Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 24

21 Januarie

Оглавление

Jakobus 1:19–27

’n Gewillige oor

[…] dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister. – Jak 1:19

~

’n Wyse man het gesê: “’n Mens het twéé ore en één mond sodat jy twee maal soveel moet luister as wat jy praat.” Die meeste mense vind dit makliker om te praat as om te luister. Hulle voel verleë in oomblikke van stilte en probeer dit met niksseggende woorde te vul. As ons nie mekaar se stiltes verstaan nie, sal ons ook nie mekaar se woorde verstaan nie.

Die Skrif leer ons dat daar ’n tyd is om te praat en ’n tyd om stil te bly. Om die fyn ewewig hiervan te ontdek en toe te pas, is ware wysheid. Om maar net stil te wees, is nutteloos. Ons moet konstruktief stil wees en dit beteken om intelligent en begrypend te kan luister.

Dit geld veral in ons verhouding met God. Gebed is nie ’n monoloog van my kant nie. Ek moet leer om na God te luister sodat my gebed ’n opheffende en besielende tweegesprek tussen my en my God word. As jy die vermoë ont­wikkel om in die stilte na God te luister, sal jou innerlike oor sy stem opvang en jy sal gereeld en met verwagting pleit: “Praat, Here, u dienaar luister” (1 Sam 3:10). Sy wil vir jou lewe sal duidelik word en jy sal meer en meer gevoelig word vir sy stem. Met God in die stilte, hoor ’n mens wonderlike dinge, as jy maar net gewillig is om te luister.

Here, dankie vir u Heilige Gees wat my leer om te luister. Laat my u stem herken wanneer ek U in die stilte ontmoet en laat die luister na U my hoogste vreugde wees.

Kies die lewe

Подняться наверх