Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 18

Vir jou eie nadenke …

Оглавление

Ek is baie bewus daarvan dat hierdie hoofstuk “dig” geskryf is, met ander woorde, ’n klomp inligting, kompak en teenaan mekaar. Ek wil jou aanmoedig om die “digtheid” te “ontrafel”. As jy dus paragraaf vir paragraaf, weer van voor af sou deurlees, wat is die sinne wat jy dalk die eerste keer onderstreep het? (Dit is nou as jou boeke, soos myne, amper soos studieboeke lyk.) Waarom het jy dit onderstreep? Waarom het jy ander gedagtes nié onderstreep nie? Dit wat ons uitlaat is soms meer insiggewend as dit wat ons raaksien. Watter notas het jy in die kantlyn gemaak? Waarom? Wat praat met jou? Wat nie?

Wat gaan in jou lewe aan dat jy hierdie boek, nóú, in hierdie periode van jou lewe, lees? Hou deurentyd een vraag in gedagte: Hoe verskil dit om te lees as jy met die bril van ’n “verbruiker” lees of met die bril van ’n “verdieper”?


Is jy een van die mense wat voel dat “daar tog méér moet wees aan die lewe as dít”? Wat is jou “dit”? Vergeet eers die “meer”. Raak net eers bewus van jou “dit”.


Wat is die een besluit, na aanleiding van hierdie hoofstuk, waaraan jy jouself aanspreeklik wil hou? Wie gaan jy daarmee help? Wanneer gaan jy jouself toets om te kyk of jou besluit in jou lewenspatroon ingegraveer is?


Sou jy dit kon regkry om ’n hele maand lank, daagliks, die gebed van Rabi’a al-Adawiya jou gebed te maak?


God, as ek U liefhet uit vrees vir die hel, laat ek dan brand in die hel.

As ek U liefhet uit hoop op die Paradys, weerhou dan die Paradys van my;

maar as ek liefhet ter wille van U Self, weerhou dan tog nie u ewige skoonheid van my nie.

Word bewus van dit wat jy bid. Elkeen van hierdie sinne hou die “geheim” in van ’n lewe van intimiteit met en voor God. Wat gebeur met jou as jy God vertrou om hierdie gebed in jou lewe te antwoord? Wat vra jy as jy dit bid? Wat is jy bereid om te laat staan as jy dit bid? Wat wil God van jou hê as jy ernstig is oor hierdie gebed? Wat wil God vir jou gee as jy hierdie gebed uitleef?


1 Herman van Veen, 2005, CD – In vogelvlucht

2 Doen gerus ’n internetsoektog met die woorde “Brueggemann, 19 theses” – daar is ’n magdom verwysings na hierdie deurdagte stellings van dié Ou-Testamentikus.

3 Kyk byvoorbeeld na die voorwoord van Raimon Panikkar (2010) se The Rhythm of Being. The Gifford Lectures. Karen Armstrong skryf ook in The Great Transformation. The World in the Time of Buddha, Socrates, Confucius and Jeremiah (2006) en The Case for God. What Religion Really Means (2009) hieroor.

4 Alhoewel ek hier na Dorothee Sölle verwys, is dit eintlik die 19de-eeuse teoloog Friedrich von Huegel wat die skepper van hierdie triade van die “institusionele, die intellektuele en die mistiese” is.

5 Gegewe die geloofstradisie verstaan ek die gebruik van manlike terminologie waarmee Vader Steindl-Rast die drie-enige God beskryf. Ek dink dit is meer uitdagend om nuwe metafore vir God te gebruik, soos “Vrygewige”, of “Gasvrye”, in plaas van “Vader”. Daarom dink ek dat meer mense gemaklik sal wees met ’n uitdrukking soos “Die lewe kom vanuit die Lewegewer self, die fontein en die bron van goddelikheid, die vrygewige Gewer. … Die drie-enige God is Gewer, Geskenk en Dankbaarheid.”

6 Hierdie metode wat ek begin toepas het, staan tradisioneel as “Lectio Divina” bekend. Daar sal later weer verwysings hierna wees, maar ek gaan dit nie grondig verduidelik nie. Deur trefwoorde soos “Sacred reading” of “Lectio Divina” te gebruik, sal jy baie inligting op die internet vind.

Woestynwysheid

Подняться наверх