Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 7

4

Оглавление

Die skag waarin hulle die horings berg, is twee en ’n halwe meter diep. Freedom staan onder op die vloer terwyl die ander man dit van bo af vir hom aangee. Hulle bêre ook die twee gewere in die skag. Dan skuif hulle die swaar staaldeksel oor die opening.

Theodore sluit dit met slotte wat vas is aan vier hoekpenne wat sowat tien sentimeter bo die grond uitsteek. Hulle trek ’n groot plastiekseil bo-oor, vee met grasbesems grond en blare daaroor en pak dan die houtstompe bo-op.

Theodore knik dat hy tevrede is met hul handewerk. Hy oorhandig die geld in afsonderlike koeverte aan hulle, wat hulle met breë glimlagte vat.

“See you guys in a week’s time,” sê hy vir Freedom.

“We’ll be here, boss,” verseker Freedom hom.

Hulle bondel laggend by die bakkie in. Die enjin protesteer onder die swaar vrag hout toe hulle wegry. Theodore kyk die bakkie met ’n frons agterna. Hoeveel keer kan hulle dit nog waag om die Kruger onder dié dekmantel te verken?

Die volgende keer sal die laaste wees, besluit hy. Dis tyd vir ’n nuwe strategie . . . dalk weer toeslaan in die Bubiana in Zim. Hulle was lanklaas daar.

Hy stap na sy tent en haal ’n koue bier uit die yskassie. Gaan sit buite op sy kampstoel en neem ’n sluk. Die Bosveld se stilte word net versteur deur die sagte dreuning van die kragopwekker.

Onder ander omstandighede sou hy kon ontspan, maar die groot hoeveelheid horings in die skag pla hom. Dis miljarde rande werd. En die boodskap wat hy uit die Kaap gekry het dat hy nog ’n hele ruk daaraan moet vashou, maak hom nog onrustiger. Hy kan nie onthou dat hulle in die afgelope nege jaar soveel horings vir so ’n lang tydperk hier gestoor het nie. Maar hulle wag in die Kaap vir die regte tyd om die horings te verskeep. Daar is blykbaar vorentoe ’n risikovrye geleentheid.

Hy klap ’n muskiet op sy voorarm dood en neem nog ’n sluk bier. Die groot verantwoordelikheid om die goed veilig hier te hou en dan in die Kaap te kry, rus op sy skouers. Hy sal self moet bestuur. Met so ’n waardevolle vrag kan hulle nie vir Nolte vertrou nie, die bliksem ry te onverskillig. Boonop weet hy nie wat hy saam met die klomp kurio’s vervoer nie.

Theodore grawe in sy broeksak vir sy selfoon toe hy die piep-piep van ’n SMS hoor. Dis Freedom wat dankie sê vir die bonus van vyfhonderd rand wat hy by elkeen se betaling ingesluit het.

Theodore kyk peinsend na sy foon. Freedom Chiweshe . . . hul grootste bate.

Hulle het hom nege jaar gelede met die hand uitgekies. Hy was toe nog die leier van een van die Zimbabwiese sebra-bendes. Met sy behendige meswerk kon Freedom ’n sebrakarkas binne net vyf minute van sy vel stroop.

Met dié vaardigheid verkwis hy nie soos ander renosterstropers tyd om deur die horing te saag of om dit met ’n byl of panga te probeer deurkap nie. ’n Renosterhoring, anders as dié van ’n bok, het nie ’n soliede beenkern nie. Die horing ontwikkel bo-op die laag kraakbeen van die neus, amper soos ’n mens se vingernael. Vir iemand so mesvaardig soos Freedom was dit dus maklik om ’n tegniek te ontwikkel waar hy die horing binne enkele minute van die neus kan lig ná netjiese snywerk om die basis. Tyd bly van die opperste belang by enige stropings-operasie.

Tesame met die baie doeltreffende knaldempers vir die .303’s, wat Theodore-hulle spesiaal in die Kaap laat maak het, het Freedom en sy makkers (sy twee broers en ’n neef) in ’n uitsonderlike stropereenheid ontwikkel. Daarby het Theodore sý taak as die beplanner van operasies tot ’n fyn kuns geslyp, altyd ’n stappie voor die wildbewaarders.

