Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 11
8
ОглавлениеDie nuus het Kassie pens en pootjies onkant betrap. Op pad van Maria se huis na sy woonstel in Goodwood lui sy selfoon. Dis sy pel Trevor Hansen, voorsitter van die Filatelie-federasie van Suid-Afrika. Hy bel uit Perth waar hy die wêreld-posseëluitstalling bywoon.
“Jy’t dit gedoen, Kassie!” skree hy opgewonde.
“Gedoen? Wat?”
“Jou versameling van Kaapse driehoeke! Jy’t die internasionale grand prix verower met daai versameling!”
Kassie moes eers aftrek van die pad om te herstel van die skok. Hy weet sy versameling Kaapse driehoeke is uniek, maar in sy wildste drome sou hy nie kon dink dat hy die hoogste toekenning sou kry nie. Dis soos ’n Olimpiese goue medalje vir ’n seëlversamelaar!
Nou, terwyl hy hier voor sy rekenaar in sy studeerkamer sit en gelukwensings instroom van versamelaars oor die wêreld heen, is hy steeds lighoofdig van geluk. Sy hand bewe toe hy die glas Creme Soda optel en diep sluk. Selfs die strelende klanke van die “Soepvleespolka” wat uit die kombuis kom, het nie soos gewoonlik ’n kalmerende uitwerking op hom nie.
Hy staan op agter die lessenaar en stap met die glas koeldrank slaapkamer toe, skop sy skoene uit, raak ontslae van sy windjekker en werksklere en trek sy turkoois sweetpak en skaapvelpantoffels aan. In die badkamer drup hy twee druppeltjies Rescue Remedy op sy tong. Hy slaan met sy vuis ’n hou in die lug. Dié prestasie verdien om gevier te word met ’n pizza voordat hy al die Facebook- en e-posboodskappe beantwoord. Hy bel Mr Delivery en bestel ’n supergroot Four Seasons met ekstra kaas.
Hy slof kombuis toe, sit die halwe volgraanbroodjie wat veronderstel was om sy aandete te wees terug in die kas, haal die houertjie cholesterolpille uit en sluk een met Creme Soda af. Hy druk sy gunsteling-CD van Ollie Viljoen in die hoëtroustel en draai die klank hard.
In die sitkamer val hy op die rusbank neer. Hy steek ’n Lucky Strike aan en trek behaaglik aan die rook.
Sy baldadigheid slaan skielik ’n spoedwal. Hy’t nooit weer aan Maria se dilemma gedink nie. Hy is seker sy oorreageer, maar hy’t vir haar gesê hy sal binne die volgende dag of twee ’n draai by die brug maak en met die bergies daar gesels. Dis nie nou al nodig om ’n saak van ’n vermiste persoon aanhangig te maak nie. Barnie sal wel een of ander tyd opduik, het hy haar verseker, want verslaafdes, veral tikverslaafdes, tree nie altyd rasioneel op nie.
Gou is Barnie en Maria weer uit sy gedagtes.
Hy lê terug op die bank en skud sy kop ongelowig. ’n Grand prix . . . ’n grand fókken prix!
* * *
Theodore sit op die kampstoel voor sy tent en kyk hoe die laaste strale van die son die toppe van die bosveldbome oranjerooi kleur. Asof hulle gewag het vir hierdie oomblik, begin die krieke en ander insekte met hul aandkonsert. ’n Leeu brul in die verte op een van die aangrensende wildplase.
Die hitte is ondraaglik; sy bolyf is klam van die sweet. As die winter só voel, weet hy nie hoe hy die somer gaan oorleef nie. Hy trek sy T-hemp uit, gooi dit oor die stoel en stap na die groot akasia langs die tent. Dis die enigste plek in die nabye omgewing waar hy redelike goeie selfoonontvangs het. Gewoonlik wag hy hier vir Freedom se oproep tydens ’n stropingsoperasie.
Hy bel sy suster. Sy is opgewonde om sy stem te hoor, maar kla eers ’n minuut lank omdat sy so lanklaas van hom gehoor het. Sy vertel opgewonde van haar nuwe woonplek en hoe lekker dit is om onder Pa en Ma se voete uit te wees. Dan babbel sy oor die vryskutwerk wat sy by ’n groot mediamaatskappy losgeslaan het en dat sy sommer uit die huis kan werk. Hy glimlag. Vanaand gaan hy nie ’n woord inkry nie. Die groot gesels het Sussie behoorlik beet.
Sy glimlag verdwyn toe hy die skynsel van ’n voertuig se ligte in die veldpaadjie na sy kamp sien en ’n dreuning hoor. Hy kry nooit dié tyd van die aand besoekers nie. Sou Freedom-hulle ’n probleem hê?
“Ek bel jou later terug, sus. Hier’s iemand by die kamp,” groet hy vinnig en lui af.
’n Onbekende rooi Ford-bakkie stop voor sy tent. Tot sy verbasing klim Carina Vosloo uit. Wat maak sý hier? Hy was eergister by haar oor die maskers. En Nolte gaan tel die goed môremiddag by haar op.
“Hoop nie iemand het ingebreek by jou stoor nie?” Hy voel ongemaklik met sy kaal bolyf voor haar.
