Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 12
9
ОглавлениеPluime sigaarrook hang soos ’n digte misbank op ’n Kaapse oggend om Montgomery Smith se kop. Hy waai met sy hand die ergste rook weg en kyk na die twee mans oorkant die groot eikehoutlessenaar in sy studeerkamer.
“Theodore is bekommerd oor die hoeveelheid horings wat hy in Musina moet hou,” sê Montgomery. “Maar ek meen dis net te veel van ’n risiko om dit hier te stoor totdat Phan Can Dung eendag die pad vat Viëtnam toe.”
Graeme West knik. “Ek stem volmondig saam.”
Wolf Breede staar net die niet in.
Stem volmondig saam . . . soos ’n plaat wat vashaak, dink Montgomery. Jirre, die gehalte van sy breintrust is laag. Die een het ’n IK van tien en die ander een is ’n opperste gatvlieg. West het nog nooit ’n eie mening gehad nie. Dis goed om lojale mense te hê, maar dan moet hulle darem ook waarde kan toevoeg. Hoe het dit gebeur dat hy hom met sulke swakkelinge omring het?
Hy sug. “Probleem is dat Phan Can Dung nog nie ’n datum het wanneer hy moet teruggaan nie.”
“Is ons doodseker sy diplomatieke immuniteit gaan hom vrywaar van deursoeking by die hawe?” vra West.
“Bliksem, Graeme, het jy nie nou die dag geluister nie!” roep Montgomery uit. Hy is moeg om alewig dinge te moet herhaal. “Ja, dis honderd persent veilig. Sy hele trek word in kratte verpak, en die doeanebeamptes mag nie daaraan raak nie.”
“Jammer, Montgomery, ek . . . ek was besig op die telefoon toe jy dit genoem het,” stotter West.
“Wat gaan ons doen wanneer Phan Can Dung landuit is?” vra Wolf.
Montgomery is vir ’n oomblik verbaas dat Breede tot ’n intelligente vraag in staat is. Die bebaarde aap het vandag ’n vreemde brilletjie op die neus.
“Nuwe bril gekry?” vra hy.
Wolf skud sy kop. “Nee, dis ’n oue. Ek’t my nuwe een iewers verlê. Kry die ding nie.”
“G’n wonder nie, daai huis op die kleinhoewe lyk soos die hond se gat. Jy kan die plek gerus skoonmaak.”
Wolf kyk nie na hom nie, brom net iets.
Montgomery leun terug in sy stoel, neem ’n trek aan die sigaar. “Om jou vraag te beantwoord: Phan Can Dung verseker my sy opvolger is maklik omkoopbaar. Hy sal die aanvoorwerk vir ons in Hanoi doen. Dis vir hom net so belangrik dat daar iemand by die konsulaat is met wie ons kan saamwerk. Hy verdien ’n kakhuis vol kommissie, hy sal nie die geldfonteintjie wil laat opdroog nie.”
“Het ons al ’n plaasvervanger vir Barnie Wolhuter in gedagte?” vra West.
Montgomery glimlag. “Nee, maar ek het gedink jy kan sommer daai takie vir ons oorneem.”
“Ék?” West se adamsappel spring op en af soos hy sluk.
“Ja, jy, Graeme,” sê Montgomery. “Ek gaan nie weer ’n buitestander betrek nie. Ek wil nooit weer deur ’n eks-werknemer afgepers word nie.”
Wolf skud sy kop. “Kan nog steeds nie verstaan hoe Barnie van die horings uitgevind het nie.”
“Ons eie slapgatgeit.” Montgomery kyk na West, wat sy blik vermy deur af te kyk. “Hy moes die horings in ons kratte hier gesien het. Dis mos net te veel moeite om die deksels heeltyd toe te hou. Hy was ook nie veronderstel om daar rond te dwaal nie, maar Graeme het natuurlik vergeet om die pakstoor te sluit.”
“Jammer, Montgomery . . . ek . . .”
“Dis gedane sake,” onderbreek Montgomery hom. Hy’s nie lus om weer na West se patetiese verskonings te luister nie.
