Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 9

’n Soeke na … nóú

Оглавление

In Grieks is daar twee maniere om tyd te beskryf. Chronos (waar ons woord kronologie vandaan kom) is die manier hoe ons na tyd kyk as ons dit in eenhede afmeet. Chronos-tyd moenie gemors word nie. Chronos-tyd het ’n werkslys wat afgemerk moet word voor die dag om is. Mense met hul oog op chronos-tyd moet op ’n bepaalde uur in ’n vergadering instap en behoed jou as jy laat is. ’n Chronos-samelewing glo “tyd is geld”. ’n Chronos-samelewing kla: “Kyk waar staan die tyd al!” Dit is ’n samelewing wat glo dat daar te min tyd kan wees. Tyd kan opraak. Om nou sommer die Engelse uitdrukking direk in Afrikaans te vertaal: “Ons kan uit tyd uit hardloop.” Presies. Dit kan net gebeur met ’n nimmereindigende haastigwees. Soos Herman van Veen sing 1:

Opzij, opzij, opzij

maak plaats, maak plaats, maak plaats

we hebben ongelofelijke haast

opzij, opzij, opzij

want wij zijn haast te laat

we hebben maar een paar minuten tijd

we moeten rennen, springen, vliegen, duiken,

vallen, opstaan en weer doorgaan

we kunnen nu niet blijven

we kunnen nu niet langer blijven staan.

Chronos-tyd laat ’n mens gejaagd en uitasem. Dit voel asof jy permanent in spitstyd op die N1-van-jou-lewe is. En soos al die ander gejaagdes om jou wil ook jy net so vinnig as moontlik uit die spitsverkeer wegkom, daarom dat jy altyd op soek is na nuwe korter roetes. Sodat jy net nie tyd hoef te mors nie. Jy begin allerhande lewenstruuks aanleer om deur jou dag te kom, want onthou, elke minuut is kosbaar …

’n Chronos-samelewing vergeet dat daar ook ’n ander manier is om tyd te beleef: kairos-tyd. Kairos is die nóú-tyd. Die tyd van geleenthede. Dit is die tyd vir mense wat met oop oë leef. Hier waar ek op hierdie oomblik is, is die beste geleentheid vir my, want ek is nie nou op ’n ander plek nie. Maklik gesê. As dit ’n lekker plek is waar jy is, dan is nóú nie sleg nie. Maar as jy slegte nuus gekry het? As jy alles wil doen om die nóú net ’n bietjie vorentoe te kry?

Tog, ja, kairos vra van jou om dit as die oomblik van jou lewe te beskou, want dit is nóú! En die nóú is reg. Kairos-mense hou nie nóú konstant die tyd dop omdat ons nóú-nóú weer op ’n ander plek moet wees nie. Kairos-tyd is ’n ontmoetingstyd, waar elke oomblik afhanklik is van al my sintuie, sodat ek die kairos-oomblik nie deur my vingers laat glip nie, want hierdie kairos-oomblik sal nooit herhaal kan word nie. Dit is altyd eenmalig. Dit is nie dat kairos-tyd nie chronos-tyd nodig het nie. Dit is eintlik dat chronos-verslaafdes vergeet dat hulle binne kairos-tyd leef. Chronos raak ’n afgod as kairos se stem stilgemaak word. Chronos eis: “Staan op aandag.” Kairos nooi uit: “Kom sit langs my.” Kairos bied ’n verhouding aan. Nie net met mense, of myself, of die omgewing nie, maar veral met die oomblik waarin ek leef.

Dit is nie óf die een óf die ander nie, ons weet dit. Chronos is nie ons vyand nie, want ons leef buitendien in die ritmes van elke dag se son wat opkom en saans se skemering. Chronos-tyd is nodig, want ja, ons het gaste vir aandete genooi en ons wil darem graag aan tafel aansit, met die kos betyds gaar voordat die gaste weer moet ry. ’n Kairos-gesindheid is nie ’n ontvlugting dat ons nie ons verantwoordelikhede moet nakom nie. Die probleem is dat ons leef asof ons nie albei nodig het nie! En juis dit is wat ek en soveel ander terapeute elke dag in spreekkamers sien: mense, tot die dood toe moeg. Nie net ’n lyfmoegheid nie, veral ’n sielsmoegheid. Omdat die siel onversorg is. Omdat die oog net die paadjie na Chronos se wysers ken.

Woestynwysheid

Подняться наверх