Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 31

28 Januarie

Оглавление

Psalm 32:1–11

God het ’n pad

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raadgee en my oog oor jou hou. – Ps 32:8

~

God het reëls neergelê wat jou lewe moet beheers. As gehoorsame kind van God moet jy daarna streef om aan God se hand volgens die le­wensreëls wat Hy in sy Woord bepaal het, te wandel.

God is ’n God van orde en nie van chaos nie. Die verwarring van die mensdom vandag is die direkte gevolg van ongehoorsaamheid aan God se wette. Wanneer jy jouself volkome in God se hande plaas en sy wil vir jou lewe soek, sal jy ontdek dat jou geestelike lewe in diepte en stabiliteit toeneem. Jou plig is om hiertoe deur Bybelstudie, gebed en bepeinsing mee te werk.

Geleidelik leer jy God beter ken en laat jy Hom toe om jou lewe steeds meer te beheer sodat sy wil in jou lewe duidelik kan word. Dan loop jy op die pad wat Hy vir jou uitgestip het.

Aanvanklik mag God se doel nie so duidelik wees nie en jy sal in die geloof moet voortwandel. Aanvaar jy egter onwrikbaar die heerskappy en leiding van jou hemelse Vader, sal jy die toekoms met onbegrensde vertroue tegemoetgaan. Jy sal sterk staan in die oortuiging dat God jou lei en oor jou waak.

Liefdevolle God en Vader, leer my u wil vir my lewe ken, sodat ek gehoorsaam en blymoedig u pad kan bewandel.

Kies die lewe

Подняться наверх