Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 9

6

Оглавление

Hulle skuil agter ’n groot rots op ’n heuwel. Natasha laat gly haar blik stadig oor die bosveld onder hulle. Gert sien hulle eerste raak met die verkyker.

“Drie van hulle,” fluister hy, “soos ons gedink het. Een het ’n geweer.”

’n Entjie vorentoe het die leier van Sanparke se teenstropereenheid hulle ook gewaar. Hy wink sy vier makkers nader en praat in ’n fluisterstem met hulle, al is die stropers nog net spikkeltjies in die verte. Hy kyk terug en beduie vir Natasha en Gert waar hulle op die stropers gaan wag.

Die mans verdwyn koes-koes tussen die ruie bosse, op pad na die reusekremetart sowat honderd meter van waar die vyf renosters wei. Hulle moet geluidloos beweeg om die diere nie onrustig te stem nie.

Natasha hou hulle met ingehoue asem dop. Dit kan gevaarlik raak as die renosters bewus word van hulle, maar die diere wei ongestoord voort. Dit help dat die mans wind-af beweeg.

Sy en Gert het die stropers twee uur gelede uit die helikopter gesien. Die drie mans het dadelik tussen ’n klomp bosse ingeduik en Gert het volgens sy gewoonte aangevlieg om die indruk te skep dat hulle niks gewaar het nie. ’n Paar kilometer verder het hulle die renosters naby die Maritube-dam gesien. Dié groepie is duidelik die stropers se teiken – soos met die meeste stroperbendes sal een van hulle lede ’n goeie spoorsnyer wees. Gert het by Punda Maria by die teenstropereenheid se veldwagterstasie geland en hulle het in twee Land Rovers hierheen gery.

Natasha glimlag toe sy dink aan Gert se verbasing dat sy vir die operasie wil bly. Vroeër het hulle twee gewoonlik teruggekeer na die naaste kamp en daar op die teenstropereenheid gewag, maar vandag is anders. Sedert Werner Erwee die slegte nuus aan haar oorgedra het, is sy vasbeslote om die Amerikaners verkeerd te bewys. Hulle het nog drie maande tyd voordat die begroting gesny word . . . drie maande om met ’n groot deurbraak die IESA-donateurs se neuse in die grond te vryf, hulle só skuldig te laat voel dat hulle sal moet herbesin oor hul belaglike besluit.

Werner glo nie haar taktiek gaan werk nie, maar hy is van nature ’n pessimis. Hy was nooit reg vir hierdie pos as IESA-grootbaas nie. Sy het ’n leier nodig met meer passie, iemand wat bereid sal wees om met naels, tande en vuiste saam te baklei vir hul saak. Nou rus die verantwoordelikheid volledig op haar skouers.

Een van die dinge wat haar al lank kwel, is dat te veel teenstropingsoperasies skeefloop. Hoeveel keer het stroperbendes nie al ongeskonde weggekom nie? Voortaan wil sy by wees om te sien hoekom dit gebeur, sodat sy aanbevelings aan Sanparke kan doen en só op alle vlakke waarde toevoeg.

Sy neem die verkyker by Gert en bespied die drie mans. Hulle is reeds aansienlik nader en dit lyk of hulle rugsakke dra. Hulle drafstap tussen die oorhangende takke van die doringbome deur.

“Dink jy dis goed dat ons hier wegkruip? Dit gaan dalk ’n skietery afgee,” fluister Gert.

Sy kan sien hy’s ongemaklik. ’n Sweetlagie blink op sy bolip en sy ligte vel gloei van die blootstelling aan die skerp middagson. Agter die stuurstang van ’n helikopter is hy in sy element, maar die bos is nie sy bedmaat nie. Hy het voor sy huidige aftreewerk veels te lank ryk toeriste rondgevlieg en saam met hulle in luukse oorde oornag. “Ek hou maar van my luxuries,” het hy op ’n keer gebieg.

“Kruip maar hier agter die rots weg as jy bang is,” sê sy.

“Ek’s nie bang nie,” sê hy ergerlik, “maar ons twee het nie skietgoed nie. En wie sê hier’s nie leeus in die omgewing nie? Ek . . .”

Sy maak hom stil met ’n handgebaar. Deur die verkyker sien sy die stropers loop nou in formasie, sowat twintig meter uitmekaar. Dit gaan die veldwagters se taak bemoeilik om hulle te verras. Dié staan almal saamgebondel agter die kremetart. Natasha hoop net die leier is ook bewus van die wending. Daar’s nie meer tyd om hom te waarsku nie.

Die middelste stroper, wat lyk of hy die spoorsnyer is, pyl reguit op die kremetart af. Die ander twee is sowat dertig meter weg aan weerskante van hom. Natasha swets onderlangs toe die veldwagters agter die kremetart uitspring. Te gou, te bleddie gou!

Die stroper wat naaste aan hulle is, draai onmiddellik om, raak ontslae van sy rugsak en hardloop. Hy vleg soos ’n wildsbok tussen die doringbome deur. ’n Skoot klap, maar die stroper bly hardloop.

Die renosters lig hulle koppe, ore gespits. Hulle trap onrustig rond.

Die veldwagters hardloop onder luide bevele van die leier agter die voortvlugtige aan. Een sien die stroper aan die linkerkant van die formasie raak; dié probeer homself onsigbaar hou agter ’n bos. Twee veldwagters storm op hom af, maar hy glip weg, die ruigtes in.

Nog skote klap. Tot Natasha se verligting verdwyn die renosters in die teenoorgestelde rigting. Dan sien sy die derde stroper. Hy pyl reguit op haar en Gert af. Hy sien haar toe sy agter die rots orent kom en verander vinnig van koers.

