Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 12
’n Lied van protes
ОглавлениеDinge kan nie meer dieselfde bly nie.
’n Proteslied is altyd gekoppel aan ’n beweging wat kritiek lewer teen ’n sekere sosiale situasie van onreg. Die doelwit van die protesteerder is om die samelewing wakker te laat skrik. Al singend roep kunstenaars dit oor mikrofone uit: “So kan dit nie aanhou nie.”
Elke era bied sy eie stemme wat protes aanteken teen wat verkeerd gaan in daardie samelewing. Of dit die negro-spirituals is waar slawe mekaar singend bemoedig (en die slawe-eienaars uitdaag) met die herinnering dat God nooit van hulle kan vergeet nie, dat God hul eksodus uit hierdie slawerny sal bewerkstellig; en of dit rock-musikante is wat sing oor menseregte-skendings as gevolg van rassisme, protes teen die oorlog in Viëtnam of jare later in Irak of Afganistan; of protes teen die vaders van apartheid uit die monde van ons eie alternatiewe Afrikaanse proteskunstenaars soos in die 1980’s in Suid-Afrika sing, sing ons ons liedere om te sê: The times they are a-changin’!
Een ding glo ek: Wat verkeerd is, kan nooit vir ewig verkeerd bly nie. Die lewe het in haarself ingebed hierdie basiese leefbeginsel: Wat verkeerd is, word nooit permanent onder die mat ingevee nie. Het Paulus nie ook so iets gesê nie? Daardie sinnetjie van alles sal in die lig geopenbaar word? Jy kan byvoorbeeld dink dat jy met toe oë verby die nood van ander kan kyk, maar die een of ander tyd dwing die lewe jou om jou oë oop te maak. En as dit die nood van jou eie honger siel is, dan sal daar weldra opstand vanuit jou binneste kom, al is dit in die vorm van ’n siekte. Ek herinner weer aan wat Thomas Moore sê: Jy kan maar begin rondkrap in al jou ander obsessies, verslawings, aggressies … jou siel se protes word nie so maklik onderdruk nie. Uitkom sal dit uitkom, hoe krom en skeef, of in watter patologie dan ook al. Die vraag natuurlik is of jy die siel se protestaal sal kan interpreteer? Soos menige mens wat in spreekkamers beland jou sal kan sê, as jy dit nie reeds self al ervaar het nie, die siel praat nie so duidelik Afrikaans nie. Hoe minder ons aandag aan die siel se sugte gegee het, hoe minder sal ons in voeling wees met die oorspronklike “moedertaal” van ons binneste, die taal van ons siel.
As dit waar is van die individu, is dit waar van die samelewing. Ook die samelewing se siel roep uit: “Dit kan nie so aanhou nie!”