Читать книгу Kies die lewe - Solly Ozrovech - Страница 23

20 Januarie

Оглавление

Psalm 8:1–10

Selfvertroue

U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon. – Ps 8:6

~

Die Bybel leer op baie plekke dat hoogmoed en verwaandheid voor God sonde is. Maar ’n mens kan ook na die ander kant toe sondig: jy kan te min van jouself dink. Jy vergelyk jouself so maklik met ander en dink: Ek is nie só slim nie; ek is nie só sterk nie – of só mooi, só begaafd soos daardie persoon nie.

Sonder selfvertroue kan geen mens positief en konstruktief leef nie. Jy kan nie jou Godgewilde taak uitvoer nie.

Dink maar aan Josua wat, ná Moses se dood, die byna bomenslike taak gekry het om God se volk te lei. Hoe sou hy die volk kon aanvoer as hy hom gedurig met sy voorganger, die imposante Moses, vergelyk het? Hoe sou hy die volk die beloofde land kon inlei as hy net altyd gedink het: Ek is nie so ’n groot figuur soos Moses nie. Hy was ’n leier, ’n profeet, ’n Godsman soos daar nog nie vóór of ná hom was nie. Hoe kan ek, Josua, in sy skoene staan?

Maar God het hom gedurig aangemoedig: Wees jy net sterk en vol moed …

Dit moet vir enige mens rede tot selfvertroue wees – nie omdat hy dink hy is so besonders nie, maar omdat hy glo dat God self sy taak aan hom gegee het. Daarmee saam gee Hy ook die krag en die moed en die selfvertroue om dit uit te voer: “Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie” (Ps 18:30).

Barmhartige Vader, wys my deur u Heilige Gees wat my taak is en gee my in genade die vertroue om dit tot u eer uit te voer.

Kies die lewe

Подняться наверх