Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 13
10
ОглавлениеDie groepie boemelaars onder die brug kyk agterdogtig na Kassie en Rooi.
Kassie haal sy SAPD-ID uit en wys dit vir hulle. “Ons is van die polisie, ons is hier om oor Barnie Wolhuter met julle te praat.”
’n Man wat met ’n lepel sousbone uit ’n blik sit en eet, haal sy skouers op. “Julle moet met Boepie praat. Ons anner weet fokkol van Barnie af. Hy was nie eintlik ’n tjom van ons nie.”
“Is Boepie hier?” vra Rooi.
“Ek scheme so, maar hy slaap seker nog.”
Die man kom steunend orent, stap ’n entjie onder die brug uit en vat eers nog ’n hap van die sousboontjies. Hy skree in die rigting van die bosse: “Boepie! Bad news and good news. Die bad news is die cops is hier, die good news is hulle wil net oor Barnie chat.”
Ná ’n rukkie is daar ’n geritsel tussen die bosse. ’n Man kom uitgestap, lank en seningrig, geklee in vuil jeans en ’n verslete T-hemp waarop I don’t need Google – my wife knows everything in goue letters staan. Boepie se potsierlike ronde maag pas nie by sy skraal gestalte nie. Hy’s kaalvoet. Sy verweerde rooi gesig toon al die tekens van ’n oormaat son, wind en drank.
Hy beduie vir Kassie-hulle na ’n denneboom ’n entjie weg.
“Het een van die generaals dalk ’n sigaret vir my?” Sy oë flits van Kassie na Rooi.
Kassie gee vir hom ’n Lucky Strike. Boepie haal vuurhoutjies uit sy sak en steek die sigaret aan. “Waarmee kan ek die generaals help?”
“Ons verstaan van Barnie se vrou dat jy en Barnie vriende is,” sê Kassie.
Boepie knik terwyl hy ’n lang teug aan die Lucky vat. “Ons was.”
“Wanneer laas het jy van hom gehoor?” vra Rooi.
“Is nou al amper ’n maand, ek’t vir sy vrou gesê. Maar net gister toe dink ek daar’s tog iets wat ek vergeet het om vir haar te sê.”
Boepie sak tydsaam op sy hurke af, kyk met wasige oë om hom rond. “Barnie het vir my ’n tydjie terug gesê hy’s besig met ’n scheme. En as die scheme afkom, gaan hy in die geld rol. Hy’t van millions gepraat.”
Hy lag, een voortand ontbreek. “Hy’t nog gesê hy sal vir my en Maarman ook gee, genoeg vir ’n huis én ’n kar. Ek’t hom nie serious opgevat nie, hy was high op tik.”
“Het hy nog iets gesê oor sy scheme?” vra Kassie.
“Hy’t net gesê dis bietjie van ’n gamble, dis al. Ou Barnie was desperate vir geld. Hy was mos vroeër gewoond aan die good life, hy wou ’n comeback maak.”
“Wie’s Maarman?” vra Rooi.
“Sy tik-tjommie. Maar ek het hom ook lanklaas gesien. Hy het net altyd vir Barnie kom kry as hulle koperpype steel.” Hy lag. “Koper is die arm man se currency vir tikgeld.”
Kassie weet van al die klagtes oor koperdiefstal wat die polisie moet aanhoor. “Waar kan ons vir Maarman kry?”
Boepie haal sy skouers op. “Dié sal ek nie weet nie. Maarman is ’n drifter. Maar as ek hom raakloop, sal ek hom sê die generaals soek hom.”
Kassie haal sy visitekaartjie uit. “Sê vir Maarman hy moet my by dié nommer bel, of na die Nuweland-polisiestasie toe kom. Sê vir hom ons soek net inligting oor Barnie, ons sal hom nie in cuffs slaan omdat hy koperpype steel nie.” Hy gee vir Boepie nog ’n sigaret, wat dié dankbaar aanvaar. “En kom dadelik na ons toe as jy iets van Barnie hoor.”
Hy en Rooi loop in stilte terug motor toe.
“Hierdie scheme van Barnie pla my,” sê Kassie toe hulle by die parkeerplek kom.
Rooi knik. “Die scheme kon gebackfire het. Hy wou dalk saam met gangsters ’n plek gaan beroof en nou lê hy iewers onder die kluite.”
