Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 34

31 Januarie

Оглавление

1 Tessalonisense 5:12–28

Groet die dag met dankbaarheid

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. – 1 Tess 5:18

~

Dit is van die uiterste belang dat ’n Christen ’n positiewe gesindheid teenoor die lewe sal hê. Daar is egter baie faktore wat daartoe kan bydra dat ’n mens met ’n negatiewe oog na die lewe kyk.

Gebrek aan genoeg liggaamlike rus kan jou geïrriteerd maak en jou hele le­wensbeeld verwring. Swak gesondheid kan jou so beïnvloed dat dit vir ander moeilik word om met jou saam te leef. Aan die ander kant is daar talle invalides wat ’n pragtige voorbeeld stel vir almal met wie hulle in aanraking kom.

Jou gesindheid teenoor die lewe is van deurslaggewende belang vir jouself en vir hulle met wie jy saamleef. Die regte lewenshouding is nie maar vanselfsprekend nie. As jy soggens wakker word, is jy die prooi van jou emosies. As jy sleg geslaap het, kyk jy met weersin na die nuwe dag en begin mor en kla voordat jou voete die vloer geraak het.

Dit is noodsaaklik dat jy positiewe beheer oor jou gedagtes en emosies sal neem vanaf die oomblik dat jy wakker word. Dank God vir die heerlike voorreg om ’n nuwe dag te kan begin. Bepeins bewustelik daardie seëninge uit sy hand wat jy as vanselfsprekend begin aanvaar het: jou huis; jou geliefdes; jou werk; jou vriende en die talle dinge waarvoor jy God kan dank. Tel jou seëninge en noem hulle met ’n blye hart voor God.

Wanneer jy dankbaar is, kan jy nie anders as om die dag met ware vreugde en vrede binne te gaan nie.

Liefdevolle Vader, skenk aan my die begeerte en die wysheid om elke dag met ’n dankbare hart te begin. Deur Jesus Christus, my Verlosser bid ek dit.

Kies die lewe

Подняться наверх