Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 11

8 Januarie

Оглавление

Johannes 21:1–9

Christus op my lewenstrand

Toe dit al lig was, het Jesus daar op die strand gestaan, maar die dissipels het nie geweet dat dit Hy is nie. – Joh 21:4

~

Die dissipels het die hele nag hard maar vrugteloos gewerk. Teen dagbreek nader hulle moedeloos die strand. Toe verskyn Jesus aan hulle om ’n nag van wanhoop te omskep in ’n nuwe dag van hoop en blye verwagting.

“Mense, het julle nie iets gevang om te eet nie?” Hy weet van die skynbaar vrugtelose pogings; van die onvervulde drome; van die diepste verlangens in die hart. Hy wag net dat jy dit aan hom moet bely. Die Here lei hulle uit hul mislukking na sukses: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” As die Here van jou ’n koersaanpassing vereis, sal gehoor­saamheid uitloop op sukses. Jy durf jou nie blind staar teen jou mislukkings nie.

Met Jesus op jou lewenstrand kry jy nuwe krag. Hy sê vir sy dissipels: “Kom eet.” God voorsien wat jy nodig het om te kan voortgaan. Soos vir Elia onder die besembos op moedverloor se vlakte, roep Hy jou ook toe: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word!” Die Here verwag nie van jou om ’n taak te verrig waarvoor Hy jou nie toerus en versterk nie.

Here, dankie dat U aan my verskyn op die toneel van my teleurstelling en mislukking om my weer te besiel met nuwe moed vir die taak wat U my gee.

Kies die lewe

Подняться наверх