Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 15

12

Оглавление

Natasha kyk hoe almal hulle plekke inneem in die beknopte spasie van die IESA-kantoor. Hul blink oë, breë glimlagte en die geesdrif vir hul taak op hul gesigte laat haar skuldig voel. Die meeste van hulle was drie jaar gelede werkloos en armlastig; oor ’n paar maande kan die helfte van hulle weer sonder werk sit.

Sy wil hulle nie nou al inlig oor die begroting nie, maar oor ’n maand van nou af sal sy moet. Dit sal net billik wees om hulle die geleentheid te gee om ander werk te soek. Maar vir die volgende dertig dae moet sy hulle volle samewerking kry om bo hul vermoë te presteer, om elke greintjie ywer in een area te kanaliseer. Al hoe hulle die Amerikaners se besluit kan swaai, sal wees as hulle ongekende sukses behaal in die grootste enkele krisisgebied: die Krugerwildtuin.

Sy het die twee spanne in Zim, die drie in Mosambiek en die een in Botswana hierheen laat kom. Die twee spanne in die gebiede aangrensend aan die Kruger het sy ook onttrek om te kom help. Saam met die drie Kruger-spanne het sy nou drie-en-dertig IESA-veldwagters wat sy in die wildtuin kan ontplooi.

Werner was aanvanklik hewig gekant teen haar voorstel.

“Mosambiek se elite-teenstropingseenheid help deesdae voorkom dat stropers die Kruger uit die Limpopo-oorgrenspark binnekom,” het sy gesê. ’n Wit leuen – die Mosambiekse stropers is die grootste probleem. “Uit Zimbabwe gaan ons hulle moeilik keer, maar ons sal hulle aan Kruger se kant in die noorde inwag. Gee my net ’n proeftydperk van ’n maand,” het sy gepleit tot hy teensinnig ingestem het, nie oortuig dat haar planne die Amerikaners se begrotingsbesluit gaan beïnvloed nie.

Sy verduidelik kortliks aan die groep wat haar plan van aksie is. “Sanparke is baie opgewonde oor die nuwe steun wat ons hulle hier gaan gee. Ons sal op hulle volle samewerking kan staatmaak.” Sy beduie na die groot kaart van die wildtuin teen die muur. “Die rooi plakkertjies dui die stropingsoperasies van renosters van die afgelope drie maande aan.”

’n Koor van geskokte uitroepe klink op.

Sy knik. “Ja, dis hoe sleg dit hier gaan. Altesaam honderd-nege-en-sewentig doodgemaak en veertien vermink.”

“En die swart plakkertjies wat langs party van die rooies geplak is?” vra een van die Mosambiekse spanleiers.

“Dis waar ons vermoed die Silencers toegeslaan het. Soos julle kan sien, was hulle by meer as dertig suksesvolle operasies betrokke – twee-en-negentig horings geoes.”

“Hulle is die afgelope tyd veral in die noorde bedrywig,” sê Petrus Venter, spanleier van die Kruger-veldwagters. “Maar hulle is uitgeslape en hulle gebruik gesofistikeerde knaldempers wat die skote heeltemal demp. Hulle mors ook nie tyd nie, sny die horings los en laat waai. ”

Natasha knik. “Dis waarom ons die meeste van julle in die noorde gaan ontplooi.” Sy beduie na Gert langs haar. “Die helikopter gaan ook net op daardie deel konsentreer. Die Silencers sal die eerste prys wees.”

“Gaan ons net op die renosters fokus of op olifante ook?” vra Gert.

“Dié maand net op renosters.”

Sy voel skuldig daaroor. Sy’t in ’n onlangse verslag bewaringskenners se voorspelling gesien dat twintig persent van Afrika se olifante in die volgende tien jaar uitgewis kan word. Daar word jaarliks meer as twintigduisend olifante doodgemaak, maar die grootste krisis is in Sentraal-Afrika, waar die geskatte tempo van stropery dubbel dié van die vasteland se gemiddelde is. In Mosambiek is ivoorstropery ’n groeiende probleem.

Hoewel ivoorstropers ook in die Kruger bedrywig is, wil sy nou net op renosters fokus. “Gebruik al jul kontakte in die omgewing. Kyk hoeveel locals julle kan kry om ’n oor teen die grond te hou. Onthou, ons het begroot vir inligting. As iemand ons op ’n warm spoor sit, sal hy betaal word.”