Sy besef dadelik sy mikpunt is ’n klomp digte struike sewentig meter weg. Sy dink nie, sy doen net. Sy nael na die nabygeleë plaat akasias. Sy het ’n voorsprong op die stroper en die bome bied genoeg skuiling dat sy hom daar kan voorlê. In die hardloop kyk sy rond vir ’n wapen.

“Natasha, wat de fok doen jy?” dawer Gert se stem agter haar aan. “Die bliksem het ’n geweer!”

Sy steur haar nie aan hom nie, raap ’n stuk boomstomp op. Sy hardloop. Voluit. Dertig meter . . . veertig meter.

’n Doring skeur ’n stuk materiaal uit haar hempsmou, ’n brandpyn steek in haar boarm, sy struikel oor ’n klip, herwin haar balans en moet koes vir ’n oorhangende tak. Haar longe brand en haar asem jaag, maar sy dryf haarself voort, die stomp stewig in haar regterhand.

Sy bereik die groot akasia waarvoor sy gemik het, nie seker of die stroper haar gesien het nie. Dan hoor sy die geluid van sy voeteval nie ver van waar sy staan nie. Sy loer versigtig om die stam. Hy kom in haar rigting aangehardloop, die geweer in albei hande voor sy bors. Die rugsak trek hom krom en hy kyk kort-kort oor sy skouer.

Hy weet nie van haar nie, besef sy. Sy byt op haar tande, vat die stomp stywer vas.

Dan is hy by haar. Sy asem jaag, die droë gras en blare knars hard onder sy skoensole.

Hy hardloop verby die boom sonder dat hy haar sien. Sy haal hom met drie lang hale in, swaai die stomp met al haar krag en tref hom teen die agterkop. Hy struikel, maar bly op sy voete. Sy swaai weer, dié keer ’n voltreffer teen sy slaap.

Hy val met ’n kreun op die grond neer. Die geweer spat weg van hom. Sy los die stomp en duik daarna, kry die kolf beet. Sy kom blitsig orent en rig die geweer op hom.

Die stroper bly versteen sit in ’n hurkende posisie en hou sy hande in die lug, sy oogballe bultend.

Gert verskyn blasend langs haar. Sy hemp hang by sy broek uit en hy het ’n rooi skraapmerk aan sy wang. “Jissis, Natasha van der Merwe, jy’s ’n bleddie cowboy,” sê hy tussen hortende asemteue deur.

* * *

Smiley het dadelik verskoning gemaak toe ons in sy pa se kar klim. “Vicci se niggies van Engeland het kom kuier, nou kan sy nie saamkom nie.”

Ek kon sien hy lieg deur sy tande. Hy moes dit spesiaal so beplan het dat Vicci nie by is nie, want hy het ’n kans alleen met Sophia gesoek.

Ek was briesend en my aandag was onmiddellik ingestem op Sophia se lyftaal. Gaan sy val vir Smiley se sjarme? En hoe gaan ek haar aandag behou?

Ek het hom natuurlik onderskat.

Skielik was Smiley ’n Beatles-kenner. Op pad plaas toe het hulle eenstryk deur gesels oor die rewolusie wat die Beatles in die musiekwêreld gebring het. Ek het onsigbaar geraak langs die borrelende Sophia, ’n passiewe toehoorder.

Toe ons op die plaas aankom, het Smiley vertel dat sy pa spesiaal met die hoofman gereël het dat ons dié middag die stat kon besoek. “Dit sal vir Sophia ’n onvergeetlike ervaring wees,” het hy gesê terwyl hy haar tas na die kamer langs syne dra – die kamer wat altyd myne was.

Toe ek hom ’n vuil kyk gee, het hy ewe onskuldig gesê: “Jy bly in die rondawel langs die huis waar Vicci altyd naweke gebly het. My ma wil nie hê Sophia moet daar slaap nie.”

Op die smal veldpaadjie na die stat het Sophia ook nie my hand vasgehou soos ek gefantaseer het nie. Sy en Smiley het onverpoos geklets, met my wat ’n paar treë agter hulle aangedrentel het.

Die laaste deel van die paadjie was versier met piesangblare en bougainvillea-takkies. By die stat is ons deur ’n erewag ontvang en hartlik welkom geheet en na spesiale besoekerstoele gelei, waar ons plaasgeneem het langs die hoofman en ’n paar van die oudstes. Die plaaslike bier is in tradisionele kalbasse bedien en daarna het borde stomende matooke gevolg, waarvan die hoofbestanddeel fyngedrukte piesangs is. “As jy nog nie matooke geëet het nie, het jy nog nie geëet nie,” is ’n bekende gesegde van die Baganda.

Daarna het die hoofman ons welkom geheet met ’n lang toespraak in geradbraakte Engels, en onder dawerende applous is ’n kleipot as geskenk aan die stralende Sophia oorhandig.

Toe was dit tyd vir die kiganda-dans.

Die jong vroue het hul heupe en boude geskud op maat van die tromritmes en deuntjies uit selfvervaardigde kitare terwyl hulle hul bolywe doodstil gehou en bottels bier op hul koppe gebalanseer het. Sophia het gelag en bewonderend begin hande klap. Die Baganda het ook ingeval en begin sing. Soos die tromme se ritme versnel het, het die dansers se bewegings ál vinniger geword, hul lywe trillend en bewend en blinknat van die sweet. Asof hulle in ’n beswyming verval het, het die dans eers ná bykans ’n halfuur in ’n orgasmiese klimaks met banale krete en gille van die omstanders geëindig.

Ek het na Sophia langs my gekyk, maar my glimlag het op my gesig gevries. Smiley se arm was om haar skouers, haar hand op sy been, en hulle het diep in mekaar se oë gekyk, salig onbewus van my.

Pirana

Подняться наверх