Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 6

3 Januarie

Оглавление

Matteus 28:16–20

Hy is altyd by jou

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. – Matt 28:20

~

Die lewe vereis soms van ons om aanpassings te maak. Een van die moei­likste aanpassings om te maak, is wanneer die kring van be­kendes en geliefdes kleiner word namate hulle die een na die ander wegval en jy omring word deur afsydige onbekendes. “Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde” (Pred 1:4).

Jy moet daarteen waak om morbied en bitter te word, of in selfbejamme­ring te versink. Om in jou eensaamheid te kan aanpas by ’n nuwe tydvak, vereis van jou groot verdraagsaamheid, veral teenoor die nuwe geslag. Gun aan hulle die geleenthede wat jy gehad het, waardeer hul doelgerigtheid, hul eer­like bedoelings en hul ywer vir dit waarin hulle glo.

Versoen jou met die feit dat dit wat wás, tot die verlede behoort en alleen van waarde is as dit in die hede dien om die toekoms te besiel. Vertroetel jou mooi herinnerings, maar moenie toelaat dat dit jou aan die verlede vasketting nie.

Daar is tog waardes wat nooit verander nie: geloof, hoop, liefde en bo alles, Jesus Christus, wat altyd dieselfde is, tot in alle ewigheid. In dié wete, kry jy die krag om by enige omstandigheid aan te pas en nog tot sy eer te leef.

Onveranderlike God en Vader, ek dank U vir al die mooi herinnerings wat U my gun. Maar ek vertrou ook op U vir die onbekende toekoms.

Kies die lewe

Подняться наверх