Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 10
7
ОглавлениеMaria Wolhuter se huis is verwaarloos, sien Kassie sommer dadelik. Die verf op die mure van die indrukwekkende tweeverdieping dop plek-plek af. In die tuin groei kakiebos geil in ’n roosbedding. Die water van die visdam is groen, met slierte vetterige slyk wat op die oppervlak dryf.
Maria maak die deur oop nog voor Kassie die klokkie lui. Haar glimlag is breed.
“Jy lyk nog net soos altyd, Kassie!” sê sy en soen hom vlugtig op die wang. “Jy weet nie hóé baie ek dit waardeer dat jy gekom het nie.”
Hy stap agter haar aan na die ruim sitkamer, waar ’n klomp kinderspeelgoed oor die mat gestrooi lê.
“Verskoon tog hoe dit hier lyk.” Sy beduie hy moet op die stoel oorkant haar sit. “Fransie slaap vanaand oor by ’n maatjie, maar hy’t nog ná skool sy spul karretjies hier kom uitpak.”
“Hoe oud is hy nou?” vra Kassie.
“Agt. Hy’t eergister verjaar.” Sy skud haar kop, haar oë skielik nat. “Arme kind, hy’t gehoop sy pa . . .”
Maria het aansienlik ouer geword sedert Kassie haar laas gesien het. Sy’s steeds aantreklik, maar plooie vorm ’n netwerk oor haar gesig. Haar eens pikswart haredos is deurspek met grys strepies. Sy’t ook gewig verloor, haar wange is ingesonke en haar hande benerig. Sy moet in haar vroeë veertigs wees, maar lyk vyftig.
“Vertel my van Barnie,” sê Kassie.
Sy sit terug in die stoel, haar gesig strak, haar oë gerig op haar inmekaargevlegte hande. “Jy wil nie weet nie . . . Vandat hy by die polisie weg is, het sy lewe buite beheer getol.” Sy kyk op na hom. “Dwelms.”
“Dwélms?”
Sy knik. “Al lankal verslaaf daaraan. Tot in ’n stadium my erfjuwele gesteel en verkoop vir dwelmgeld. Hy’t elke maand byna sy hele salaris daarop geblaas. En hy’t ’n lót verdien.” Sy sug moedeloos. “Ek’t hom juis daaroor al drie jaar gelede uit die huis geskop. En hy’t ’n tyd terug sy werk verloor. Toe tussen die boemelaars gaan intrek.”
Sy stut haar kop in haar hande. “Ek sal dié plek moet verkoop en weer gaan werk. Barnie het my erfgeld uitgeleef . . . En hy betaal uit die aard van die saak lankal nie meer onderhoud nie. Ek begin nou swaar trek, en arme Fransie ly daaronder.”
Trane blink in haar oë, maar sy vee dit met haar voorarm weg. “Kan ek vir ons koffie gaan maak?”
“Nie vir my nie, dankie. Jy’t op die foon genoem Barnie het verdwyn. Vertel my hoekom jy dit vermoed.”
Sy skuif vorentoe in haar stoel. “Barnie het elke week vir Fransie kom kuier. Dis die een ding wat hy nooit oorgeslaan het nie. Ek het hom lankal nie meer in die huis toegelaat nie, want jy moes heeltyd dophou dat hy nie steel nie. Maar hy’t stiptelik elke Dinsdagmiddag vir Fransie kom kuier en dan het hulle in die tuin gespeel. Dit was Fransie se hoogtepunt van die week. Die afgelope paar Dinsdae het Barnie nie opgedaag nie. Fransie was natuurlik baie teleurgesteld. Hy’t Woensdag verjaar en ek het hom verseker sy pa sal beslis dan kom. Barnie het nog nooit ’n verjaardag van Fransie oorgeslaan nie.”
“Toe daag hy ook nie Woensdag op nie?”
Sy knik.
“Jy moet een ding onthou,” sê Kassie paaiend, “mense wat aan dwelms verslaaf is, is nie bekend vir hul betroubaarheid nie. Dalk het hy net vergeet. Of dalk was hy só onder die invloed dat hy bloot nie in staat was om te kom nie.”
“Ek het ook so gedink. Maar Fransie was in so ’n toestand dat ek gister en vanoggend na Barnie gaan soek het. Daar’s geen spoor van hom nie.”
“Weet jy waar hy bly?”
“Ja, hier in Nuweland, onder die spoorwegbrug naby die rugbyveld. ’n Huisvriend van ons het hom eenkeer daar tussen die boemelaars gewaar. Ons is toe gister saam soontoe, maar nie een van die ouens weet waar Barnie is nie. Ek is vanoggend weer op my eie soontoe . . .”
“Dit moet jy nooit weer doen nie,” berispe hy haar, “dit kan gevaarlik wees.”
“Ek was desperaat, Kassie!”
Hy glimlag verskonend. “Vertel verder.”
“Daar was ’n man met die naam van Boepie, hy was nie gister tussen die spul nie. Hy sê hy en Barnie is goeie vriende, maar hy’t Barnie die afgelope drie weke nog nie gesien nie. Dis vir hom ook vreemd, want Barnie bly al die afgelope vyf maande daar. Hy’t tot vir my Barnie se slaapplek tussen die bosse gaan wys. Ek het die kombers herken wat ek ’n tyd terug vir hom gegee het. En daar was ’n splinternuwe speelgoedkarretjie, nog in die verpakking. Boepie sê Barnie het vertel dis sy present vir sy seuntjie se verjaardag.”
