Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 39

4 Februarie

Оглавление

Psalm 90:1–17

Leef een dag op ’n slag

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. – Ps 90:12

~

Gister is ’n herinnering wat ons nooit weer kan terugbring nie; môre is ’n belofte waarvan ons die inhoud nie ken nie. A1 wat ons wesenlik besit is vandag.

Oor gister mag ons ons nie bekommer nie. Ons moet saam met Paulus die dinge wat agter is, vergeet. Gister met sy foute en bekommernisse, sy mislukkings en teleurstellings, sy droefheid en smart, hoort nou eenmaal tot die verlede. Dit is vir ewig verby. Om te probeer om in die verlede te lewe is selfvernietigende dwaasheid.

Oor môre mag ons ons ook nie bekommer nie. Môre is in die hand van God. Daar is miskien laste, beproewings, droefheid en pyn, maar wanneer die tyd kom, sal God ons die krag gee om dit te hanteer. Môre sal die son in glorie verrys – al is dit half agter onheilswolke verskuil. Totdat dit gebeur, het ons geen reg daarop nie, want dit is ongebore.

Vandag is al wat oorbly. Geen mens kán meer as een dag op ’n slag hanteer nie. Dit is nie die ervarings van vandag wat mense knak nie: dit is die selfverwyt en berou, die bitterheid van dinge wat gister gebeur het of die vrees vir môre wat ons verrinneweer. Wanneer ons die ondraaglike laste van gister en môre by vandag voeg, vou ons dubbel onder die juk.

Skenk my u genade, o Here, net vir vandag. Ek begeer nie om verder te sien nie – tree vir tree wil ek op die pad gaan wat U vir my berei het.

Kies die lewe

Подняться наверх