op ’n nuwe morele manier oor die lewe dink. Hulle begin op ’n spesifieke manier oor God dink. God wat selfs groter as die natuur is. Skeppergod. Hulle begin nuut dink oor wat heilig is. Oor wat goed is. Oor hoe om te leef. Oor wat die mens se posisie in die skepping is.
Onthou darem ook dat nie alles van daardie tydperk noodwendig goed was nie. Dit was ook die begin van die tydperk waar mense dualisties oor die lewe begin dink het, met ander woorde hulle het ’n onderskeid begin maak tussen die aarde en die hemel, tussen liggaam en siel, tussen wat hulle as goddelik en menslik beskou het, en tussen die enkeling en die groep.
Soos wat die eeue voortgegaan het, het die fokus mettertyd weg van die groep na die individu toe verskuif. Waar die groep, byvoorbeeld die kerk, aanvanklik bepaal het wat mense kon dink, het die geloof in die individu langsamerhand die geloof in en van die groep onttroon. Ál meer mense het begin protesteer dat daar aan hulle voorgeskryf word terwyl hulle van mening was dat hulle mos vir hulself kan dink. Toe was dit nie meer die God-van-die-kerk nie, maar die God-van-die-wetenskap wat aanbid word. Of dalk moet ’n mens dit eerder beskryf as “Die wetenskap as God”. Mense het ál hoe meer gefokus op dit wat hulle kon sien. Dit het vanselfsprekend geword om te redeneer dat, as God nie gesien kan word nie, geloof nie moontlik is nie. Ál meer mense het begin protesteer teen enigiets wat met geloof te make het, want, het hulle geredeneer, is dit nie uiters subjektief en daarom nie bestudeerbaar nie? Gevolglik het godsdiens ál meer ’n “privaat” saak geword, want dit pas nie in ’n sekulêre, dominant natuurwetenskaplike wêreld se verstaan van hulself nie. En, ja, godsdiens is selfs as gevaarlik vir die voortbestaan van die mensdom beskou. Hierby vind ’n mens aansluiting, want ons weet immers wat alles al “in die naam van geloof” gedoen is.
Waar die ontstaan van godsdiens in die tydperk 800 – 200 v.C. die begin van iets nuuts vir die mensdom aangekondig het, so het daar toe weer iets nuuts gebeur. Toe was die fokus nie meer op formele godsdiens nie. “Spiritualiteit” het met die aanbreek van hierdie nuwe era die fokuspunt begin word. Godsdiens is iets waarop jy jou stempel kan plaas en sê “myne” en “hande tuis”. Met die formele godsdiens kan mense “reg” glo – en daarom ook “verkeerd” glo. Diegene wat verkeerd glo, kan selfs “verwerp” word.
Spiritualiteit is egter iets anders. Spiritualiteit is iets wat alle mense met mekaar deel, omdat dit deel van ons menslikheid is. Hierdie verskuiwing is deur ’n nuwe insig voorafgegaan. Mense het begin insien dat ons in ’n wêreld leef waarin ons weet dat ons dit nie meer kan bekostig om nog groter verdeeldheid te skep nie. Ons leef nou in ’n tyd waarin ons besef hoe gevaarlik ’n “ondeurdringbare ons” en ’n “vyandige hulle” is. Dit is hier waar ons as Christene met ons eie ongemak gekonfronteer word. Wat maak ons in hierdie nuwe era met ons idee van “uitverkorenheid”? Maar laat ons vir ’n oomblik eers aangaan met die idee dat iets nuuts aan’t gebeur is …
Hoekom is hierdie aanbreek van “’n nuwe era” belangrik? Allereers laat dit ons sekerlik nuut dink oor wie ons is. ’n Nuwe bewussyn word onder en in ons gevorm. ’n Nuwe verstaan van menswees – maar hierdie keer nie geïsoleerd van die omgewing waarvan ons deel is nie. Allermins geïsoleerd van God. Baie mense wat “die ou storie” wil voorhou as die “enigste storie” protesteer. “Nee, dit moet bly soos wat dit was,” baklei hulle. Baie wil steeds besluit wie die “regte” en die “ware” besitters van die Waarheid is. Gewoonlik meen ons dit is óns, vanselfsprekend … Ons wil steeds met sekerheid weet aan wie se kant God is. Vanselfsprekend aan die “Godsmense” se kant, óns kant …
Die nuwe storie se stem kan nie meer stilgemaak word nie.
The times, they are a-changin’. Een teken daarvan is dat ons nie meer ’n onderskeid wil maak tussen wat “spiritueel” is en wat “gewoon” is nie. Tussen liggaam en siel nie. Waar begin die een; waar eindig die ander een? Ons begin ál meer praat van die “heilige gewone”. Daar is nie sekere dinge wat heilig is en ander dinge wat, per implikasie, nie heilig is nie. Dit is ons wat kies hoe om met alles wat heilig is om te gaan – die natuur, mense, besittings – en ’n ander aard daaraan gee. Die skrywer van die Levitikusteks het dit eeue gelede al verstaan. Petrus wat sy briewe destyds aan die Asiese provinsies gestuur het, het dit verstaan. Dalk kan ons, twee millennia later, dit wel begin verstaan. Meer nog, dalk kan ons hierdie ou, ou wysheid begin uitleef: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Ek twyfel self nie dat ons by ’n kruispad is nie. Dit hoef nie noodwendig die aanbreek van ’n allesveranderde nuwe era te wees nie. Dit gaan ons buitendien nie eers weet nie. Dit is mos nou nie asof Jeremia of Plato of Confucius destyds geweet het dat hulle ’n spesifieke era ingelei het met hul sogenaamde nuwe manier van dink oor die lewe nie. Dit is die voorreg van die mense wat jare ná ons gaan leef, wat daardie bevestiging sal kan maak, al dan nie.
As ek luister na die mense saam met wie ek leef en werk, as ek na my eie hart se taal luister, en as ek die magdom boeke lees wat hieroor gesels, dan weet ek: Ons soek iets méér! Ek soek iets meer! Jare lank al.