Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 12

9 Januarie

Оглавление

1 Timoteus 6:6–21

Reik na goud!

In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. – 1 Tim 6:12

~

“Reik na Goud” was die leuse van die Amerikaanse span by die Olimpiese Spele van 1984. Net die beste sou vir hulle goed ge­noeg wees.

Elke mens het die begeerte om sukses te bereik. Niemand wil graag misluk nie. Waarom is daar dan soveel wat misluk?

Dis verbasend hoeveel mense sonder ’n lewensdoel voortdryf. Omdat hulle niks van die lewe verwag nie, gee die lewe aan hulle niks terug nie.

Daar is ook mense wat mooi ideale koester, maar wat van meet af hulself daarvan oortuig dat hulle dit nie kan bereik nie. Hulle kla dan later dat hulle nooit die geleentheid gehad het nie, terwyl hulle in werklikheid net nie volhard het nie.

Sukses is nie om ’n brandende ambisie te bereik nie; dit is eerder ’n diepe bevrediging in die strewe na ’n waardige doel. Daar is mense wat alles bereik het wat die wêreld hulle kan bied, maar tog diep ongelukkig is, omdat hulle soek na iets wat aardse skatte hulle nie kan gee nie.

Daarom wys Paulus vir Timoteus op “die goeie stryd van die geloof” en die ideaal van “die ewige lewe” – dit is die goud van die lewe. Stel gedurig jou mikpunt vorentoe en opwaarts, sodat jy ’n geestelike peil kan bereik waar jy só totaal aan God oorgegee is, dat Hy sy doel met jou lewe kan bereik.

Ek dank U, my Verlosser, dat my sukses nie van die wêreld afhang nie, maar van die mate waarin ek my aan u Heilige Gees oorgee.

Kies die lewe

Подняться наверх