Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 6
3
ОглавлениеNatasha van der Merwe lyk nie soos die modelle wat in glanstydskrifte pryk nie, besef Werner elke keer wanneer hy haar sien. Ondanks haar hoë wangbene en groot, donker oë ontbreek die sagte lyne van ’n tipiese voorbladskoonheid. Daar is iets hoekigs aan haar gesig wat haar uit die kategorie van beeldskoon haal. Dalk dra die uitdagende blik in haar oë daartoe by.
Sy dra geen grimering nie, het dit ook nie nodig nie. Maar sy is sensueel verby. Sy lyk selfs aantreklik in IESA se onvleiende kakiegroen uniform.
“Môre! Jy’s vroeg,” groet sy toe sy Werner sien. “Seker darem nie van Pretoria af gery nie?”
Hy skud sy kop. “Nee, ek het gister by my broer op Vaalwater gekuier. Toe sommer vanoggend van daar af gery.”
Sy beduie na die stoel oorkant haar lessenaar. “Maak jou tuis. Kan ek vir jou ’n koue vrugtesappie bring?”
“Nie nou nie, dankie.”
Hy haal die dokument uit sy aktetas. Laat hy met die deur in die huis val en dit verby kry. Met Natasha loop jy nie ompaaie nie, jy praat reguit.
Net toe hy wil begin, lui die selfoon op haar lessenaar. Sy tel dit op, kyk na die skerm. Haar oë trek skrefies. “Dis Gert. Ek sal moet hoor,” maak sy verskoning.
Sy staan op en stap na die agterkant van die lang, smal kantoor. Werner kan nie help om haar agterna te staar nie. Die ritmiese swaai van heupe en boude is ’n vae herinnering daaraan dat sy eens op loopplanke geparadeer het, ’n gedagte wat onversoenbaar is met haar huidige reputasie as onverbiddelike jagter van wildstropers.
Hy hoor haar stemtoon styg, maar hy kan nie hoor wat sy sê nie, haar woorde uitgedoof deur die gesuis van die waaier op die vensterbank agter hom. Skande dat hulle nie lugversorging het nie, maar Natasha het self besluit dit sou oorbodig wees. “Ek is te min op kantoor om so ’n uitgawe te regverdig.”
Toe sy die oproep beëindig, kan Werner sien sy’s ontsteld. Daar is ’n ligte blos op haar wange, haar oë donkerder as gewoonlik toe sy oorkant hom kom sit. “Die Silencers het weer toegeslaan. Twee renosters dood. Hulle het die kalfie gelukkig gelos, maar . . .”
Sy sluk. “Hy’s nou skynbaar blind. Dis as gevolg van die trauma van sy ma wat weg is. Dit het al voorheen met ’n kalfie in Zim ook gebeur.”
“Waar’s hulle geskiet?”
“In die Kruger, naby Shingwedzi. Gert-hulle het vanoggend met die helikopter op die karkasse afgekom. Die veldwagters is stomgeslaan. Hulle sê hulle was gister heeldag in daai omgewing, maar hulle het niks gehoor nie.”
“Geen ander leidrade nie?”
Sy skud haar kop. “Hulle het tot die vermetelheid gehad om met ’n voertuig tot daar te ry, so daar’s darem wielspore. Die modus operandi stem ooreen met die Silencers s’n – niemand het die skote gehoor nie en die horings is losgesny, nie afgesaag of afgekap nie. Hulle moes die hele operasie binne twintig minute afgehandel het.”
Sy sug. “As ons daardie spul net kan vastrap, het ons die stryd halfpad gewen.”
Werner kug. Die stropers se tydsberekening kon nie slegter gewees het nie. Dit laat hom nog skuldiger voel oor die nuus wat hy moet oordra.
Hy beduie na die dokument op die tafel voor hom. “Tim het hierdie eergister vir my gestuur . . . Dis nie goeie nuus nie.”
Haar oë vernou. “Wat bedoel jy?” Haar stemtoon is ’n oktaaf laer.
“Hulle gaan ons begroting met die helfte sny,” som hy die vyftien bladsy lange dokument op.
“Wat! Hulle kan mos nie!”
Hy knik, sug. “Ek’s bevrees dis hulle geld. Hulle kan seker daarmee doen wat hulle wil.”
Ongeloof en skok wys op haar gesig. “Maar hoekom? Ons doen tog ’n verdomde goeie job!”
Sy trek die boonste laai van die lessenaar oop, haal ’n foliovel uit. “Ek was juis gisteraand besig met ons jongste stats. Vandat ons drie jaar gelede begin het, is daar altesaam ses-en-veertig stroperbendes met ons inligting genail. Deur IESA se toedoen is daar al vierhonderd renosters en meer as driehonderd olifante gered . . . en dis konserwatief geskat.”
Hy hou sy hande op. “Ek weet, ek weet, Natasha. Jy hoef my nie te oortuig nie. Hulle besef dit ook. Hulle erken jou span het tot dusver ’n reuse-bydrae gemaak in Suider-Afrika. Maar hulle meen dis nou tyd dat die plaaslike bewaringsmense meer verantwoordelikheid neem. Hulle . . .”
“Hulle het nie die mannekrag nie, Werner!”