Wat destyds die grootste indruk op hulle gemaak het, was dat Freedom nie wou verklap vir wie hy tot in daardie stadium gewerk het nie. Daar was stories dat ’n klomp wit mans, bekend as die Musina-mafia, betrokke was by handel in sebravelle, en dat hulle op verskeie Zim-bendes staatgemaak het vir hul voorraad. Freedom het ontken dat hy vir hulle gewerk het, maar het verder soos die graf geswyg.

Dit het Theodore oortuig: as Freedom en sy bende ooit betrap word, sal hulle nie praat nie. Boonop het hy hulle verseker hy sal vir hulle die beste regsverteenwoordiging kry en vir die regskoste instaan. Nie dat dit hulle veel bekommer nie. Dit het al ’n grap onder stropers geword oor hoe maklik hulle in die Suid-Afrikaanse howe loskom.

Theodore staan van die kampstoel op en strek sy arms uit bo sy kop. Soms vang die alleenheid en die stilte van die bos hom, al nege jaar sy lewenswyse. Hy skud sy kop. Hy gaan homself nie weer daaroor bejammer nie. Dis ’n keuse wat hy destyds gemaak het, en nou moet hy eenvoudig daarmee saamleef.

Hy stap terug in die tent en strek hom op die bed uit. Die moeilikste deel is om saam te leef met die gedagte dat hy verantwoordelik is vir soveel renosters se dood. Daardie wete knaag al meer soos ’n kanker aan hom.

En nou het hy nog die opdrag gekry om ’n skenking namens die maatskappy aan ’n bewaringsorganisasie te maak. Sogenaamd om hulle “te posisioneer as ’n maatskappy wat omgee vir die natuur”.

Hy sug. Sulke oëverblindery gaan nie help as hulle die dag uitgevang word nie.

* * *

Destyds het die wit hoërskool in die suidweste van Uganda nog minder leerlinge gehad as die laerskooltjie. Die meeste kinders is ná hul laerskoolopleiding Engeland toe. Maar ’n paar welvarende wit boere, onder andere Smiley se pa, het hulle hande diep in hul sakke gesteek om ’n lewensvatbare hoërskool vir die kinders van die Britse setlaars te vestig.

Toe ek sestien was, was daar net sewe leerlinge in ons klas. Vicci was die enigste mooi meisie in die hele skool. Dit was dan ook vanselfsprekend dat sy Smiley se meisie sou word. Hy was aantreklik, intelligent en verreweg die beste sportman. Hy het nie alleen al die atletiekbekers ingepalm nie, maar het ook soms saam met die hardebaarde uitgedraf vir die Kampala-klub se eerste rugbyspan, ’n sportsoort wat die setlaars onder die plaaslike bevokling gewild gemaak het.

Ek was nogal jaloers op Smiley se stories oor wat hy en Vicci alles doen wanneer hulle alleen is. Die seksdaad was destyds beperk tot my drome. In daardie stadium het ek nog nooit eens ’n meisie gesoen nie.

Trouens, toe ek een naweek saam met Smiley en Vicci plaas toe gaan, het ek die eerste keer wit vroulike borste in die vlees gesien. Ek en Smiley het altyd in die buitestort van riet gestort ná ons in die dam geswem het. Op dié Saterdagmiddag het Smiley vir my gefluister hy gaan saam met Vicci onder die stort inklim en dan kan ek deur ’n skrefie in die rietmuur na haar loer.

Ek het met ’n bonsende hart en ’n groeiende ereksie gekyk hoe Smiley haar swemklere uittrek. Die smal skrefie tussen die riete het verhoed dat ek haar onderlyf kon sien, maar die beeld van haar klein, ferm borsies was genoeg om my vir die volgende paar weke skietgoed te gee vir ’n hele klomp nat drome.

Ná daardie dag het ek dit selfs oorweeg om ’n verhouding aan te knoop met die vyftienjarige Monica Davies. Ondanks haar akneeprobleem en diklensbril was ek desperaat vir lyflike kontak. Sy was darem nie te onaardig gebou nie. Maar sy het nie in seuns belang gestel nie. Ek het begin berus daarin dat my regterhand my enigste bedmaat in die afsienbare toekoms sou bly.

Maar in die laaste kwartaal van daardie jaar verskyn daar toe ’n nuwe sendeling se beeldskone dogter op die toneel, kompleet soos in ’n sprokie.

Sophia.

En tóé word my lewe op sy kop gekeer.

Pirana

Подняться наверх