Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 14

11

Оглавление

“Die vier bliksems het elk net ses jaar tronkstraf gekry,” sê Karel Koster, Musina se bedrywige omgewingsjoernalis. Hy vee sy kuif uit sy oë, stoot sy diklensbril hoër op sy neusbrug en maak sy notaboek oop.

“Ja, dis ’n skande,” sê Natasha. “En die ergste is dat die baasbrein iewers hoog en droog sit en seker al klaar sy volgende stropingsoperasie beplan.”

“Presies. Ons gaan dié oorlog nie ’n donner wen nie.”

Natasha knik met ’n sug. Hoewel die stropers lig daarvan afgekom het, gaan hulle ten minste agter tralies sit. En dat dié spesifieke stropers vasgetrek is met inligting wat IESA ingesamel het, is darem nog ’n rede om die Amerikaanse donateurs te laat herbesin oor die begroting. Sy wil hulle toegooi met suksesverhale. Sy het gisteraand haar aanbevelings aan Sanparke gestuur oor hoe die teenstropereenheid hul werkswyse kan verbeter, met afskrifte aan Tim en die donateurs. Hulle moet kennis neem van die volle omvang van IESA se bydrae. Sy’t ’n vermoede Werner Erwee het in die verlede nie al haar verslae aan die Amerikaners deurgegee nie.

“Waaroor wil jy vandag praat?” vra sy vir Karel.

“Viëtnam.”

“Reg met my.”

Die joernalis kan soms bitter lastig wees en hy neem baie van haar kosbare tyd in beslag, maar hy skep goeie reklame vir IESA. Hulle is die afgelope paar maande besig met ’n reeks renosterartikels vir sy koerantjie. Hoewel die leserstal beperk is, stuur hy vir ekstra inkomste Engelse vertalings van die artikels aan ’n verskeidenheid oorsese bewaringspublikasies. Daardeur kry IESA en die renosterkrisis gereeld wêreldwye blootstelling.

“Net eers as agtergrond vir my lesers . . . hoe lank was jy destyds in Viëtnam?”

“ ’n Maand, maar toe was ek nog by die Conservation Action Trust. Dit was vier jaar gelede.”

Karel skryf, skuif weer sy bril reg. “Hoekom is juis die Viëtnamese so agter renosterhoring aan? Was hulle maar altyd die culprits?”

“Nee, China was die groot sondaar in die verlede. Dáár was renosterhoring vir bykans tweeduisend jaar ’n integrale deel van hul tradisionele medisyne. Hulle was tot in 1993 van die grootste gebruikers van horing. Hongkong het in ’n stadium die wêreldhandel in renosterhoring oorheers, merendeels vir Chinese gebruik. Taiwan was ook ’n groot eindgebruiker, hoofsaaklik voorsien deur Suid-Afrika. Maar streng Chinese wetgewing teen horinghandel het stroping in die middelnegentigs kwaai laat afneem. Hulle bly groot gebruikers, maar laat deesdae die vuilwerk aan die Viëtnamese oor.”

“Wanneer het die Viëtnamese dan op die bandwagon geklim? En hoekom juis hulle?”

“Sedert 2003 kan renosterstroping toenemend teruggespoor word na hulle. Die groot rede is Viëtnam se buitengewoon goeie ekonomie, saam met ’n wydverspreide herlewing van die geloof dat renosterhoring nie net ’n wonderkuur is vir kanker nie, maar vir ’n duisternis ander goed.”

“Soos wat?”

“Enigiets onder die son . . . artritis, rugpyn, hoofpyn, konvulsies, hoë koors, infeksies, babelaas, vergiftiging en om die gehalte van jou bloed te verbeter. Die probleem is dat die staatshospitale en duisende van die gesondheidsentrums tradisionele medisyne onderskryf. Ek het onlangs gelees advertensies op Viëtnamese webwerwe beveel renosterhoring aan vir meer as sewentig mediese toestande. Die aanvraag na horing raak elke dag net groter.”

“En wat betaal ’n mens daarvoor?”

“Belaglike bedrae . . . dit kan tot soveel as veertigduisend dollar per kilogram wees. En op die Chinese en Thaise swartmark behaal dit soms nog hoër pryse. Dit maak renosterhoring ’n uiters betalende bedryf vir die sindikate, as jy in ag neem watse peanuts hulle die stropers betaal.”

“Hoe neem hulle die horing in? Ek weet hulle maal dit.”

“Drink die fyngemaalde horing saam met warm water. Daar is letterlik honderde verskillende drankies en resepte vir horingdisse. Hulle bemark tot renosterwyn – dié sit glo die skop terug in ’n man se performance in die bed. Die horings word gewoonlik in klein stukkies opgesaag en só aan die verbruikers verkoop. Dis ook ’n helse statussimbool in Viëtnam om ’n renosterhoring teen jou muur uit te stal. Ryk sakemanne gee selfs deesdae stukkies horing as corporate gifts weg.”

Karel fluit deur sy tande en skryf verwoed. Ná ’n uur is hy tevrede dat hy genoeg inligting het. Hy maak sy notaboek toe en leun vorentoe.

“Ek’t gister met ’n Kaapse vriend oor die foon gesels. Hy’t vertroulik ’n groot storie by ’n pel van hom in die Valke gehoor. Blykbaar het die Valke-eenheid wat stroping ondersoek verlede week ’n warm tip van ’n anonieme inbeller gekry.”

Hy praat met ’n fluisterstem, iets wat Natasha altyd amusant vind, want daar is niemand anders in die omgewing nie.

