Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 17

14 Januarie

Оглавление

Psalm 28:1–9

Die krag van gebed

Aan die Here kom die lof toe, want Hy het my smeekstem gehoor. Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou. – Ps 28:6–7

~

Ten spyte van die ongeloof en sinisme van die moderne eeu, verrig God nog steeds wonderwerke. Elke keer as iemand in antwoord op gebed gesond word, het God ’n wonderwerk in die kleine verrig.

Elke keer as jy ná ’n tyd van spanning vrede in jou hart ondervind; wanneer jou droefheid of beproewing draaglik word en selfs omskep word in jubelende vreugde – dan het ’n wonder gebeur.

Baie mense bid tot God wanneer hulle in ’n krisissituasie verkeer, maar wanneer die krisis verby is, vergeet hulle dat hulle gebid het en dat God verhoor het.

Baie hedendaagse Christene kan eerstehands getuig dat wonderwerke gebeur het in antwoord op gelowige gebed. Lewens is hervorm; siekte is genees; afbrekende gewoontes is oorwin; verdraaide menslike verhoudings is herstel. Talle mense het ervaar dat God leiding skenk wanneer Hy daarom gevra word.

Oorhandig dan in die gebed jou probleme aan God en wag gelowig op Hom. Indien daar iets is wat jy self moet doen, doen dit sonder uitstel. Moet net nie in jou uiterste nood deur wanhoop oorweldig word nie. Op die regte tyd en volgens sy alwyse wil sal God jou gebede beantwoord en jy sal in verwondering en aanbidding staan oor die uitkoms.

My God en hemelse Vader, ek weet dat U magtig is om te doen ver bo wat ek kan bid of dink. Laat hierdie heerlike waarheid my elke dag lei.

Kies die lewe

Подняться наверх