Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 16
13
ОглавлениеJackal Williams druk die knoppie by die veiligheidshek. Dada se stem kom dof oor die interkom. “As jy ’n intruder is, fokkof sommer nou. But friends are always welcome.”
“Issie hond vasgemaak innie backyard?” vra Jackal. Hy hoor net ’n laggie, wat seker beteken dis veilig om in te kom.
Nogtans drafstap hy vinnig oor die grasperk, klop nie by die voordeur nie, maak net oop en loop in. Dada sit in die hoek van die groot sitkamer, soos altyd in sy vuil vest, slaapbroek en slippers, siegret in die bek, en Son lees.
“Waar’s Kwaai?” vra Jackal.
Dada kyk nie op van die koerant nie, beduie net in die rigting van die toilet. “Nog besig om die porcelain scooter te ry.”
Jackal gaan staan voor die groot spieël teen die muur en bekyk homself. Hy like sy nuwe look. Hy trek sy vingers deur sy krulle. Vandat hy sy hare nou weer natural laat groei, tjek die girls hom al meer uit. Hy was in elk geval moeg daarvoor om elke oggend met die flat iron te wrestle. En die chemicals in die straighteners het net sy hare opgefok. Nou’t hy baie meer tyd in die oggende, smeer net so nou en dan Dr Miracle’s Curl Care aan en daar gaat hy.
Hy kyk om toe Dada lag. Dié wys met sy siegrethand na die koerant.
“Daar’s piepols innie Flêts wat nou vas glo gomsnuif is ’n cure vir cancer!” Dada skud sy kop. “Hulle makeer gebed om hulle te verlos van daai kak idea.”
Jackal knik net. Die stories in die Son is of no interest to him. Hy stap na die leunstoel langs Dada. Moet eers ’n pantie van die sitplek afhaal voor hy kan gaan sit.
“Die underwear lê ok altyd die huis vol,” kla hy.
“Daai kan jy weer sê! Kwaai het g’n respekte vir sy pa nie. Elke dag ’n anner jolmeid innie huis. Hy jump hulle mos orals . . . innie jacuzzi, oppie kitchen table. En hy gee nie om as ek op hulle afkom nie . . . mis nie eers ’n stroke nie.”
“Ma’ hy gaan slaap nog innie aande alleen?”
“Ja, hy sê mos Frendiline se spook kom lê elke aand by hom innie kooi. Hy makeer ook gebed.”
Jackal wonder wat regtig destyds met Frendiline gebeur het. Daar was rumours dat Kwaai self ’n hit op sy vrou gesit het. Maar Kwaai hou vol haar permanent coma was die Americans gang se doings.
Dis gelukkig nie Jackal se worries nie. Hy’s happy waar hy nou in sy lewe is: watchdog oor die drug runners van die grootste drug ring innie Kaap. Om vir Kwaai te werk betaal goed. Hy mag sy kak hê, maar dis ’n undisputable fact: Godfrey (Kwaai) Koeries is die main konyn innie Plain. En niemand, nie eers die ander gangs of die cops soek ooit moeilikheid met hom en sy crew nie. Too dangerous.
Jackal hoor hoe die toilet getrek word en hy staan vinnig op. Hoekom sal Kwaai hom so urgently wil sien? Daar’s tog nie fout by sy kant van die business nie, die drug runners run soos ’n well-oiled machine.
Kwaai kom by die toiletdeur uitgewaggel, sy groot pens wat uitsteek. Hy maak eers sy hemp se knope tydsaam vas terwyl hy vir Jackal uittjek met daai klein swart ogies van hom. Scary stuff as Kwaai so vir jou kyk.
Dan smile hy en beduie na die couch. “Ons moet chat.”
Hy gaan sit steunend op die bank. Jackal gaan sit langs hom.
“Ek’t ’n special project vir jou,” sê Kwaai met sy pofferhand swaar op Jackal se skouer. Hy snork eers ’n bol slym af voor hy sê: “Operation Kidnap.”
Jackal sluk. Hy like nie die sound daarvan nie.
Dada kyk op van die koerant. “Kidnap? Daai’s mossie ons core business nie. Ek sê altyd: Stick with your core business and the money angels will smile on you.”
“Money ís ons core business,” sê Kwaai. “En hier’s ’n opportunity om baie daarvan te skep.”
Hy leun vorentoe en haal ’n boks van die koffietafel af. Hy maak die deksel oop en wys vir Jackal: dis gepak met tweehonderdrandnote.
“Fifty K in hard cash, vanoggend vroeg met ’n courier gedeliver. En dis net ’n klein deposit om die reccie te doen en die reëlings te finalise. Met die actual job kom nog one hundred K hierie kant toe.”
Hy tik met sy voorvinger teen Jackal se bors. “En jý gaan in charge wees van die operation.”
Jackal se ore sing asof hy ’n klap gekry het. Hy’s eintlik ’n ou vir low-risk jobs. Dié storie klink na dangerous stuff. “Is dit nie eerder ’n joppie vi’ een van ons gunmen nie?”
Kwaai lag dat sy gums wys. “Is jy chicken?”
“Nei,” sê Jackal vinnig. “Klink net of da’ bietjie violence involved ga’ wees. En ek’s mos actually ’n pacifist.”
“Fokkit, klink of jy ’n dictionary ingesluk het. Pacifist!” pis Dada ook ’n straaltjie by.