“Die inbeller het homself glo Deep Throat genoem,” gaan Karel voort. “Hy beweer ’n sekere donner by die Viëtnamese konsulaat in Kaapstad is op groot skaal betrokke by renosterhandel. Hulle hou nou elke beweging van die knaap dop.”

Natasha skud haar kop. “Kan jy dit glo! Tot hul diplomate al!”

Karel steek sy notaboek in sy sak en staan op. “Sien jou oormôreaand by die Sakekamer se do. Jy’s glo die gasspreker.”

“Ja, ek voel eintlik skuldig dat ek nou eers my gesig daar gaan wys. Ek moes dit lankal gedoen het. ’n Mens weet nooit of daar potensiële skenkers is nie.”

“Dit kan jy weer sê. Almal wat tel in dié deel van die wêreld is gewoonlik daar.”

* * *

“Ek sien jy’s nou famous, Kassie,” sê kolonel Daniels vlak by Kassie se lessenaar. Hy hou die koerant omhoog sodat die ander in die kantoor dit ook kan sien.

Kassie lag verleë. “Ja, ek weet nie hoe hulle die storie so vinnig opgetel het nie.”

“Jy lyk moerse tevrede met jouself op daai kiekie!” spot Da Silva. “Pak omtrent tanne uit.”

“Kry jy prysgeld daarvoor?” vra Rooi.

Kassie skud net sy kop. Hy moet erken hy’s nogal ingenome met die foto en die beriggie. Toe die verslaggewer hom gistermiddag bel en die afspraak maak, kon hy nie vinnig genoeg by die woonstel kom nie. Vanoggend was hy al lank voor werk by die kafee om die koerant te kry. Hy’t dit omtrent heel deurgeblaai voor hy op die berig afgekom het. Hy hou veral van die opskrif: Plaaslike versamelaar palm groot internasionale seëltoekenning in.

Hy’t sommer vyf koerante gekoop.

“Vat dié maar vir jou,” sê Daniels en sit die koerant op Kassie se lessenaar neer. “Ek’t dit klaar gelees. Jy sal dit darem seker wil hou.”

“Dankie,” mompel Kassie sonder om op te kyk.

Daniels wil omdraai, maar steek vas. “Ek sien jy en Rooi het nou ’n saak van ’n vermiste ou by julle. Nogal ’n eks-poeliesman.”

“Ek en Barnie het saam by Bellville-stasie gewerk,” sê Kassie en vertel Daniels vlugtig wat hy weet.

“Ja, drugs is maar ’n bliksem. Hou my ingelig oor die saak,” sê Daniels toe hy uitloop.

’n Beklemming sak oor Kassie se gemoed. Hy weet die volgende vier-en-twintig uur gaan bepalend wees. Met Barnie se foto, fisieke beskrywing en persoonlike inligting by alle polisiestasies, lykshuise en hospitale in die Skiereiland, kan hy enige oomblik ’n oproep kry . . . ’n oproep wat nie noodwendig goeie nuus gaan beteken nie, nuus wat Maria en haar seuntjie nie sal wil hoor nie.

Geen terugvoer sal beteken daar’s nog ’n geringe kans om Barnie lewend op te spoor.

Hy en Rooi het besluit om vandag niks te doen nie, maar as daar geen nuus is nie, sal hulle weer met Maria gaan gesels. Dalk weet sy iets van Barnie se sogenaamde geldmaak-scheme.

* * *

Ek het hard studeer. Nie dat ek altyd veel tyd daarvoor gehad het nie. In die derde kwartaal van my eerste jaar het ek smiddae as kelner by ’n koffiekroeg begin werk. Saans was dit nog steeds skottelgoed was by die restaurant.

Tussen klasse het ek in die biblioteek gaan studeer, want in die woonstel was dit onmoontlik. Daar was ’n gereelde toeloop van besoekers en soms het die partytjies al vroegdag begin. Smiley was altyd omring deur ’n klomp luidrugtige vriende, van wie ’n paar by tye sommer hul intrek in die woonstel geneem het – ook in my kamer wanneer een ’n losgelukkie opgetel het. Hoeveel nagte moes ek nie maar tevrede wees om in ’n slaapsak iewers in ’n hoekie van die woonstel te slaap nie.

Ek was eintlik niks anders as ’n bywoner nie, sonder enige voorregte.

My enigste dryfkrag was die wete dat ek my kursus moes slaag. Dit was my paspoort na onafhanklikheid, en nóg belangriker: ’n lewe sonder Smiley.

Hy het hom nie veel aan die akademie gesteur nie. Hy was selde in die klas en het toetse begin oorslaan. Sy behoud was sy uitsonderlike sportprestasies – sterkolwer van die o.20A-krieketspan en kaptein van Maties se o.20A-rugbyspan. Sy pa het twee keer van Uganda ingevlieg om hom op Nuweland te sien speel en hulle was een aand selfs gaste aan huis van doktor Danie Craven. Smiley was op sportgebied en sosiale vlak ’n Matie-celeb.

Die feit dat hy aan die einde van ons eerste jaar toelating gekry het vir net een eksamenvak, het hom geensins gepla nie. Hy was nie op universiteit om graad te vang nie, maar om elke druppel plesier uit die lewe te tap.

Daarenteen het ek al my vakke geslaag. Weens my beperkte studietyd en gebrekkige Afrikaans was my punte nie besonder goed nie, maar ek het my tweede jaar aangepak met die wete dat ek oor die eerste hekkie na vryheid is.

Pirana

Подняться наверх