Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 22

19 Januarie

Оглавление

Efesiërs 3:14–21

’n Heerlike waarheid

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word. – Ef 3:16

~

Die rykdom wat ’n lewe in God bied, oortref jou wildste verwagtings. Wanneer jy voel dat jy tot oorlopens toe vervul is met sy liefde, vrede en krag, krap jy nog maar aan die oppervlakte van die goudaar van sy genade.

Die enigste ding wat jou kan weerhou van ’n ryker ervaring met God, is jou eie onvermoë om dit te ontvang. Die grootste gawe wat jy van God kan ontvang is ’n steeds groeiende hunkering na Hom. Dit klink soos ’n teenstelling: as jy God ken, ervaar jy sy volheid, en juis in hierdie vervulling setel die begeerte om Hom steeds beter en meer intiem te ken. Dit is wat die Gees van God in jou lewe doen.

Dit is nie maar net ’n vlietende emosie wat op jou neerdaal wanneer jy godsdienstig voel nie. Dit is ’n konkrete daad van geloof in die krag van die inwonende Gees van Christus juis wanneer dit voel asof die lewe dreig om uitmekaar te val.

Jy moet jouself gedurig daaraan herinner: “Christus leef deur sy Gees in my!” Mettertyd sal jy volkome sekerheid hê en vanuit sy krag leef. Daar lê jou innerlike krag en sterkte. Loof die Here daarvoor.

Hoe sal ek U ooit genoeg kan dank, Here, dat u Gees in my kom woon het. Gee dat ek dit sal laat blyk in die omstandighede waarin ek leef en werk.

Kies die lewe

Подняться наверх