Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 33

30 Januarie

Оглавление

Matteus 6:24–34

Eers die wil van God!

Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. – Matt 6:33

~

Sommige mense maak hulself diep ongelukkig omdat hulle so gretig is om al die foute van die hele wêreld te wil regstel. Hulle glo dat hul oortuigings die oplossing is vir al die siektes van ons tyd. In hul entoesiasme vergeet hulle dat onvolmaaktheid deel is van die mens se sondige natuur.

Dit is onmoontlik om ’n nuwe wêreld sonder nuwe mense te skep. Dit help ook nie om eers ánder te probeer hervorm nie. Die beste hervorming en ge­nesing begin by jouself. Trek ’n sirkel voor jou bed, kniel daarbinne en bid God om binne daardie sirkel te begin hervorm.

Dis moeilik om dié waarheid onder oë te sien, maar voordat jou eie innerlike lewe in harmonie met God is, is dit onmoontlik om ander mense te hervorm. Jesus moet eers koning van jou hart en lewe word, dan sal dit in jou lewe en karakter geopenbaar word en uitkring na ander mense. Jy moet in jou persoonlike lewe aanhou streef na volmaaktheid, al skiet jy dikwels tekort.

Jy mag nooit agter die onvolmaaktheid van die menslike natuur skuil nie. Die ideaal van volmaaktheid moet steeds lewend gehou word.

Laat eers die koninkryk van God in jou lewe ’n werklikheid word en streef na volmaaktheid voordat jy die onvolmaaktheid van die wêreld probeer reg­stel. Nie in eie krag nie, maar deur die genade van Jesus Christus alleen kan jy in jou doel slaag.

Here, ek plaas U in die sentrum van my lewe met die wete dat ek dan alle ander dinge in die regte perspektief sal sien. Ek dank U vir krag tot oorwinning.

Kies die lewe

Подняться наверх