Читать книгу Versamelde werk: Sheila Cussons - Sheila Cussons - Страница 45

Die etser

Оглавление

Hy het die etse later op driftig geskeurde

lakens en linne gedruk, die ge-eikte laaglande om hom heen

al hoe meer

vir dwaalriviere, toornige berge, heksboom

en oerruimtelik genadelose vergesigte versweer.

Wêrelde ruig van bedoeling, ru, en byna altyd

huiwerig bespook deur heimlik altyd dieselfde

nietige mensfiguur;

eenmaal – skrynende nadruk op ’n eensaamheid –

sy hond ook:

Volg op ’n maannag die amper vergroeide voetpad

na daardie popelende Negatief van dooie mure

in swart lig en helwit skaduwee

waar die vleer hou en die uil en die ondinklike ding.

’n Ktoniese stilte kikker kikker kikker, likkel

die behoedsame sinne ín in die gloed van ’n swart

wat die strak asem bewerig-lam dwing –

dié donkertes wat hy besonder onder die was

toegedek het – kan swart swarter? – suisswart,

swang . . . flonkerend van glure . . .

totdat trillende wonde en lusse van wit lyne wat

weet wat skrik is, die implosiewe blik

betyds vang en verlos in ’n gerigter kyk

na buite – verswymde oë bykom, knipper en sien:

wit op swart, ’n ruïne; ruigtes; maan- of nooitlig;

en dan, die hond en die man,

twee wat dalk een is – bang hart en sy mens.

Sal die hond huil, sal die man vloek, as die stene

in die mure roer en omdraai, gate en grynse

ongeveins?

Wat het hý gesoek in sy nag alleen:

wou hy op daardie plate in die borrelende etssuur

tot op die been, tot op die laaste lag sonder lippe

laat oopvreet, laat uitpuur –

én wurg tot onontwarbare anagram?

Want hy het verkén wat hy vermom

het – ín hom die verslete senuwee

lewendig uitgerafel tot ariadnedrade

vir ’n wrang moed se speurtog deur ’n wrang nood . . .

En in dié donkertes wat Rembrandt bewonder

het, die so besonder versigtig onder die was

afgedekte – watter laaste heldersien het hy daar

na alles, swart toegevee?

Soms sou die wyn gehelp het; vir die klippe

wat skater, vir die onverdryfbare koue van ’n voorbode

êrens in knope en wronge

van sy etsnaald se onnaspeurlike weë

lank reeds saam met hom dood.

Miskien het hy niks geweet wat die wêreld nie weet nie;

maar dat koper en staal en ets-ink, én lyding –

geslepe genie – dit so kon getaal het, dit is

besonder.

Versamelde werk: Sheila Cussons

Подняться наверх