“En ons sal ’n saak van ’n vermiste persoon moet oopmaak . . . Ons moet Barnie se besonderhede aan al die stasies in die Kaap stuur.”
Net toe hy wil inklim, lui Rooi se selfoon. Kassie wag in die motor terwyl Rooi opgewonde buite gesels.
“Bliksis, Kassie, goeie nuus!” sê hy toe hy agter die stuurwiel inklim. “Torretjie het ’n job gekry. Sy’s vroegoggend al weg vir ’n onderhoud en hulle het haar nou net gebel en gesê sy’t dit gekry. Sommer vyfhonderd rand ’n maand meer as by haar vorige job. Sy kan môre al begin, dis by ’n winkel in die Waterfront.” Hy lag. “Nou sal my kredietkaart ook minder pyn vat.”
“Watse plek is dit?”
“Hulle verkoop Afrika-goeters.”
* * *
Theodore weet dit was ’n helse fout om saam met Carina Vosloo in die bed te klim.
Maar die hele storie het hom onverhoeds betrap. Hy’t nie kans gehad om te dink nie, sy’t hom omtrent bed toe gesleep. Die seks was wild, haar gille hard en skril. En sy het geen einde geken nie.
Vanoggend was dit ’n stryd om van haar ontslae te raak. Hy’t gelieg en gesê hy moet verskaffers by Beitbrug ontmoet.
Toe wou sy eers weet wanneer hulle mekaar weer sien.
“Wat van vanaand? Jy kan by my kom eet. Ek’s seker jy kry nooit ’n ordentlike bord kos hier in die bos nie.”
“My suster van die Kaap kom kuier. Sy bly vir ’n week en sy’s ’n uitstekende kok,” het hy onbeskaamd gelieg . . . veral oor die kok-deel. Sy suster het nog nooit haar handjies gelig om iets te maak nie.
Hy stap peinsend na sy Land Rover. Dis nie asof hy die onverwagte seks nie geniet het nie. Dis immers al ses maande vandat hy met daai jong oorsese toeris deurmekaar was. Maar hy’t hoegenaamd geen voornemens vir ’n romantiese verhouding nie, veral nie met ’n vrou vyftien jaar ouer as hy nie. Buitendien sal hy bitter gou uitgekuier raak met haar. Hulle het nie veel meer om oor te gesels as Afrika-maskers nie.
Hy sug. Die probleem is dat hy afhanklik is van haar vir sy maskers. Hy kan nie bekostig om daardie naelstring nou te knip nie.
* * *
Aanvanklik het ons vreeslik gesukkel met Afrikaans. Gelukkig het ons ’n Engelse klasmaat gehad wat dieselfde BSc-vakke as ons geloop het en wat sy notas vir ons vertaal het – natuurlik teen betaling. Verder het Smiley se pa gereël dat ons weekliks Afrikaans-lesse kry. Die meeste handboeke was darem in Engels.
Op sosiale vlak het Smiley baie vinniger as ek reggekom. Hy’s van nature ’n innemende mens en daarby ’n goeie sportman. Daar het gereeld van sy krieketspanmaats by ons woonstelletjie begin uithang. Die “vriendelike soutie van Uganda” was gou gewild by almal.
My grootste probleem was dat ek van Smiley afhanklik was vir geld. Sy pa het die geld vir ons studies, verblyf, kos en ander uitgawes in sy bankrekening inbetaal, en hy was veronderstel om my deel vir my te gee.
Maar hy het gou my geldkraantjie begin toedraai met die verskoning dat sy pa “hierdie maand minder oorbetaal het”. Hy kon egter nie vinnig genoeg vir hom ’n motorfiets koop nie, terwyl ek oral heen moes stap. Toe my enigste paar skoene se sole letterlik deurgeloop was, het hy net sy skouers opgetrek en gesê sy pa kan nie nog my skoene ook koop nie.
Ek het saans begin werk, skottelgoed gewas by ’n restaurant om aan die lewe te bly en my karige klerekas aan te vul. Dit terwyl Smiley die een partytjie ná die ander in die woonstel gehou het en drank mildelik op “ons” rekening gevloei het.
Dié situasie het die eerste ernstige krake in ons vriendskap veroorsaak . . . krake wat later van my kant af in enorme kraters sou verander.