Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 5

2

Оглавление

Werner Erwee swets. Vir hierdie dag het hy nie krag nie. Hy vee sy klam voorkop droog met sy sakdoek. Die wind waai plastieksakke en papiere teen die sypaadjies en geboue in Musina se stowwerige hoofstraat. Nog nie eers tienuur nie en al bloedig warm. Vanoggend op pad van Vaalwater af het hy die voorspelling oor die karradio gehoor: drie-en-dertig grade in die skadu. En dit in die middel van die winter!

Sy bestemming is ’n vaalgrys geboutjie wat ingedruk staan tussen ’n spaza shop en Mabel’s Massage Parlour & Hair Saloon. Die naam bo die tralievenster lees moeilik, die spasies tussen die rooi letters te klein: International Endangered Species Agency (IESA).

Dalk is hy te vroeg, dalk moet hy nog ’n kwartier in die kar wag? Of probeer hy maar net nog ’n bietjie tyd wen voor hy die nuus moet gaan oordra?

Werner skud sy kop. Hy moes hom nooit in dié ding begewe het nie. Destyds toe Tim hom uit die bloute die aanbod gemaak het, het hy gedink dis goed vir sy beeld – hy het toe nog parlementêre aspirasies gehad. Nou is die hele besigheid net ’n meulsteen om sy nek. Hy het nog nooit in die bewaring van bedreigde dierespesies belanggestel nie. Tot voor sy aftrede was hy ’n ouditeur, syfers was sy kos. Sy politieke drome was gefokus op die bydrae wat hy tot die land se bankbalans kon maak.

Maar Tim se oproep uit Amerika het hom gevlei. “Jy’s die enigste onkreukbare Suid-Afrikaner wat ek ken, Werner,” het Tim gespot.

Feit van die saak is, hy is ál Suid-Afrikaner wat Tim ken, sedert hulle as studente kamermaats in die koshuis was toe Werner met ’n beurs in Amerika gestudeer het.

“Die posisie is nie dié van ’n uitvoerende hoof in die tradisionele sin van die woord nie. Dit sal min van jou tyd in beslag neem,” het Tim verduidelik. “Jy sal bloot namens IESA in Suid-Afrika ’n ogie hou oor die geldsake. Die bestuursbeampte sal die operasionele kant hanteer.”

In die praktyk het dit nie so gewerk nie. IESA se donateurs is skatryk en invloedryke Amerikaners met ’n groot passie vir die saak. Hulle wil met niemand anders as die “chief executive” praat nie. Hoeveel keer in ’n maand moet hy nie rondskarrel om hulle vrae te beantwoord nie? Natasha van der Merwe is sy enigste bron van inligting, en sy is selde op kantoor.

Natasha . . . As dit nie vir haar was nie, het hy hom lankal aan dié spul onttrek. Maar haar geesdrif vir die job is aansteeklik elke keer wanneer hulle ontmoet.

Toe Tim drie jaar gelede van Amerika ingevlieg het vir die onderhoude met voornemende bestuursbeamptes, het hulle nooit vermoed hulle keuse sou op háár val nie. ’n Gewese model van die internasionale loopplanke was beslis nie versoenbaar met wat hulle in gedagte gehad het nie.

Boonop het hardebaarde in natuurbewaring tou gestaan vir die pos, manne met jare se ondervinding. Op vyf-en-twintig was Natasha nog nat agter die ore. Al rede waarom hulle teensinnig ’n onderhoud aan haar toegestaan het, was dat sy ná haar modelloopbaan twee jaar by die Conservation Action Trust gewerk het.

Sy het kop en skouers bo die ander kandidate uitgetroon. Dit was die manier waarop sy hul vrae tydens die onderhoud beantwoord het wat hulle geswaai het. Nie een van die ander kon met soveel intelligensie en kundigheid oor bewaring praat nie. Boonop het sy ’n duidelike visie gehad, wat IESA se rol vir hom en Tim feitlik herdefinieer het. Hulle kon haar nie gou genoeg ’n aanbod maak nie.