“Wag, jy’s te haastig, dié stelling is net terloops. Hulle het tientalle redes waarom hulle dink die situasie het genoeg verbeter om . . .”
“Tientalle! Ek sal dit graag wil hoor. Dit word beslis nie gereflekteer in die toename van dooie renosters nie.”
Hy skuif die dokument oor na haar. “Jy kan dit later self lees, maar jy weet tog van die afgelope paar jaar se enorme skenkings van die Nederlandse en Sweedse lotery en die Howard G. Buffett-stigting aan die Vredespark-stigting en Sanparke. In kort sê hulle dié geld sal help om die stroperprobleem ’n bekhou te gee.”
“Dalk in die verre toekoms, ja. Dis geld wat gebruik gaan word om die waarde van renosterhoring te verlaag. Jy weet self horing-ingieting, wat kamstig hul groot plan is, werk nie eintlik nie, nie met daai digte horings nie. Hulle wil glo belê in tegnologie wat die renosters kan monitor, maar dis makliker gesê as gedaan. Dink aan al die mannekrag en kundigheid wat dit gaan verg. Soos jy self weet, draai die bewaringswiele bleddie stadig. Hulle praat heeltyd van langtermynplanne, en van hulle ander planne het nog niks gekom nie. Intussen gaan die stropers soos altyd voort. Verlede jaar is meer as ’n duisend renosters doodgemaak. Vanjaar staan ons al op sewehonderd en dis nou eers Julie! Waar gaan dit eindig, Werner?”
Hy weet sy’s reg, maar hy ploeg voort. “Daar’s blykbaar aanduidings dat Suid-Afrika dit oorweeg om hulle opgepotte renosterhoring aan die Asiërs te skenk om die waarde van die horing te verlaag.”
“Onprakties. Dis net ’n tydelike oplossing.”
“Volgens hulle is daar reeds diplomatieke onderhandelings met Oosterse lande aan die gang om met opvoedkundige programme te begin. Hulle moet mense bewus maak daarvan dat stropers die wêreld se bedreigde spesies uitwis, en veral dat renosterhoring geen kuur vir kanker is nie, soos wat die Viëtnamese en Chinese glo.”
“Ag! Hulle dagdroom as hulle dink dit gaan die stropertrein stop. Opvoedkundige programme kan boggherol uitrig teen die magtige bemarkingsarm van die horingmafia. Daar’s net te veel geld op die spel.”
Werner beduie hulpeloos na die dokument. “IESA se skenkers is aan die voorpunt om saam met ander drukgroepe te onderhandel vir wettige horinghandel. Hulle meen dit sal groot voordele vir Suid-Afrika en die renosters inhou. Buitelandse valuta sal in die land bly en daardeur geld voorsien vir renosterbewaring.”
Natasha se oë is pure donderweer. “Dit gaan nie stropery keer nie! Hulle onderskat die aanvraag vir renosterhoring onder miljoene mense in die Ooste. Buitendien, hoe lank gaan dit die wêreld neem om saam te stem oor wettige horinghandel? Wanneer dít eendag gebeur, sal daar nie meer renosters oor wees nie.”
Hy sug. “Ek weet jy’s reg. Maar ons gaan hulle nie oortuig nie. Feit van die saak is hulle fokus het na Suid-Amerika verskuif. ’n Verskeidenheid aapsoorte in die reënwoude van die Amasone word bedreig. Ek kry die indruk die groot skenkers plaas druk op Tim om eerder met probleme nader aan die huis te help.”
“So die tientalle redes in die dokument is bloot lippetaal om hulle Suid-Amerikaanse motiewe te regverdig?”
“Presies. Niks gaan hulle besluit verander nie.”
Sy leun vooroor op die lessenaar. “Dit beteken ons sal mense moet afdank, dalk selfs van die helikopter moet afsien. Só raak ons maar net nog een van die baie tandelose organisasies wat weens te min geld geen verskil kan maak nie.”
Vir die eerste keer vandat hy haar ken, sien hy trane blink. Sy lyk skielik kwesbaar, asof ’n weerloosheid in haar oë gaan sit het.
* * *
Die Baganda het destyds ’n groot heldeverering vir wit mense gehad. Eendag toe ek en Smiley weer by die plaaswerkers se hutte was, het een van ons maats se pa ons met ’n frons eenkant toe geroep.
“Julle is wazungu (wit mense). Julle moet begin dink soos wazungu en julle só gedra. Julle moet gerespekteer word, op die hande gedra word, geseën word, met geskenke vereer word. Julle hoort nie hier in ons nederige hut saam met my seun nie. Julle moet ’n afstand handhaaf.”
Dié verklaring het mettertyd my siening van die lewe beïnvloed. Ek het begin glo ons wit setlaars is verhewe bo hulle. Dit het my gehelp om Joseph se dood te verwerk. Boonop het niemand ooit weer daarna verwys nie. Joseph se pa, ’n veewagter, is bloot ingelig sy seun het gedros.
Ek het selfs saamgelag wanneer Smiley grappies oor die voorval gemaak het. Smiley het my held geword: die taai plaasseun met die breë glimlag wat weet hoe dinge in Afrika werk.