Читать книгу Woestynwysheid - Ronell Bezuidenhout - Страница 17
Stoepkuiers
ОглавлениеVoordat ons die lewe en nalatenskap van ’n paar van ons geloofsvoorouers ontdek, wil ek jou herinner dat die bedoeling van hierdie boek nie is om as ’n gemaklike en vinnige leesboek gebruik te word, wat ná die tyd weer in die boekrak moet stof vergaar nie. Alle skrywers droom seker dat hul boek nou dié boek moet wees. Helaas, nee. Hierdie boek is nie dáárdie boek nie. Dit is ook nie bedoel om ’n “grote” te wees nie. Daar is waarskynlik min wat jy in hierdie boek gaan lees wat jy in elk geval nie dalk êrens al gelees het nie. Hoe jy hierdie boek gebruik, kan egter bepaal of daar enige betekenis vir jou lewe kan wees.
Kom ek verduidelik dit uit my eie lewe. Ek is ’n passievolle leser. Ook ’n passievolle boekkoper. Om die waarheid te sê, ek het boeke op my rak wat ek – doelbewus – gekoop het met die gedagte dat ek wel eendag sal kans kry om dit te lees. Ek het soveel boeke wat halfpad gelees is, omdat daar altyd ’n nuwe een is wat meer uitnodigend lyk. So het ek eendag besef dat ek, ook wat my leesstyl betref, kniediep in die slaggat van ’n verbruikersmentaliteit getrap het. Ook mý versameling van inligting is net as ’n verbruiker. Die vraag waarmee ek lank moes worstel, is of my lewe enigsins anders lyk danksy al die boeke wat ek al gelees het? Of lees ek omdat dit interessant is en gaan dan net op die gewone manier voort met my lewe, asof ek nie gelees het nie?
Daarom het ek ’n persoonlike besluit vir my eie lewe geneem dat ek, nadat ek ’n boek gelees het, of terwyl ek dit lees, moet begin om te interpreteer.6 As ek lees, moet ek nadink, met mense daaroor praat. In my gedagtes met myself. Met God. Ek moet teruggaan – ’n paar maande nadat ek ’n boek gelees het – en myself toets: Het daar diepte gekom in die paar maande? Of moet ek dalk die boek weer lees? Nog langer met die boek sit?
So het ek met my ritueel van “stoepkuiers” begin. Dit is wat ek my vroegoggende se meditasietyd noem. Dit is my tyd van lees, nadink en mediteer. Dit is die tyd waar ek my Johannes kans gee om my Petrus en my Paulus aan te vul.
Ek wil jou nooi na my stoepkuiers: Dit is waar hierdie boek vorm aangeneem het. By die tafel op my stoep, met die kerse aangesteek, want menige oggend is dit nog donker wanneer ek gaan aanskuif saam met ’n skrywer van ’n boek; omring deur God, met ’n pen in my hand op my notaboek. So begin my dag.
Trek vir jou ’n stoel nader. Ek laat jou lees aan sommige gedagtes waaroor ek in my lewe nadink. Dan word jy ’n getuie van my lewe en kan ons mekaar medeverantwoordelikes van ons lewensreis maak. Dalk word iets in jou wakker gemaak om met jou eie reis-na-binne te begin: die nadenke oor jou eie lewe; die soeke na jou eie diepgang.
Stoepkuiers
Ek haal hier ’n paar dae se inskrywings aan, my nadenke oor wat ek geleer het by Kerkvader Irenaeus en die teoloog Walter Brueggemann.
“God word verheerlik wanneer iemand werklik leef.”
Koffie op die stoep, ongemaklik warm, selfs al is dit so vroeg in die oggend. Dit moet begin reën. Alles is droog.
Ek dink deesdae baie oor wat ek by Brueggemann leer. Of ons nou wil of nie, ons word “geskryf”. Die kultuur waarin ons leef, skryf ons storie. Ons word soos die “dominante storie” wat ons geskryf het.
Al wat die dominante storie kan uitdaag, skryf Brueggemann, is ’n alternatiewe storie.
Wat sou die “oorspronklike storie” wees? Seker dat God ’n verhoudings-God wil wees. Net soos God, skep ons verhoudings om mee te leef. Ons manier en God se manier verskil egter. Ons skep vir ons stories om ons gebrokenheid te kamoefleer. Ons skep stories met ons eie reëls, ons vergeet van God s’n. Ons bou verhoudings om ons, ja, (omdat ons – as God se beeld – die vermoë daartoe het) maar ons verhoudings is mure, dit is nie deure nie. Ons het voorwaardes oor wie deel van daardie verhoudings mag wees.
Wat is die voorwaardes wat ek stel in die verhoudings waaraan ek bou? Wie sluit ek uit? Op watter manier koop ek in op die “dominante storie”? Op watter manier daag ek die storie uit?
Ek kan nie slaap nie!
Brueggemann hou my kop besig. Hy sê ons word soos die gemeenskap waarbinne ons leef. Wat ’n gedagte!