Kwaai kyk met ’n smile na sy pa. “Dis exactly hoekom Jackal die job kry. Sy intelligence gaan hierso ’n necessity wees. Die gunmen het nie een die breins daarvoor nie.”
Hy slaan Jackal op die skouer. “Dis in any case net ’n chick wat jy moet kidnap.”
* * *
Theodore kan sy oë nie van die spreker afhou nie. Die Sakekamer se voorsitter het haar voorgestel as Natasha van der Merwe van IESA – juis die organisasie waaraan hy vanaand ’n skenking van vyftigduisend rand namens African Curio gaan oorhandig.
Toe hy hoor IESA se verteenwoordiger gaan die gasspreker wees, het hy besef dit sal die ideale geleentheid wees om maksimum publisiteit te kry. Almal wat tel in bewaringskringe, die belangrikste sakemanne van die omgewing én die pers is gewoonlik by die kwartaalbyeenkoms.
Maar sy gedagtes is nie by die skenking of goeie publisiteit nie. Natasha van der Merwe betower hom. Sy is besonder aantreklik en daarby bloedjonk, beslis nog nie dertig nie.
En sy het die hoofsaaklik manlike gehoor in die palm van haar hand. Sy praat met oortuiging, rits stringe statistieke af sonder ’n enkele nota voor haar en beantwoord vrae uit die gehoor soos ’n bedrewe politikus. ’n Hele paar van die sakemanne gaan vanaand hul tjekboeke uithaal, weet hy toe sy ten slotte oor IESA se geldnood praat.
’n Staande ovasie volg toe sy klaar is.
Die voorsitter kom vinnig vorentoe en neem die mikrofoon. “Dis natuurlik nou die geleentheid om julle beursies oop te maak vir hierdie verdienstelike organisasie wat soveel doen om ons wildlewe te bewaar. Komaan, manne, ons wag graag skenkings in,” sê hy met ’n knipoog aan die gasspreker.
Theodore stap vorentoe, maar twee ander mans het hom voorgespring. Nog vier val agter hom in die tou.
“Dis hoe ek Limpopo se sakemanne ken!” bulder die voorsitter.
Die eerste tjekoorhandiging word met groot applous begroet. “Vyfduisend rand van meneer Tol Brummer van Safari Tours,” sê die voorsitter terwyl Natasha van der Merwe die weldoener se hand skud.
“Seweduisend rand van meneer Kotie Kriel van Impala Lodges!”
Daar word gemoedelik gelag toe die gesette Kotie oorleun en Natasha ’n soen op die hand gee.
Theodore stap vorentoe. Hy oorhandig eers die tjek aan die voorsitter en draai dan na Natasha. Hulle oë ontmoet. Meteens is die luide applous toe die voorsitter die bedrag uitlees net ’n dowwe gedreun in sy ore. Hy neem haar warm hand in syne. Geen ringe aan haar vingers nie. Haar groot, donker oë kyk intens na hom en sy hart fladder liggies.
“Die plesier is myne,” sê hy toe sy hom met ’n lieflike glimlag bedank.
’n Koerantfotograaf keer hom voor met die terugstap. “Kan ek net gou ’n foto van julle twee saam kry?”
Theodore gaan staan langs haar.
“’n Bietjie nader aan mekaar, asseblief,” sê die fotograaf.
Theodore voel hoe haar arm liggies aan syne raak, hy kan haar parfuum ruik. Hy wens die fotosessie kan vir ewig aanhou. Toe hy terugstap na sy stoel, is dit met die allesoorheersende gedagte dat hy Natasha van der Merwe beter wil leer ken.
Dan verskyn Carina Vosloo voor hom. Hy het haar nie vroeër tussen die mense gesien nie.
Sy wag hom met uitgestrekte arms in. “Dit was ’n wonderlike gebaar van jou!” gil sy.
Sy storm hom tegemoet en slaan haar arms om sy nek. Haar soen is nat en lank. ’n Paar wolwefluite klink uit die gehoor op.
* * *
My lewe het skielik dramaties verander. My droom om ’n graad te kry was iets van die verlede. Ek het geweet my punte was nie goed genoeg om vir ’n beurs aansoek te doen nie.
Smiley het nie op hom laat wag nie. Binne ’n week het hy ’n wulpse bottelblondine gekry om my kamer te huur en was ek dakloos. Hy’t darem aangebied ek kan voorlopig in die sitkamer op die bank slaap. “Maar jy besef seker dit kan nie vir langer as ’n paar weke wees nie.”
Wilde partytjies het my die daaropvolgende twee nagte eers ná drie toegang tot die sitkamerbank gegee. Ek het besef dit gaan geen uitsondering wees nie.
Sonder om Smiley te groet het ek my paar besittings gepak en die strate van Stellenbosch begin verken vir blyplek. Nadat ek twee nagte op ’n bank by die stasie moes slaap, het ek in die armste deel van die dorp ’n agterkamertjie te huur gekry.
Dat ek bitter was oor die manier waarop Smiley my uit die woonstel geskop het, was ’n feit. Maar ek het my nie lank daaroor verknies nie. Ons vriendskap was buitendien iets van die verlede.
Ek het Smiley nie blameer oor die opheffing van my studiegeld nie. Met sy pa se dood het die noodlot bloot ’n hou op my kennebak geplant en ek moes dit so aanvaar.