Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 5

’n Lewe vol teenstrydighede

Оглавление

’n Vreemde plek, dié plek wat ons ons aardse woning noem. Ons weet ons bly nie permanent op hierdie planeet nie, tog kies ons om ons lewe so in te rig dat dit die illusie van “vir altyd en altyd gelukkig saam” skep. Ons weet dat niks wat ons op hierdie aarde bymekaarmaak ons na die volgende lewe (waar dit ook al kan wees) kan vergesel nie, maar ons hou steeds ’n eienaardige en onversadigbare versamellus in stand.

Vreemde spesie, hulle wat ons mense noem. Ons kan mateloos ontsteld raak oor plooie en pap spiere, tog kan ons by ons medemens met ’n opsigtelike probleem verbyleef sonder om ’n verdere gedagte oor hulle na te hou. Ons is uitgesproke krities oor ander mense en ander kulture, sonder dat ons ’n enkele aand al onder hul lakens geslaap het. Ons kan met diepe medemenslikheid die lot van vreemdelinge op ’n ander kontinent – ná ’n groot natuurramp – ons so aantrek, maar ons kan met ’n liefdelose ongevoeligheid van “hulle” praat wat net oorkant die heining van ons bly.

Ons is vol uiterstes! Ons weet dat dit vir ons allernoodsaaklik is om ses of wat porsies vars groente en vrugte op ’n dag te eet, daarom sluk ons die beste vitamine-aanvullings uit die gesondheidswinkel se oorvol rakke saam met ons wegneemetes. Dit is goed vir ons gemoed om daagliks twintig minute sonlig te kry, tog kies ons om ure in neonverligte winkelsentrums te drentel. Ons beskou onsself as bevoorreg wanneer ons met sonsopkoms teen vyftien kilometer per uur in die wildtuin voortkruie, soekend na “lewe”, maar laat ons nou net – óók ’n vroegoggend, óók teen ’n uiterse slakkepas – in die stadsverkeer aansukkel met opsigtelike lewe om ons …

Die meeste van ons leef ’n baie gewone lewe – sommige sal dit selfs as saai beskryf. Gebeur daar niks in ons lewe nie, voel ons vaal en vervelig. Doen ons te veel, voel ons oorstuur en buite beheer. Ons dink graag aan onsself as individualiste, tog meet die meeste van ons onsself (en mekaar) aan die standaard wat ander stel. Die meeste mense wat ek ken, is bolangs heel gelukkig, maar krap so bietjie aan die oppervlaklagie, dan is daar by baie ’n ontevredenheid. Ons wil graag ’n betekenisvolle lewe leef, maar ou leefpatrone is soms so gevestig dat ons aanhou wens dinge kon anders wees, sonder om die ongemak aan te durf van nuwe gewoontes aan te leer om sinvolheid te ervaar. Ons weet dat die lewe oor meer gaan as eet-en-drink-en-’n-lekker-tyd-hê, maar min sal dieselfde hoeveelheid energie aan “dieper dinge” bestee teenoor om die alledaagse bloot in stand te hou.

Inderdaad ’n vreemde wêreld. Met nog vreemder mense wat daarop woon.

Woestynwysheid

Подняться наверх