Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 6
’n Soeke na … méér
ОглавлениеSou dit waar wees dat mense se grootste potensiaal nie opgesluit is in hul intellektuele vermoëns nie, maar wel in hul verbeeldingskrag? Dalk is dit wat Richard Forster dan bedoel as hy in sy klassieke boekie, Celebration of Discipline, skryf dat die wêreld nie ’n behoefte aan slimmer of begaafder mense het nie. Daarvan is daar baie! Die wêreld het ’n dringende behoefte aan “dieper” mense. Ons wil graag vooruitgaan (en dit is waarvoor stewige dosisse intellek nodig is), maar vooruitgang is nie ons dringendste nood nie. Die wêreld se sug is – dringender en dringender – na verdieping. Om ’n vriend aan te haal: “Ons het genoeg kundigheid om baie staalbrûe in ons land te bou, maar ons kort kundiges om ons te help om die afgebreekte brûe tussen gemeenskappe te herstel.”
Kyk ek om my dan weet ek dit is waar. Oppervlakkigheid is die strik waarin ons almal se enkels verstrengel raak; kitsbevrediging is die struikelblok waarteen ons met toe oë onsself nerfaf stamp. Kits-kos; kits-winkeldienste; kits-antwoorde; kits-verligting. Ons hou van vinnige, maklike, gerieflike, selfhelp-idees. Dit moenie te moeilik wees nie, want dan verloor ons belangstelling: “Tien maklike treetjies hemel toe” (Dit is nou as ’n mens nog aan die hemel glo, bygesê). Sukses moet gewaarborg wees, want deursettingsvermoë en geduld is nie juis ons sterk punt nie. Allermins blink ons in sukkel uit! “Eet wat jy wil en verloor gewig” is veel meer bemarkbaar aan ’n ek-wou-dit-gister-al-gehad-het verbruiker as “Verander jou leefstyl … langsamerhand … permanent.”
Hoog vlieg! Hard leef!
Tussendeur word ons gebombardeer met suikerlagie-beloftes van gemaklik, lekker, suksesvol, dinamies. Tog, daar is oral protesterende stemme wat ons waarsku dat hierdie leefstyl nie op die lange duur vir ons (en vir die wêreld waarin ons leef) volhoubaar is nie. ’n Leefstyl van selfgerigtheid en selfverryking hou sy eie ondergang in hom opgesluit. Wat ons vooruitgang noem, is subtiele ondergang. Iemand gaan die een of ander tyd die prys van ons selfgerigte leefstyl betaal – al is dit dan die geslagte ná ons wat swaar gaan dra aan “die sondes van vandag se vaders en moeders”.
In my spreekkamer hoor ek mans én vroue, volwassenes én tieners, welaf én hulpbehoewend, gereeld sinne gebruik soos:
“Dit voel asof ek myself nie ken nie.”;
“Bolangs dink my kollegas ek is so kalm, maar as hulle net weet … ”;
“My deurmekaar lewe is eintlik net ’n metafoor van my deurmekaar binneste.”;
“Ek voel buite beheer.”
Alles gaan eintlik oor ’n enkele sug: Daar moet tog méér wees aan die lewe as dít! Wanneer iemand met soveel klem daardie woordjie “dít” uitspreek, weet ons gewoonlik instinktief wat die persoon bedoel, al het ons nie dadelik ’n naam daarvoor nie. Ons almal ken die “dít”; ons almal kla daaroor. Iets … “dít” … is besig om, soos ’n parasiet, die lewe uit ons te suig. Wat die “méér as dit” moet wees, daaroor krap ons kop! Die wete dat ons nie die “méér as dit” het nie, laat ons met ’n leë, onvervulde gevoel. Ons voel verneuk. Iets skort en ons kan net nie ons vinger daarop plaas nie. Luister bietjie na hoeveel keer mense om jou hul ontvlugtingsbehoeftes verwoord: “Dalk moet ons platteland toe trek?” Kom mense op die platteland, dan sit “dít” hulle en inwag op die voorstoep. “As ek maar net ’n jaar kon afvat om by myself uit te kom.” Asof jy ooit van jouself af weg was om nou by jouself te moet uitkom?