Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 8
5
ОглавлениеDie laatmiddag-wintersonnetjie maak patrone op die lessenaar van kaptein Kassie Kasselman in die Nuweland-polisiestasie. Hy pak ’n paar los papiere netjies op ’n hopie en bêre ’n dossier in een van die lessenaarlaaie. Kwart voor vyf. Amper tyd om huis toe te gaan.
Sy gedagtes is nie by die sake waarmee hy tans besig is nie. Hy dink aan sy Kaapse driehoek-seëls wat nou by die wêreld-posseëluitstalling in Australië vertoon word saam met honderde ander bekende versamelaars s’n.
Hy’s gespanne oor wat die beoordelaars daarvan gaan dink. Ook oor die feit dat hy nie daar kan wees nie. Hy hou nie daarvan om van sy waardevolste seëls afstand te doen nie, en sy Kaapse driehoeke het hy nog altyd met groter forensiese sorg hanteer as moordleidrade. Hoewel hy die versekering gekry het dat daar altyd ’n wakende oog by die uitstalling gehou sal word, is dit vir hom nie genoeg gerusstelling nie. Hy sal eers weer kan ontspan as die seëls veilig terug is in sy kluis.
Sersant Rooi Els se onderlangse gebrom by die lessenaar langs syne onderbreek Kassie se gedagtes. Rooi sit kop onderstebo met ’n hoop rekeninge voor hom, die uitdrukking op sy sproetgesig een van uiterste swaarmoedigheid. Hy kyk op na Kassie en skud sy kop. “Bliksis, dis kák om ’n grootmens te wees!”
Kassie moet met moeite ’n glimlag onderdruk. Vandat Rooi twee maande gelede getrou en na ’n groter woonstel verhuis het, het die harde werklikheid van sy nuwe verantwoordelikhede behoorlik ingeskop. Die feit dat Torretjie – Rooi se troetelnaam vir sy vrou – uit haar werk bedank het omdat sy glo ’n hongerloon betaal word, dra by tot sy donker gemoed van die afgelope tyd.
“Torretjie nog nie ’n nuwe job gekry nie?” vra Kassie.
Rooi sug. “Nee, sy’s te verdomp neusoptrekkerig. Intussen moet ons oorleef op my bleddie oortrokke bankrekening.”
“En haar aftreefondsgeld? Sy’t mos redelik lank by daai maatskappy gewerk.”
Rooi snork. “Die grootste deel daarvan het gegaan vir die fokken nuwe yskas en stoof . . . en die tiewie.” Hy lyk dadelik skuldig oor sy bitsigheid. “Wel, ons moes ’n nuwe yskas en stoof kry, en my ou tiewie was so te sê moer toe.”
Die telefoon op Kassie se lessenaar lui. Hy frons. Hy’s nie lus om so kort voor tjailatyd ’n oproep te kry nie, veral omdat dit die luitoon van die stasie se skakelbord is. Dit kan net beteken daar broei iewers moeilikheid.
“Kassie, hier’s ’n vrou wat nét met jou wil praat,” sê Betta van die skakelbord.
Hy sug. “Sit haar maar deur.”
“Hallo, Kassie,” sê ’n vrouestem, “dis Maria wat praat . . . Maria Wolhuter.”
“Maria! Jinne, dis nou ’n verrassing. Ons het eeue laas gesels. Hoe gaan dit met jou . . . en ou Barnie?”
Sy huiwer ’n oomblik. “Dis juis oor hom wat ek met jou wil praat. Hy’t van die aardbol af verdwyn.”
“Verdwyn?”
“Ja . . . dis ’n lang storie. Wil jy my nie ’n vrééslike groot guns doen nie?”
“Seker, seker.”
“Jy weet mos waar ek bly – net hier om die hoek van julle stasie. Wil jy nie groot seblief ’n draai by my kom maak nie? Ek móét met iemand oor Barnie praat, vanmiddag nog. As dit natuurlik nie vir jou moeite is nie . . .”
“Glad nie moeite nie,” lieg hy. “Sien jou oor so twintig minute.”
Hy sit die gehoorbuis stadig neer. Hy’t verneem als is nie wel tussen Maria en Barnie nie. Volgens een van sy kollegas by die Bellville-stasie het Barnie al ’n hele paar jaar gelede uit hulle huis getrek.