Sy lag. “Nee, glad nie, maar ek het vandag op ’n juweel afgekom. Moes dit vir jou kom wys. Dalk wil jy dié een ook hê.”
Haar kleredrag verbaas hom. Sy het ’n halternektoppie aan, sónder ’n bra. ’n Te kort broekie kleef aan haar heupe en beklemtoon haar mooigevormde bene.
Nogal nie sleg vir haar ouderdom nie, dink hy, sy moet in haar middelveertigs wees. Maar hy’t haar nog nooit só gesien nie. Met sy besoeke aan die stoor het sy nog altyd taamlik vaal voorgekom.
Sy leun oor na die passasiersitplek en bring ’n masker te voorskyn, beduie met haar kop na die tent. “Jy’t seker beter lig daar binne. Jy móét hierdie een in sy volle glorie sien.”
Hy raap sy T-hemp van die kampstoel op. “Ek wil my darem net skaflik maak.”
Sy keer met ’n warm hand op sy arm en giggel soos ’n skoolmeisietjie. “Die hitte is erg, dis regtig nie nodig om ter wille van mý aan te trek nie.”
Hy lag verleë en gooi die hemp terug op die stoel. Hy’t al agtergekom sy flirt met hom wanneer hy sy aankope by die stoor doen, maar vanaand draai sy die sjarmekrane ekstra groot oop.
“Nou toe, laat ons gaan kyk.”
Hy stap agter haar by die tent in. Sy swaai haar heupe, haar boude duidelik afgeëts deur die dun materiaal van die broekie. Dit lyk nie of sy onderklere aanhet nie. Sy sit die masker teen die stoel langs sy lessenaar neer sodat die staanlamp se lig daarop skyn, en staan terug.
Dis ’n ovaalvormige houtmasker, nie buitengewoon groot nie, maar met ’n vreemde goue skynsel. Die gesig het hartseer oë en die mondhoeke krul na onder.
“Dié ou lyk sad,” sê hy.
Sy knik. “ ’n Begrafnismasker uit die Kongo. Baie, baie skaars. Ek het nog nooit voorheen een gesien nie.”
Hy gaan hurk voor die masker, bekyk dit van naderby. Nie regtig besonders nie, maar hy sal geïnteresseerd moet lyk. Sy het immers die moeite gedoen om tien kilometer deur die boendoe hierheen te ry. Hy draai die masker om en bekyk die agterkant, sien skrams hoe sy wegbeweeg van die lessenaar en dieper die tent in loop.
“Groot plek wat jy hier het,” sê sy oor haar skouer. “En baie lekker ingerig.”
Hy knik. “Ek bly al nege jaar hier. Ek moes dit vir myself maar leefbaar maak.”
Hy tik met sy vinger teen die masker. “Ek sal hierdie een beslis vat. Hoeveel wil jy daarvoor hê?”
“Jy gaan darem seker vir my ’n koue bier aanbied voor ons besigheid gesels?”
Hy kom met ’n glimlag orent. “Daar’s toevallig ’n paar koues in die yskas.”
Toe hy omdraai, staan sy twee meter agter hom, hande op die heupe. Haar klere lê in ’n hopie langs haar op die vloer.
Sy gee ’n tree nader aan hom. “Dalk kan die bier ook eers wag . . .”
* * *
Die onafhanklikwording van Uganda in 1962 het nooit werklik negatiewe rimpelinge by die wit gemeenskap veroorsaak nie. Veral die paar wit boere was vol vertroue dat dinge sou voortgaan soos toe die land ’n Britse protektoraat was.
En in die res van die dekade was daar geen ooglopende tekens dat hulle verkeerd was nie. Daar was wel in 1966 ’n ligte fladdering in die wit duiwehok toe Milton Obote, die nuwe eerste minister, ontslae geraak het van die president en homself “aangestel” het as uitvoerende president. Met dié skuif het hy die alleenheerser geword, en Uganda ’n eenpartystaat.
Smiley se pa, die mees gesaghebbende wit man in die suidweste, was glad nie daaroor bekommerd nie. Hy en Obote was persoonlike vriende; die president was vroeër selfs ’n paar keer ’n gas op sy plaas. Volgens hom was Obote se plan van radikale sosialisme slegs praatjies om sy meer strydlustige kollegas kalm te hou.
Gevolglik het ek en Smiley ons toekoms in Uganda gesien. Dit was ons gemaksone, en daar was heelparty sakegeleenthede vir voornemende entrepreneurs. In ons laaste skooljaar in 1970 het ons groot planne beraam. ’n Stuk plaasgrond van Smiley-hulle het braak gelê en met sy pa se goedkeuring sou ons twee ons eie groenteplaas begin. Ons het alles haarfyn beplan. Ons sou klein begin, later vragmotors aanskaf en ons groente ook buite die grense van Uganda van die hand sit.
My pa se dood aan ’n hartaanval in ons matriekjaar het niks aan ons planne verander nie. My ma is terug Engeland toe, maar sy het ingestem dat ek bly. Daar was in elk geval nie geld vir universiteit of werkgeleenthede in Manchester nie.
Min het ons geweet ons drome sou vroeg in 1971 verpletter word.