Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 13

10 Januarie

Оглавление

Hebreërs 13:7–19

Met Christus die toekoms in

Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. – Heb 13:8

~

Die onveranderlike Christus bring stabiliteit in die lewe van sy kinders. Dit gebeur selde dat die lewe glad en sonder probleme verloop. Soms gaan alles goed; dan skielik, sonder enige verklaarbare rede, duik pro­bleme op.

Die een oomblik ry jy op die hoogtes van uitbundige blydskap en net die volgende oomblik strompel jy deur die donker vallei van wanhoop.

Jy wissel gedurig tussen die pole van hoop en wanhoop; van vreugde en droefheid. Daarom het jy ’n stabiliserende invloed in jou lewe nodig – die le­wende Christus.

Christus is ewig en Hy verander nooit nie. A1 is ’n mens temperamenteel en al wissel jou gevoelens volgens die omstandighede waarin jy verkeer, ondervind jy ’n ongekende standvastigheid wanneer Christus die Koning en Here van jou lewe is en sy Heilige Gees in jou woon.

Jy word nie meer deur elke stormwind rondgeslinger nie. Daarmee saam kom ’n lewensvreugde só groot dat dit nie onder woorde gebring kan word nie. Aan sy liefdevolle hand gaan jy die toekoms moedig en selfversekerd tegemoet.

Heilige Meester, ek aanvaar in die geloof u Gees in my lewe. Ek wil graag volgens u wil lewe, sodat ek vastigheid in my lewe kan hê.

Kies die lewe

Подняться наверх