Sedertdien het sy IESA uitgebou tot ’n onmisbare komponent van Suider-Afrika se stryd teen renoster- en olifantstropers. Trouens, Sanparke se grootbaas het al aan Werner erken dat die krisis in veral die Krugerwildtuin baie groter sou gewees het as dit nie was vir IESA se proaktiewe ontledings van stropers se bewegings nie. “Natasha van der Merwe en haar span het ons ’n kompeterende voordeel gegee wat ons nooit voorheen in Suid-Afrika gehad het nie,” was sy presiese woorde. Soortgelyk aan wat Zimbabwe en Mosambiek se bewaringsmense onlangs aan Werner gesê het.

En nou moet hy haar die slegte nuus gaan meedeel.

* * *

Op my heel eerste skooldag het ek die seuntjie met die alewige breë glimlag ontmoet. Ons was ewe oud en het langs mekaar in die klas vir sesjariges gesit. Een van die ander kinders het hom Smiley genoem, en ek het daarby ingeval. Dit was eers baie jare later dat hy my verbied het om sy bynaam te gebruik.

Smiley se pa was een van die min wit boere in die kontrei. Omdat Uganda ’n Britse protektoraat en nie ’n kolonie was nie, het die meeste landbougrond aan Ugandese behoort. Net ’n hand vol wit setlaars is toegelaat om grond te besit. Gevolglik was Uganda destyds een van die vreedsaamste Britse gebiede, in skrille kontras met sy buurman Kenia.

Ek en Smiley was gou beste maats. Ons het gedurende pouses gereeld oorgehardloop na my huis, waar my pa ons bederf het met gemmerbier en Ma se tertjies. Dan het ons met my karretjies of albasters gespeel totdat Pa ons teruggejaag het skool toe. Dit was sorgelose en onskuldige tye.

Later jare het Smiley my gereeld naweke plaas toe genooi, ’n plek wat vir my soos die paradys gevoel het. Ons het voëls gejag met windbukse, in die dam geswem en saam met die plaaswerkers se kinders sokker gespeel op die groot grasperk voor die huis.

Joseph, ’n paar jaar ouer as ons, was ’n uitsonderlike sokkerspeler wat ons ander telkens ore aangesit het. Ek het gou agtergekom Smiley, self ’n begaafde speler, hou nie van hom nie. Smiley wou altyd die beste wees. As Joseph die dag in ons span was, het die wedstryd vreedsaam verloop. Maar wanneer Joseph vir die teenstanders speel, het dit altyd uitgeloop op ’n stryery tussen hom en Smiley.

Joseph was die seun van een van die Tutsi’s, Rwandese vlugtelinge wat ná die Hutu-opstand van 1959 uit hul land verdryf is. Die Baganda het neergesien op hulle omdat hulle buitelanders was, en meestal brandarm. Op hulle beurt het die lenige, trotse Tutsi’s nie ooghare gehad vir die Baganda nie, wat volgens hulle lui, onbetroubaar en te kort was.

Daar was dus altyd spanning tussen die twee groepe. Diefstal is geensins in Uganda geduld nie, veral as die skuldige ’n Tutsi is. So ’n oortreder het meermale met sy lewe geboet sonder dat ’n haan ooit daarna sou kraai.

Een Saterdag – ons was dertien – het ek en Smiley met ons windbukse in die veld geloop toe ons ’n helse kabaal hoor. Dit het van oorkant die heuwel gekom en ons het dadelik soontoe gehardloop. ’n Groep Bagandas was besig om Joseph met die vuiste te slaan, met twee wat gereed staan met pangas. Joseph se gesig was amper onherkenbaar van die bloed.

Ek het histeries vir Smiley geskreeu om hulle te keer. Hy het kalm by ’n omstander verneem wat aangaan. Toe hy hoor Joseph het ’n skroewedraaier uit sy pa se stoor gesteel, het hy sy windbuks net daar neergegooi. Hy het ’n panga gegryp, die mans beveel om weg te staan en met ’n magtige swaai Joseph se slaap oopgekloof. Terwyl die Baganda lag, fluit en hande klap, het ek versteen staan en kyk hoe Smiley die panga ’n tweede en ’n derde keer swaai.

Toe Joseph neerval, het Smiley na my omgedraai met bloedspatsels wat soos sproete op sy gesig sit. Hy het die werkers opdrag gegee om Joseph net daar te begrawe, sy windbuks opgetel, sy kenmerkende verblindende glimlag gegee, en gesê: “Kom ons gaan swem.”

Pirana

Подняться наверх