Читать книгу Pirana - Rudie van Rensburg - Страница 3
Proloog
ОглавлениеDit het alles begin by ’n strepie wit poeier op die handspieëltjie van ’n hoer in Hanoi.
Barnie Wolhuter was dié aand onkapabel gesuip aan die plaaslike Bia hoi-bier. Helder kon hy lankal nie meer dink nie. Onder luide aanmoediging van Phan Can Dung, die ewe dronk diplomaat, het hy die spieëltjie by die hoer gegryp en die poeier in sy regterneusgat opgesnuif.
Nou sit hy hier, kaal en bewend vasgebind in ’n donker stoorkamertjie. Hy besef opnuut dáárdie onbesonne daad was die dagbreek van sy hel op aarde. Hy het sedertdien alles verloor: sy vrou, kind, huis, werk, geld, waardigheid en uiteindelik sy fokken sinne. Sy onbekookte plan om die dwelmduiwel te bly voer, gaan die ondertekening van sy eie doodsertifikaat beteken.
’n Bietjie meer as agt jaar gelede was hy nog op die kruin van die golf, toe reeds twee jaar weg by die polisie. Hy het gebaai in sy nuwe rykmansbestaan . . . Merc, Nuweland mansion, Mauritius-vakansies, platinumkredietkaart. Ook ’n stralende vrou, hul eersteling op pad. Sy sukkelbestaan as ’n speurdertjie by die SAPD was lankal vergete; hy was nou ’n stralerjakker. Uitvoere. Sy werk was boonop nie veeleisend nie, grootliks te danke aan die politieke kontakte en gladde bek van Phan Can Dung.
Barnie het eers later besef hoe naïef hy was. Eintlik onnosel. Hoekom sou iemand soos Montgomery Smith ’n eks-speurdertjie soveel betaal om sy maatskappy se uitvoere te hanteer, om bloot toe te sien dat dit veilig in Hanoi en ’n klomp ander Oosterse bestemmings aanland? En hoekom moes ’n Viëtnamese diplomaat sy hand agter die skerms vashou as dit net onskuldige Afrika-kurio’s was?
Hy het eers ’n jaar later, toe hy toevallig op ’n oop krat in die Kaapse stoor afgekom het, uitgevind wát saam met die maskers, skilde, potte, spiese en beelde verpak word. Hy het hom daardie dag bleek geskrik. Alles was meteens klokhelder. Hy was nie verniet hul frontman nie. Indien iets sou skeefloop, sou hulle hom die skuldige maak. Montgomery Smith en Phan Can Dung se invloed strek wyd, dit sou sy woord teen hulle s’n wees.
Pleks dat hy toe geskoert het. Hy en sy vrou kon landuit; hy’t toe nog genoeg geld gehad. Maar hy was te trots om aan haar te erken hy het ’n yslike gat van homself gemaak. Boonop het hy nie kans gesien om ooit weer ’n sukkelbestaan te voer nie.
’n Paar maande later het hy die strepie wit poeier in Hanoi opgesnuif. Dit het vinnig ’n gewoonte geraak, want dit was al manier om die spanning te verlig. En hy’t homself wysgemaak hy kan dit enige tyd los.
Maar die kokaïen wou hóm nie los nie . . . agt gram teen duisende rande per nag, elke liewe nag. Selfs sy reuse-salaris kon nie byhou nie. Hy het eers sy eie besittings begin verkoop, later uit desperaatheid selfs Maria se erfjuwele. Hy moes noodgedwonge afgradeer na die meer bekostigbare khat.
Dit het nie gehelp nie. Sy dwelmlus het elke beskikbare sent ingesluk. Maria het hom uit die huis geskop. Dinge by die werk het verkeerd geloop. Hy het klein foute begin maak wat Smith se moer geroer het. Hy het geweet sy uurglas daar loop vinnig leeg.
Toe hy nege maande gelede oorgeslaan het tik toe, het die laaste voerings van sy verslete lewe losgetorring. “More bang for your bucks,” het sy dwelmvriende hom verseker. Tik het hom in ’n donnerse zombie verander. Hy wou nie meer werk nie. Hy’t ’n paar maande later gedros, gedink hy kan net stilweg verdwyn . . . iewers op ’n hopie gaan vrek.