Ek kyk na die voorblaaie van tydskrifte en dit ontnugter my. Ons bemark volmaaktheid. Ons is gefassineer met die ideale: plooiloos, jeugdig; vetloos; suksesvol, dinamies. Sien mens ooit op ’n interieur-tydskrif ’n shack? Gestremdheid word net op ’n voorblad van ’n tydskrif “gevier” as dit ’n Olimpiese “blade runner”-ster is. Andersins voel die meeste van ons te ongemaklik met gebrokenheid. Ons skep vir ons illusies van volmaaktheid – wat gewoonlik teen ’n asemsnakkende prys uit ’n botteltjie bemark word.
Dit is die gemeenskap waarbinne ek leef. En hierdie gemeenskap het ’n invloed op my: Dit vorm my, so suutjies en subtiel dat ek dit nie eers agterkom nie. Wat nog van bevraagteken.
Hoe ontmasker ons hierdie valsheid?
Daar is veral een plek waar ons die “ideale” prentjie wil voorhou, dit is in ons geloof. Ons wil darem so graag die ideale en gelukkige prentjie voorhou; diepgelowige mense, en ons maak ons eie standaarde van wat ons as diep beskou. So sien ons nie kans om eerlik oor ons twyfel en ongeloof te gesels nie. Gemaskerdes. Êrens het ek gelees dat die woordjie vir persoon of persoonlikheid dieselfde woord in Latyn vir “masker” is. Toneelspelers het destyds maskers gedra. Nie veel anders as die meeste van ons nie. Ons neem verskillende rolle aan, na gelang van wat die situasie van ons vra.
Mensig, dit is diep goed hierdie. Agter watter maskers voel ek veilig?
Ek is lui op die oggende wanneer ek later kantoor toe gaan. Wens ek kan my eie dissiplines meer gedissiplineerd inoefen …
Noudat ek daaraan dink, dit is juis een van ons (my?) probleme. Ons wil so goed wees. Hoekom? Wie wil ons beïndruk? Great pretenders de luxe. (Invoeging: Ek het later die woorde van Freddie Mercury – of is dit eerder The Platters – se “The Great Pretenders” ingeplak aan die kant van die dag se inskrywing.)
Oh yes I’m the great pretender
Pretending I’m doing well
My need is such I pretend too much
I’m lonely but no one can tell
…
Oh yes I’m the great pretender
Just laughing and gay like a clown
I seem to be what I’m not (you see)
I’m wearing my heart like a crown
Pretending that you’re still around
Volmaaktheid is eintlik ver-ont-mens-liking. Dit degradeer ons menswees. Dit is oneg. As volmaaktheid ’n illusie voorhou van die ideale menswees, hoe moet die “alternatiewe” storie (soos God dit bedoel het) tot sy reg kom?
Hoe sal my gedrag wees as dit regtig vanuit egtheid geleef word?
Ek was gister Sediba toe. By Prashant gaan kuier. (Invoeging: Ek verwys hier na ’n Katolieke retraitesentrum en na die priester wat daar gewoon het; hy is ’n paar jaar gelede oorlede. Vir ’n geruime tyd was hy my geestelike begeleier.) Ek het vir Prashant vertel van die nuwe boek wat ek van John de Gruchy gelees het (Being Human … Confessions of a Christian humanist). Dit is toe dat hy drie ander boeke gaan haal. Al drie boeke het een ding gemeen: die lewe en hoe om eg mens te wees.
In al hierdie boeke lees ek is daar een gedeelde aanhaling. Dit was so opsigtelik, ek kon dit bloot nie miskyk nie. In al drie boeke lees ek die kerkvader Irenaeus se woorde raak: “The glory of God is a human being fully alive.” Toevallig? Drie verskillende boeke, een aanhaling? Ek het met Prashant daaroor gesels. Wat in my onbewuste maak dat ek by dié sin vashaak? Dat ek oral waar ek lees daarmee gekonfronteer word? Ek glo dit is betekenisvol as daar sulke gedagtes oor en oor in ’n mens se kop maal, of op jou pad kom. Prashant sê: “Don’t fear death, fear a life not fully lived.” Hy sê ek moet oor dié sin mediteer totdat ek weer na hom toe gaan.
Hoe lyk voluit leef? Leef ek voluit? Sekerlik nie. Hoekom sal ek dan so huiwerig wees om hieroor te skryf? Wat weerhou my? Wat sien Prashant raak wat nog vir my verbloem is?
Daar is twee bosloeries wat nes gemaak het in die koorsboom. Die een is erg nuuskierig. Hy probeer sien wat ek hier op die stoep doen. Skuif ek my lyf uit sy sig, spring hy op ’n ander tak. Ek is mal oor die voël.
Die eerste maand van die jaar is so te sê verby. Die dae is so vol, maar is dit sinvol vol? (Ha-ha … dalk is ek maar soos die voël, nuuskierig oor alles, spring van tak tot tak rond. Moet niks mis nie.)