Hy neem ’n diep trek aan die sigaar, blaas rook uit. “Theodore sê hy’t ’n helse lot maskers, ’n klomp skilde, potte en honderde stringe krale aangekoop. Nolte tel dit vandag by hom op. Graeme, jy moet sorg dat dertig persent van die goed eweredig versprei word tussen die winkels by die Waterfront en Cavendish. Canal Walk se winkel het nog genoeg voorraad. Die res van die goed is vir uitvoer. Die curio shop in Taipei het juis ’n bestelling van twintig maskers ingesit.”
West knik gretig. “Ek maak so, Montgomery,” sê hy, duidelik verlig dat hy nie meer in die spervuur is nie.
“Het ons al ’n nuwe verkoopsassistent vir die Waterfront-winkel?”
“Ek voer môre onderhoude met die vier mense op die kortlys.”
“Jy moet jou gat roer, Graeme! Ou Tallie kla hy kan nie alleen die winkel run nie.”
“Ek doen my bes. Ek het . . .”
“Julle kan maar gaan,” knip Montgomery hom kort. Hy wuif met sy hand na die deur.
“Wolf,” sê hy net toe dié wil uitstap.
Breede draai in stadige aksie om. Sy arms hang soos ’n aap s’n langs sy sye. Die verspotte brilletjie laat hom nog meer soos ’n moroon lyk, dis hopeloos te klein vir sy breë gesig.
“Sorg dat die visse se water die regte temperatuur is. En in vadersnaam, onthou om die sirkulasiepomp elke vier uur aan te sit.” Montgomery glimlag. “Ek hoop jy’t hulle kosvoorraad ook aangevul. Tagtig kilogram vleis hou seker nie vir altyd nie.”
Wolf knik uitdrukkingloos, grynslag dan toe hy snap waarop Montgomery sinspeel.
* * *
Op 25 Januarie 1971 word Obote se regering in ’n staatsgreep omvergewerp. Die hoof van die weermag, Idi Amin, word die nuwe bewindhebber van Uganda.
Daarmee saam was my en Smiley se toekomsplanne gekelder . . . en het Uganda se nagmerrie begin. Ondanks sy vermoede dat die Britse regering die staatsgreep gesteun het om van die kommunistiese Obote ontslae te raak, het Smiley se pa genoeg visie gehad om te besef die lewe in Uganda gaan drasties verander, uiteindelik ook vir die wittes. Volgens hom was Amin ’n “nutcase”.
Ek en Smiley het juis ’n paar jaar vantevore by die Kampala-rugbyklub met hom kennis gemaak – Amin was in sy jong dae ’n formidabele rugbyspeler en Uganda se bokskampioen. Hy was dié aand daar om as hoof van die weermag die ligabeker aan Kampala se eerste span te oorhandig, en het nog almal vergas op Britse liedjies en sy akkordionspel. Maar sy gemoedelike uiterlike was net ’n rookskerm vir sy verwronge innerlike.
Die teregstellings het kort ná sy bewindsoorname, en nadat hy tot groot spot van die wêreld elke moontlike heldedekorasie en nuutgeskepte rang aan homself toegeken het, begin. Uiteindelik was daar onder sy bewind meer moorde en politieke teregstellings in Uganda as in die res van Afrika saam. Sommige bronne skat Amin se slagoffers so veel as ’n halfmiljoen.
Smiley se pa sou later een van hulle wees, maar eers het hy ’n nuwe toekoms in Suid-Afrika vir sy seun beplan – onder groot protes van Smiley. Ek was deel van dié plan want Smiley se pa het hom ook oor my ontferm, deeglik bewus dat my ma geen blink toekoms vir my in Engeland sou kon verseker nie.
“Julle moet gaan studeer,” het Smiley se pa gesê. “Ek sal vir julle albei betaal.”
’n Kaapse vriend van hom het die Universiteit van Stellenbosch aanbeveel. “Hulle sal wel aanvanklik sukkel met die Afrikaans, maar jy wil tog nie jou kind na ’n liberale Engelse universiteit stuur nie. Daar word hulle net geïndoktrineer met linkse en kommunistiese ideologieë.”
Ons is inderhaas Suid-Afrika toe, net betyds om nog in te skryf vir ons eerste studiejaar. Die omgewing, taal en kultuur was wildvreemd vir twee boorlinge van Uganda, maar Smiley sou vinnig aanpas. Vir my was dit veel moeiliker.