Kassie het eintlik lankal kontak met die Wolhuters verloor. Barnie was jare gelede ’n kollega van hom in Bellville se speurafdeling en Maria was in ’n administratiewe pos daar – dis juis daar waar die twee mekaar ontmoet het. Ná Maria se pa se dood het sy ’n moerse hoop geld geërf. Sy is weg by die polisie en hulle het die groot huis in Nuweland gekoop. Barnie is ’n ruk later ook vort, het glo ’n helse betalende job losgeslaan. En dit was die laaste kontak wat hy met die Wolhuters gehad het.
Hy het nooit regtig van Barnie gehou nie. Hoewel hy ’n redelike skerp polisieman was, was Barnie maar altyd ’n regte ou windgat en het hy Maria se erfgeld alte lekker rondgestrooi in sy laaste jare by die polisie. Hy wou altyd vir sy kollegas wys hy’s ’n bietjie hoër op in die voedselketting as hulle. En toe hy die fancy job losslaan, het hy skynbaar alle bande met sy polisievriende verbreek.
Kassie kom orent, raap sy windjekker van die stoelleuning op en groet Rooi in die verbygaan. Op pad uit is sy gedagtes gou weer by Maria. Sy’s ’n dierbare mens, altyd vriendelik en bedagsaam . . . sy’t nie ’n poephol soos Barnie verdien nie.
En nou het hy verdwyn. Kassie skud sy kop. Hoe verdwyn iemand soos Barnie net?
* * *
Sophia Milton. Engelse pa, Italiaanse ma. ’n Donkerkop met uitsonderlike groen oë, ’n breë glimlag, lang bene en ’n verleidelike lyf.
Sommer op haar eerste skooldag kon ek nie vinnig genoeg tydens pouse ’n geselsie met haar aanknoop nie. Ek het opgemerk hoe Vicci doelbewus vir Smiley besig hou sodat hy nie by ons kon uitkom nie. Die ander meisies se katnaels het behoorlik uitgekom. Skielik was hier iemand wat hulle muisvaal laat lyk het.
Ek was soos ’n jong reun op hitte, my enigste doelwit om Sophia in die gees én vlees in te palm. Vir myself darem nie te onaansienlik in die spieël nie, het dit gelyk of Sophia ook so dink. Sy’t my sommer al die eerste Vrydagaand na hul huis genooi.
Ons het na haar versameling Beatles-plate geluister, musiek wat heeltemal volksvreemd was vir my ore. Ek was gewoond aan die ritmes van die plaaslike Kadongo Kamu-kitaarmusiek wat toe baie gewild was in Uganda, maar ek het saam ge-oe en ge-aa oor die Liverpool-vier. Toe ek boonop beloon is met ’n Franse soen wat my hart soos ’n Baganda-trom in my borskas laat slaan het, was Sophia nooit weer uit my gedagtes nie.
Twee weke later was ons amptelik gekys. Én het ek al die voorreg gehad om vlugtig aan haar linkerbors te vat tydens ’n Alfred Hitchcock-riller in die donker skoolsaaltjie. Dit het ek natuurlik trots aan Smiley oorvertel.
Ek kon sien hy was jaloers en dat hy gebrand het vir die kans om Sophia met sy sjarme te betower. Maar gelukkig het Vicci sy volle aandag opgeëis en die Sophia-bedreiging met desperate volharding afgeweer.
Sophia se sendelingpa was my enigste struikelblok om haar in die Bybelse sin te leer ken. Hy het soos ’n waghond oor sy mooi dogter gewaak en gereeld ontydig kom inloer waar ons op die bank in hul sitkamer luister na “A Hard Day’s Night” en “Can’t Buy Me Love”. Ons afskeidsoen by die voordeur was ook nie altyd ’n gegewe nie – haar pa was hopeloos te dikwels met sy pyp op die stoep doenig wanneer ek gegroet het.
Daarom was dit ’n wonderlike uitkoms toe Smiley my en Sophia vir ’n naweek plaas toe nooi. Vicci sal ook daar wees, het Smiley my verseker. Sophia se streng pa kon nie anders as om in te stem nie. Smiley se pa was immers die voorsitter van die skool se beheerraad, en ’n groot bydraer tot die sendingkerk se beperkte fondse.
Vir die res van die week het visioene van my en Sophia saam onder die buitestort my gedagtes oorheers.