Ek het gisteraand ’n wonderlike sin van Thomas Merton in een van sy dagboeke gelees. “If you want to identify me, ask me not where I live, or what I like to eat, or how I comb my hair, but ask me what I am living for, in detail, and ask me what I think is keeping me from living fully for the thing I want to live for.”
Terwyl ek die woorde gelees het, het ek onthou van die ander sin wat ek in De Gruchy se boek onderstreep het: “For the purpose of Christian faith is not to make us religious, but to make us more truly human.”
Jimmel, dit is roerend. “Not religious, more human.”
Waarmee hou ons ons besig? “Religiosities.”
Ek wonder hoeveel regte egte mense ken ek? Mense wat eg broos is? Want is dit nie maar wat menswees is nie …
Gister was ’n slegte dag. Ek probeer so hard om “gesentreer” te leef, maar dan gebeur iets en raak ek sommer van balans af. Genade, hoe lank moet mens iets in-oefen voordat dit ’n gewoonte word? Ek moet myself oor en oor herinner, my wysheid is nie iemand anders s’n nie. As iemand nie die groter prentjie kan snap nie, dan is die persoon nog net nie gereed daarvoor nie.
“----” (’n vrouenaam) was gister by my in die spreekkamer. Hoe de ongeluk kan sy haarself so bluf? En dan haar eie leuens glo? Dit is niks anders as iemand wat so toneelspeel dat sy later die rol as haar enigste script ken nie. (Ek is weer terug by Brueggemann.)
Hoekom mag niemand weet dat ons worstel en sukkel nie? Daar is goed wat ons eerder ontken as om dit onder die kombers te laat uitkom; ons sal nie praat oor iemand in die familie se alkoholprobleme nie; ons praat nie oor ’n kind se dwelmafhanklikheid nie. Ná die tyd sal mense sê: “Maar dit was so ’n ideale gesinnetjie …”
Dit is dalk hoekom Olivier Clement se sin vir my so belangrik is: “Much more serious is the state of death we are in even while we are alive.”
Ons is konstant besig met pogings om te verbeter, of skuldig te voel omdat ons dit nie doen nie. “Voluit leef” is vir ons “méér doen”. Jy raak benoud oor jou “lysie van 50 moet-doens-voor-ek-doodgaan” waarby jy nie gaan uitkom nie.
Dit is nie wat “voluit menswees” beteken nie. Beslis nie méér en nóg nie. Dit is nie nóg goed wat moet bykom op jou vurk nie.
Ek moet onthou om vir my Martha Beck se boek te koop. In De Gruchy se boek het hy daarna verwys. Klink fassinerend. Expecting Adam. De Gruchy skryf oor die vrou, Martha, wat ’n Downsie kry:
I have discovered that many of the things I thought were priceless are as cheap costume jewelry, and much of what I labelled worthless was, all the time, filled with the kind of beauty that directly nourishes my soul. Now I think that the vast majority of us “normal” people spend our lives trashing our treasures and treasuring our trash.
Om werklik jou lewe te omhels, is om die Gees toe te laat om die oëverblindery te ontmasker. ’n Voller lewe is in die totaal onverwagte te vinde: nie “harder” leef nie, wel mensliker. Nie selfgerig leef nie, inteendeel, wel vrygewiger met jou menswees.
Ons is geskep. Ons het onsself nie beplan nie. De Gruchy beskryf dit so mooi: Daar is nie ’n ideale mens nie, daar is net regte mense soos onsself, daardie mense saam met wie ons leef en werk en hulle wat ons op die sypaadjies ontmoet.
Die laaste ruk begin ek besef wat Brueggemann bedoel het met die taak van die kerk (of eerder geloofsgemeenskappe, want dit is meer as die kerk. Dit sluit eintlik die taak van alle godsdienste in). Ons moet mense help (veral in ons land) om eerlik(er) te leef. Ons moet ruimtes skep waar dit oukei is om nie voor te gee nie. Ons moet ruimtes skep waar dit oukei is om broos en gebroke te wees. (Wie is nie?) Die alternatiewe storie het met hoop te maak. Eerlike, egte mensheid is hoopvol, juis omdat ons nie volmaak is nie. “Eg mens” beteken om altyd met deernis te leef – juis omdat ons ons gebrokenheid in ag neem. Is dit nie Plato wat ons juis herinner om sag met alle mense te wees nie, juis omdat daar geen mens is wat nie ’n swaar vrag op sy skouers dra nie. Hoopvol en vol deernis. Dit is die kenmerk van ’n mensch. Dit is sulke mense, eg, wat weet …
nie perfek nie … maar eerlik
nie perfek nie … maar worstelend
nie perfek nie … wel soekend
nie perfek nie … maar vergewensgesind
nie perfek nie … maar twyfelend gelowig
nie perfek nie … maar voluit mens-hoopvol.