Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 4

1 Januarie

Оглавление

Deuteronomium 30:11–20

Kies die lewe!

Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. – Deut 30:19

~

Baie mense het die vermoë verloor om sinvol te lewe. Hulle voer van dag tot dag ’n sleurbestaan. Daar is geen opwindende toekomsverwagting meer nie – die hoop en die vreugde om te strewe na ’n geestelike ideaal het gesterwe.

Maar Christus het belowe: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Ons het deur sy verdienste die genade ontvang om vol en ryk te lewe; om liefde te gee; om skeppend te bestaan; om deur groei nuwe dimensies van die gees te ontdek en deur geesteskrag van die wêreld ’n beter plek te maak.

Om Christus te kies, is om die lewe te kies. Hy omskep die alledaagsheid van ’n kleurlose bestaan in bruisende lewe en die lewe word in Hom ’n opwindende avontuur.

Christus is die wesenlike verskil – Hy maak alles nuut. Hy is die Gewer van die oorvloedige lewe. Hy leer jou om só te lewe dat jy vry word van ’n doellose bestaan en op jou beurt weer ’n geur versprei wat lewe wek.

Here, leer my om só te lewe dat elke dag sinvol sal wees, dat ek die oorvloed kan ken van ’n lewe – die lewe wat ek in Christus gekies het – tot u eer alleen.

Kies die lewe

Подняться наверх