Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 7

’n Soeke na … wakker wees

Оглавление

Allermins wil ek ’n prentjie skilder van ’n lewe wat net tollend op ’n afdraande-pad-na-vernietiging voortspoed (as gevolg van ons verslawing aan voorspoed); dat dit jou eintlik meer neerslagtig laat as opgewonde oor die geskenk dat jy vandag leef. Glad nie. Daar is baie mense wat ek ken wat op die “op-julle-merke-gereed”-leefstyl floreer. Daar is selfs nog meer mense wat ek ken wat nie eers vreeslik nadink oor hul tipe leefstyl nie. “Vat dit soos jy dit kry” is ’n gewilde motto van menige. Inderdaad het iemand al selfs vir my, heel tongklikkend, gesê: “Dit is omdat jy nie genoeg sports (opwinding?) in jou lewe het nie, dat jy so broei oor die lewe. Get a life!”

Tog wil dit nie vir my lyk asof “genoeg sports” aan mense die regte sleutel gee waarmee hulle die deur na vervuldheid kan oopsluit nie. Dit is juis waarmee ek my besig hou, nie net met die skryf van hierdie boek nie, maar in my daaglikse nadenke as ’n teoloog en ’n medereisiger op hierdie pad genaamd Lééf: die vraag oor hoe ’n lewe van heelheid en dieper welsyn dan lyk. Hoe lyk “vervuldheid”? Wat my interesseer (en ek beskou dit as my roeping) is om na te dink (en mense te begelei wat daarna vra) oor wat Johannes se woorde sou kon beteken dat Jesus gekom het om vir ons die lewe te gee, “… en dit in oorvloed”. Hoe lyk so ’n lewe? Sê nou maar net ons sou nie tevrede wees met oppervlakkigheid nie? Hoe sou ’n lewe lyk waar ons nie met slaapwandelaarstatus tevrede is nie, maar werklik wakker is om die volle lewe te ervaar?

Mense wat asemhaal maar nie werklik leef nie, is nie ’n moderne probleem nie. Gaan blaai in die Ou Testament rond. Jesaja skryf etlike kere: “Word wakker, Israel!” Elke keer met sulke groot uitroepe. Klaarblyklik was dit nie net die Jode, en later die Christene, wat met hierdie slapende-wakkerwees sukkel nie. Doer ver van die Midde-Ooste af, Indië se kant toe, min of meer in dieselfde tyd as wat Jeremia en Jesaja geleef het, sit nog ’n man en filosofeer oor mense wat halfpad leef in plaas van voluit. Volgens die Boeddha (wat die Pali-woord is vir “die een wat ontwaak het”) leef die meeste mense nie werklik nie. Wat hy rondom hom sien, is mense wat die grootste deel van hul lewe in ’n slaaptoestand deurbring. Hulle leef, ja, maar hulle is nie wakker nie.

My Boeddhisvriend verduidelik dit só aan my: “Volgens die Boeddha gaan die meeste mense deur die lewe asof in ’n droom. Hulle is in die vlees teenwoordig, maar hul gees is afwesig, onbewus van wat rondom hulle is. “Om te “ontwaak” (of, in ander woorde, soos wat volgelinge uit hierdie tradisie glo: om ’n “Boeddha” te word) is om wakker te skrik en te sien wat werklik rondom jou aangaan. En toe vertel hy vir my hierdie besondere storie juis om die punt te illustreer:

Nadat die Boeddha “wakker geword het” (met ander woorde, nadat hy die insigte gekry het wat skielik vir hom … aha … die sin van die lewe openbaar het), het ’n medereisiger hom op sy reis teëgekom. Die man was verwonderd oor die gevoel van vrede en kalmte wat hy in die Boeddha se teenwoordigheid ervaar het. Hy kon hom verkyk aan die man se stralende gesig. Hy moes eenvoudig weet: “My vriend, wat is jy? Is jy ’n bonatuurlike wese, ’n god dalk”? “Nee” antwoord die Boeddha. “Wel dan, is jy ’n wonderwerker of ’n towenaar?” Weer eens antwoord die Boeddha, “Nee.” “Is jy dan een van ons?” “Nee”. “Maar my vriend, wat is jy dan?” Die Boeddha antwoord: “Ek is wakker.”

Om die geheim van die lewe te verstaan, het duidelik iets te make met ontwaking. Net ’n eeu of wat, nadat Paulus ’n bekende liedjie van sy tyd in ’n brief vir ’n groepie Christene aanhaal: “Kom, kom, kom, Efese, word wakker julle wat slaap en staan op uit die dood,” skryf die biskop van Lyon, Irenaeus, hierdie wysheid: “God word verheerlik deur iemand wat werklik leef.” Baie mense ken die woorde van Irenaeus in Engels: “The glory of God is a human fully alive”. Waarom sou Irenaeus dit gesê het? Dit is seker ’n logiese afleiding dat Irenaeus met hierdie woorde sy tydgenote wou wakker maak deur hulle te herinner dat die manier waarop hulle leef, ’n refleksie is van hoe hulle oor God dink. Dit moes sekerlik tog as ’n aanmoediging dien vir die mense van sy tyd om te verstaan dat God se verheerliking nie deur ’n “halwe lewe” kan gebeur nie, nie waar nie?

Nie net die Christene of selfs mense onder ’n Bodi-boom in Indië wonder hieroor nie. Dit is ’n menslike probleem, ongeag waar jy leef. Dalk ken jy hierdie woorde van Rumi, ’n dertiende-eeuse digter, filosoof en Soefi (’n mistiese uitdrukkingsvorm van Islam):

Waarom, as God se wêreld so groot is, het jy in ’n tronk – van alle plekke – aan die slaap geraak?

Dit is asof ’n mens die verbasing van iemand hoor wat uitroep, waarom is jy met tweede beste (of selfs derde of vierde) tevrede as jy die beste aangebied is? Hoekom is jy – dan nog boonop uit vrye keuse – ’n gevangene in ’n selfgemaakte tronk? En dít terwyl God se hele skepping tot jou beskikking is om jou lewe in uit te kan leef!

Ek wil my eie altstem by die dreunsang voeg; al helder wordende uit die vuur: Dit is nie hoe dit bedoel is om te wees nie! Ons kan nie ons vaal lewe verryk met korttermynkragtoertjies nie. Ons het nie meer “sports” nodig nie. Ons het nie méér en groter en suksesvoller nodig nie. Ons het dieper nodig!

Woestynwysheid

Подняться наверх