Maar niemand vrek sommer net so nie. Sy seun het daarvoor gesorg, weet hy. Ter wille van Fransie het hy nog ’n laaste poging aangewend om sy lewe om te keer. Hy het hom in ’n ander omgewing gaan vestig, tussen nuwe vriende. Hy sou weer onder begin, ’n werk soek. Só sou hy die vertroue van sy geliefdes terugwen, het hy geglo.
Dit het nooit gebeur nie. Soos sy bergiepelle het hy geld van gesteelde koperpype en skrootmetaal gebruik om sy tikverslawing te bevredig. Hy het net van dag tot dag geleef. Eintlik óórleef, want dit was ’n helbestaan.
Hy het spoedig besef hy kan nie so voortgaan nie. Toe kom hy vorendag met sy kak plan wat so skouspelagtig gebackfire het. En nou sit hy hier en wag op sy lot. Skytbang.
Hy het nie geweet van dié plek nie. Hulle het hom vanoggend hierheen gebring. Dis iewers uit op die R44, Wellington se koers. Hulle het afgedraai op ’n grondpad, toe tussen ’n laning bome deur na ’n opstal gery. Hoë elektriese heining en swaar veiligheidshekke. Hy kon net vlugtig rondkyk voor hulle hom opgesluit het. Die plek lyk soos ’n verwaarloosde kleinhoewe, met ’n paar stukke geroeste masjinerie wat verlate tussen heuphoogte gras langs ’n groot sementdam staan. Geen teken van lewe nie.
Die stoorkamertjie is vuil en bedompig. Twee oliedromme staan in die een hoek, los gereedskap, boute, moere en ’n paar vuil lappe lê gestrooi oor die stowwerige klipvloer. ’n Brommer zoem teen die klein venstertjie. Ondanks die benoude hitte bewe sy lyf onbedaarlik en klap sy tande opmekaar.
Dan hoor hy voetstappe op die gruis buite. Sy hart begin onbeheers bons en hy haal moeilik asem.
Die sinkdeur gaan oop. Montgomery Smith kom ingestap. Agter hom Graeme West, sy pispaaltjie, en natuurlik Wolf Breede. Dié het Barnie vroegoggend in die Kaap in die kar in gebliksem.
Smith lyk soos altyd. Sy wit hemp is kraakvars, die snyerspak perfek gegiet aan sy lenige liggaam, rooi sydas, skoene blink gepoets. Kompleet asof hy ’n belangrike vergadering bywoon.
Hy gluur met ’n skewe grynslag na Barnie, geel getinte sigaartande ontbloot tussen strepielippe. Dit stuur ’n rilling deur die gevangene. Hy het daardie grynslag al een keer vantevore gesien. Onheil is sy naam.
Barnie begin pleit in ’n trillende huilstem: “Asseblief, meneer Smith, gee my nog net één kans! Ek het nie bedoel wat ek gesê het nie . . . ek sweer ek sal julle nóóit weer pla nie!”
“Niemand pers my af nie.” Smith se blik is gevoelloos en koud.
Barnie draai desperaat na West. “Meneer West, ek vra mooi! Spaar my lewe!”
Maar hy weet sy pleidooi is tevergeefs. West sal dit nie waag om sy baas teë te gaan nie. Hy kyk Barnie net stil aan, wel met ’n tikkie simpatie in sy oë. Wat nie veel van ’n troos is nie.
“Laat ons klaarmaak, Wolf,” sê Smith.
Wolf maak die toue om Barnie se enkels los en ruk hom aan sy skouers regop. Met sy gewrigte nog agter sy rug vasgebind word hy by die deur uitgelei.
Hulle stap deur die lang gras na die sementdam. Barnie begin huil. Gaan hulle hom verdrink? Trane loop teen sy wange af en verdwyn in sy nek.
By die groot dam dwing Wolf hom teen die sementtrappies uit. Op die breë wal word hy sonder seremonie in die donker water gestamp.
Barnie snak na sy asem. Sy voete raak nie die bodem nie. Hy trap verbete water.
Montgomery Smith verskyn langs Wolf op die wal. Hy steek ’n sigaar aan. Hulle hou die spartelende man uitdrukkingloos dop terwyl hy kop bo water probeer hou.
Barnie voel ’n brandpyn aan sy regterkuit . . . dan sy pinkie, sy linkerdy, sy een groottoon. Met verbystering sien hy hoe die water om hom bloedrooi verkleur.