Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 32

29 Januarie

Оглавление

Josua 1:1–9

’n Resep vir vreeslose wandel

Ek self gee jou die opdrag. Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan. – Jos 1:9

~

Josua word geroep om God se volk ’n onbekende land binne te lei en dit in sy Naam in besit te neem. God belowe hom sy bystand.

Voor jou lê ’n onbekende nuwe jaar, dis ’n onbekende pad en daar is moontlik baie huiwering in jou hart. Vir sommige sal dit tye van swaarkry bring, vir ander tye van vreugde. Ondervinding het geleer dat die jaar ’n bietjie van albei inhou: die goeie én die slegte.

Baie van ons sal op die bergspits van heerlike ervarings verkeer; op die kruin van die golf van geluk en voorspoed. Moontlik sal ons die wanhoop van die donker dieptes ken wanneer ons die donker vallei moet deurwandel. Soos die jaar ontvou sal ons waarskynlik sowel vreugde as smart ervaar.

Ons moet weet wat ons kan doen om die situasies te hanteer wat ons gaan beleef. Alleen op dié wyse sal ons die toekoms met vertroue kan binnegaan.

Daar is maar net één seker manier om die toekoms vreesloos in te gaan: Ons moet elke dag in die teenwoordigheid van die opgestane Here leef. Ons moet ons elke dag aan Hom oorgee, onsself aan Hom toewy; sy pad vir ons lewe soek en dit in volkome gehoorsaamheid bewandel.

As jy dit doen, sal jy nie die toekoms vrees nie en jy sal die lewe met vertroue tegemoetgaan in die krag en vrede van God, jou Vader.

Here, lei my met u lig deur aardse duisternis. Maak my gewillig en gehoorsaam om tree vir tree gelowig te volg.

Kies die lewe

Подняться наверх