Sy kyk na Petrus. “Het julle al weer nuwe helpers ingetrek?”

Hy knik ingenome. “Ja, ’n Zimbabwiër, Freedom Chiweshe, en sy drie kollegas is nou ekstra oë vir ons. Hulle verskaf hout aan al die kampe in die noorde, so hulle ry gereeld daar rond.”

Natasha glimlag. “Goed so. Hoe meer mense ons betrokke kry, hoe groter is die kanse om die donners te nail.”

* * *

Maria Wolhuter skud haar kop. “Nee, ek het geen idee met watse plan Barnie besig was nie.” Sy glimlag wrang. “Hy’t my reeds rot en kaal besteel. Ek sou beslis nie sy teiken gewees het nie.”

Kassie knik begrypend. “Ken jy enige van die ongure karakters met wie hy vriende was?”

Sy snork. “Al sy dwelmvriende was ongure karakters, maar ek het nie een ooit ontmoet nie. Ek ken ook nie hul name nie.”

“Sal iemand by sy vorige werk dalk ’n leidraad kan verskaf?” vra Rooi.

Maria sug. “Dit sal ek nie weet nie. Barnie het selde oor sy werk gepraat. Hy was konstant oorsee, merendeels Verre Ooste toe. Hy was die enigste een in hul maatskappy wat hul uitvoere hanteer het. Hy’s blykbaar al ’n tyd gelede daar weg, maar julle kan seker probeer.”

“Vir watter maatskappy het hy gewerk?” wil Kassie weet.

“African Curio.”

“African Curio!” sê Rooi verbaas. “Dis waar Torretjie nou werk.”

Hy lag verleë toe Maria hom vraend aankyk. “Sommer my noemnaam vir my vrou. Sy’t nou net by hul winkel in die Waterfront begin.”

“Ja, ek weet hulle het ’n hele paar winkels in die Skiereiland, maar Barnie het nooit iets met die winkels te doen gehad nie. Hy was net in beheer van die besendings wat hulle uitgevoer het. Dis skynbaar waar hulle eintlike winste lê.”

Kassie kyk na Rooi. “Dalk moet ons met hulle gaan praat.”

Rooi knik. “Kan seker nie skade doen nie.”

“Het jy ’n naam van ’n kontakpersoon daar?” vra Kassie.

“Hulle grootbaas se naam is Montgomery Smith. Sover ek weet, het Barnie aan hom gerapporteer.”

* * *

Ek sou die volle agtergrond van dit wat in Uganda gelei het tot die skokkende gebeure van 17 Mei 1972 eers later in die koerant lees.

Afgesien van sy selfverklaarde posisie as president, was Idi Amin ook die opperbevelvoerder van die gewapende magte, die weermag-stafhoof en die lugmagbevelvoerder. Hy het die presidensiële woning in Kampala herdoop na The Command Post.

Sy mees radikale stap was om die land se intelligensie-agentskap te ontbind en te vervang met sy eie “staatsnavorsingsburo”. Die hoofkwartier van die buro in Nakasero, ’n voorstad van Kampala, het ’n plek van wrede marteling en teregstellings geword.

Smiley se pa het Amin heeltemal onderskat. Hy het die president blykbaar openlik gekritiseer by landbouvergaderings en openbare saamtrekke in die suidweste. Die feit dat hy ’n groot vriend van Obote was, het natuurlik ook teen hom getel.

Op 16 Mei 1972 het hy opdrag gekry om hom die volgende oggend by die buro in Kampala aan te meld vir ondervraging. Laat die middag van 17 Mei is Smiley se ma ingelig dat haar man ’n hartaanval gekry het tydens die ondervraging. Sy lyk is nooit in Kabuwoke afgelewer soos die owerhede belowe het nie. “Weens ’n administratiewe fout,” het ’n amptenaar haar later laat weet.

Smiley is vir die gedenkdiens Uganda toe.

Met die intrapslag terug op Stellenbosch het hy vir my gesê: “Jy besef natuurlik dat ons nie meer vir jou studies kan betaal nie. Jy sal ’n ander blyplek moet kry, ek gaan jou kamer uithuur aan iemand wat dit kan bekostig.”

Binne die bestek van enkele minute was my toekomsdrome vernietig.

Pirana

Подняться наверх