Sy vee moeg oor haar gesig. “Ek het vanmiddag al die hospitale gebel, ook al die polisiestasies in die suidelike voorstede. Geen spoor van hom nie.”
Meteens begin sy onbedaarlik huil. Haar skouers ruk.
“Fransie sal verpletter wees as sy pa iets moet oorkom,” sê sy tussen die snikke deur. “Jy móét hom vir my opspoor, Kassie!”
* * *
Daardie naweek het my haat vir Smiley ontkiem. Dit sou met verloop van tyd groei tot ’n allesverterende haat.
Hy en Sophia het mekaar opgevry. Ek het myself in die rondawel sit en bejammer. Dit het gevoel asof my lewetjie geen nut meer het nie, dat ek ’n totale mislukking is. In die donker ure van die nag het my brandende jaloesie oorgeslaan na wraakgedagtes. Die meesterskuif van my wraakplan was om Vicci die Maandag by die skool te vertel van Smiley se ontrouheid.
Dit het sleg geboemerang. Vicci en Sophia het mekaar gedurende pouse te lyf gegaan. Ek het as sondebok in die skoolhoof se kantoor beland omdat ek volgens Sophia en Smiley “kwaadwillige stories versprei het”.
Kort daarna het Sophia en haar gesin teruggetrek Engeland toe. Uganda was nie vir hulle nie, en Sophia was nie vir my óf Smiley bestem nie.
En so het die lewe voortgegaan: Vicci gelukkig aan Smiley se sy en ek meisieloos, verbitterd en broeiend.
Maar Uganda is ’n eensame plek sonder maats. Boonop het Smiley uit sy pad gegaan om weer my guns te wen. Hy het selfs om verskoning gevra, wat volgens my wete ’n eerste – en laaste – vir hom was.
* * *
Die veldwagters werk rof met die stroper. Hulle pluk hom op sy voete en die leier klap hom hard deur die gesig.
Natasha keer toe een van hulle die stroper met die geweerkolf in die ribbes wil bykom. “Kom ons gedra ons soos beskaafde mense, al is ons almal lus om die bliksem te vermorsel.”
Sy is gefrustreerd oor die ander twee stropers so maklik weggekom het, en geskok oor die teenstropereenheid se onbeholpenheid.
Die leier praat in Sepedi met die stroper terwyl hy hom aan die kraag rondpluk. Die stroper se oë is wyd gerek, hy stamel en stotter.
“Dis ’n wit man van Bela-Bela vir wie hulle dié job moes doen,” verduidelik die leier vir Natasha. “Hy sê dis die eerste keer wat hulle renosters sou doodmaak.”
“Wie’s die wit man?”
Weer word die stroper rondgepluk en met vrae bestook. Die man praat rukkerig, maar trek heeltyd sy skouers op.
Die leier draai na Natasha. “Hy sê die man se naam is Piet, maar hy ken hom nie eintlik nie. Hy weet net die man bly op Bela-Bela, maar hy weet nie waar nie. Die man het hulle op ’n plek in die bos ontmoet. Hy’t die geweer vir hulle gegee. Hulle sou elkeen ten thousand vir die job kry.”
“Wanneer sou hulle betaal word? En waar?”
Die leier praat met die stroper.
“Hulle moet hom eers gephone het as hulle die horings het.”
“Het hy die man se telefoonnommer?”
Die stroper skud sy kop en stamel iets.
“Sy leader sou die man phone. Hy ken nie die man se nommer nie.”
Natasha kyk moedeloos na Gert. Dié loer steeds om hom rond asof hy enige oomblik ’n leeu uit die bosse verwag. Dis duidelik hy wil so vinnig moontlik hier wegkom.
“Ons is in ’n doodloopstraat,” sê sy. “Ons gaan niks meer uit hierdie donner kry nie.”
“Dalk verklap die geweer die wit man se identiteit.”
Sy skud haar kop. “Die kanse is zero.”
Sy vat die geweer by die veldwagter en bekyk dit. “Nes ek vermoed het, die reeksnommer is afgevyl. Jy gee nie ’n geweer vir ’n stroper as die ding na jou teruggetrace kan word nie.”
Sy staar nadenkend na die wapen. “Ek dink nie hy lieg daaroor dat dit hulle eerste operasie was nie. Die geweer het nie ’n knaldemper nie, nie eers een van daai ondoeltreffende goed wat hulle van blik maak nie. Hulle was beslis beginners.”
Die twee wat weggekom het, is hopelik lewenslank afgeskrik van stropery, maar sy weet daar’s baie in die buurlande én onder die plaaslike bevolking wat tou staan om sulke geleenthede te benut. ’n Gewete kan ’n luukse wees as jy arm is, en honger maak jou boonop blind vir gevaar. Dié Piet sal gou weer nuwe vrywilligers werf.
Soms maak die blote omvang van die stroperprobleem haar moedeloos, só erg dat sy wil tou opgooi. Dis nie net die georganiseerde bendes nie, maar ook gereeld ad hoc-groepies soos dié wat onder die renosters en olifante maai.
“Jy bloei,” sê Gert en wys na haar arm waar ’n doringtak haar gegaffel het. “Ons sal by die kamp moet kom.”
Sy lag. “Daai wondjie is niks. Onthou, ek het op ’n plaas in Zim grootgeword. Ons was ’n klomp rowwejêks.”
“Dit het ek vandag agtergekom,” brom hy.
Sy kyk na die leier van die teenstropereenheid. “Moet ons nie die ander twee probeer agtervolg nie? Ons kan met die Land Rovers baie tyd wen.”
Aan Gert se sug steur sy haar nie.