Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 16

13 Januarie

Оглавление

Spreuke 3:1–10

Beplanning saam met God

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. – Spr 3:5–6

~

’n Mens kan net vir vandag lewe, of jy kan jou onmiddellike behoeftes ignoreer en slegs vir die toekoms beplan. Albei metodes is ewe dwaas.

Om na te laat om die teenwoordige konstruktief te benut, is om geleenthede mis te loop. Baie mense droom grootse drome oor die toekoms, maar vergeet dat die fondamente van toekomstige geluk in die hede lê.

Gelukkig is die mens wat vergesigte het oor wat hy wil bereik en hom voorberei daarop deur die noodsaaklike, alledaagse en voor die hand liggende taak vandag te doen.

Christus is nie net in die hede saam met jou nie – Hy is ook in jou toekoms. Hy sien jou totale lewe. Hierdie waarheid behoort jou aan te spoor om jou lewe so te beplan dat dit te alle tye in harmonie is met sy heilige wil.

Om saam met God te beplan, beteken om dikwels die oninteressante taak te verrig sonder om onmiddellik vrugte daarop te sien. Maar ook daarin is God besig om sy doel met jou lewe te bereik.

Soms is dit moeilik om God se plan met jou lewe te ken. Veral dan moet jy te alle tye getrou en oplettend wees vir enige deur wat Hy vir jou wil oopmaak.

Meester, ek aanvaar u Koningskap oor my hele lewe en vra dat U my elke dag bewus sal maak van u leiding.

Kies die lewe

Подняться наверх